VLV leer van diabetes

 

VLV leer van diabetes

Posted by VLV in Murraysburg Tak 10 Sep 2014

Sirkel:  Noord-Karoo

Tak:  Murraysburg

Portefeulje:  Gesondheid en Landbou

Beriggewer:  Mette Kromhout

Datum:  10 September 2014

 

 

Ten aanvang van die Septembervergadering het Renée Swanepoel vanuit Engeland d.m.v. Skype verslag oor die onlangse kongres gedoen.  Daarna het Elana Grobler die lede omtrent diabetes ingelig.  Ongeveer 90% van alle diabete het tipe 2 diabetes, waar die liggaam weerstandig teen eie insulien word en dus te veel insulien vervaardig.  Dit kom meestal by ouer persone voor.

 

 

Grobler het op die tipe 1-diabetes konsentreer.  Dit kom veral by jong mense en kinders voor wanneer die liggaam min of geen insulien vervaardig nie.  Een van die belangrikste aanduidings is oormatige moegheid.  Dié siekte kan oorerflik wees of deur kosallergieë (veral melk en koring) veroorsaak word.  Soms, wanneer die liggaam ‘n virusinfeksie beveg, word eie selle aangeval en ontstaan diabetes 1.  Skok kan ook tot diabetes 1 lei.

 

 

Wanneer die suikervlak onder 4 daal, voel die pasiënt baie sleg en bewerig.  Daar moet verhoed word dat die pasiënt in ‘n koma verval deur hom so vinnig moontlik koolhidrate soos ‘n halwe glas koeldrank, 3 teelepels suiker of 5 Super C’s  te laat inneem.  Indien die suikervlakke nie beheer word nie kan dit swak bloedsomloop, verswakte sig, nierversaking, en die beskadiging van are, gewrigte en selfs die brein veroorsaak.

 

 

Tipe 1 –diabete tel die koolhidrate en suikers wat hulle inneem.  Etikette op kosprodukte dui koolhidrate aan, waaronder ook suiker. Dit is die maklikste om produkte uit pakkies of blikkies te gebruik aangesien die hoeveelhede reeds uitgewerk is.

 

 

Daar is drie maniere om diabetes 1 te behandel.  Die bekendste is die inspuiting wat die pasiënt vir homself kan toedien.  Daar is ook ‘n insulienpen en die insulienpompie.  Dit dien insulien outomaties volgens die glukoselesing wat elke 5 minute ontvang word, toe.  Beide die sensor en die pompie word op die maag bevestig en kan vir ‘n beperkte tyd daar bly.

 

 

Ter afsluiting van die vergadering het Grobler die geluide van 14 voëls een-een vir die vergadering gespeel en moes die dames dit uitken.  Alhoewel baie van die lede op plase woon, moes hulle hulle koppe in skaamte laat sak toe ‘n jong dorpsinwoner, Erika Grebe, hulle almal uitstof en volpunte behaal!

 

 

Soos gebruiklik op Murraysburg was die vergadering nie net leersaam nie, maar ook groot pret.

 

Post a comment

20 − 6 =