VLV-lede leer smok

 

VLV-lede leer smok

Posted by VLV in Danielskuil, Kuruman Tak, News 28 Jul 2019

Sirkels: Kalahari en Griekwaland-Wes

Takke: Kuruman en Danielskuil

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Hettie Krüger

Datum: 27 Julie 2019

 

VLV-lede leer smok

 

Plaaslike modeontwerper, Magriet van Zyl van Glitzy Glam, het op Saterdae 13, 20 en 27 Julie 2019 ‘n smokkursus by JAMSS Arts, Crafts & Coffee Shop in Kuruman aangebied. Magriet van Zyl het aan ‘n smokgilde in Gauteng behoort toe sy nog daar gewoon het. Sy woon tans op ‘n plaas tussen Kuruman, Danielskuil en Reivilo.

 

Aanbieder van die smokkursus, modeontwerper, Magriet van Zyl, wys ‘n voorbeeld van ‘n gesmokte rokkie wat sy gemaak het.

 

Vyf lede van die VLV-tak op Kuruman (Sirkel Kalahari) en een van die splinternuwe tak op Danielskuil (Sirkel Griekwaland-Wes), het die kursus bygewoon.

 

Voor, sittende: Modeontwerper Magriet van Zyl wat die kursus aangebied het, met ‘n geraamde voorbeeld van ‘n smokrokkie. Middel vlnr: Sarie Leyden (VLV Kuruman), Fransie Scanlen (VLV Kuruman) en Hettie Krüger (VLV Danielskuil). Agter: Arina Beukes (VLV Kuruman) en Liza Burger (VLV Kuruman). Inlas: Zelda Lombaard (VLV Kuruman) was ongelukkig afwesig tydens die neem van die foto.

 

Gedurende die 19de eeu is die “smok”, ‘n los oortrekhemp, deur die Engelse boerebevolking gedra. Dit is versier met ingeplooide borduurwerk.

Smokwerk is die wisselafdeling vir Vroue Landbouvereniging van Kaapland se kompetisies vir 2020. Die tema is Kleurvol – In die kol en dames word uitgedaag om ‘n gesmokte sonrokkie vir ‘n kleuter (3 tot 5 jaar) te maak.

Die effense rekbaarheid van smokwerk maak dit ideaal vir kinderklere, omdat dit die kledingstuk toelaat om saam met die kind te beweeg. Die doel van die wisselafdeling is om aandag te gee aan ‘n kunsvorm van historiese waarde, om dit weer te laat herleef.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liza Burger het besluit op ‘n sagte denim materiaal en helderkleurige borduurgare.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Met die eerste klas op Saterdag 13 Julie 2019, het die dames almal saam Naald in ‘n Hooimied in Kuruman besoek om die geskikte tekstielstof, naalde, gare en borduurgare te bekom. Sagte, gladde, wasbare en kreukeltrae tekstielstowwe van ligte of medium gewig word deur die VLVK aanbeveel. Smokwerk word met stringkatoen of DMC nommer 8 en nommer 12 gedoen. Kant en lint mag ook gebruik word om die rokkie te versier.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Zelda Lombaard en Arina Beukes bekyk ‘n gesmokte rokkie tydens die kursus.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Na hul besoek aan Naald in ‘n Hooimied, het die dames na JAMSS verskuif, waar hulle na voorbeelde van gesmokte rokkies gekyk het. Hulle het geleer hoe om ‘n sonrokkie volgens die breedte van die tekstielstof te sny.

 

Magriet van Zyl wys hoe om ‘n sonrokkie volgens die breedte van die tekstielstof te sny.

 

Magriet van Zyl het ook gedemonstreer hoe ‘n smokmasjien werk, waar tien of meer naalde in ‘n ry geplaas word, sodat dit gelyktydig deur die masjien ingeryg kan word. Vir die kompetisie moet die dames ten minste 10cm om die bolyfie van beide die voor- en agterpante smok.

 

 ‘n Demonstrasie van hoe die smokmasjien gelyktydig met ‘n klomp verskillende naalde inryg.

 

Die rygplooitjies staan bekend as buise. Die inplooi van die tekstielstof vorm die basis. Jy ryg jou lappie in met die smokmasjien in soveel rye as wat die steekdiagram voorstel, maar dit is raadsaam om twee ekstra rye in te ryg, sodat jy jou housteek nie op die heel eerste ry hoef te werk nie. Dit is net makliker. Die eerste ry vorm dan deel van die naattoelating bo. Tussen-in rye kan dalk in ‘n ander kleur geryg word.

 

Aan die agterkant van jou lappie, haal jy die rygsdrade heel uit die materiaal uit vir die breedte van die naattoelating in die synate. Meet die breedte wat die klaar gesmokte rokkie moet wees en knoop die rygsdrade vas aan mekaar. As die voorpant bv 26cm breed moet wees, moet 26cm ingeryg wees en die stukkies vir die naattoelating moet weerskante daarvan plat en oningeryg wees.

 

Draai die lappie na die regte kant toe om en versprei die plooitjies so eweredig as moontlik. Tel dan die buise en merk met ‘n koppiespeld die bokant van die middelste buis. Die “heuweltjie” se top. ‘n Wenk om die buise te tel is om van weerskante af groepies van 20 te tel en met koppiespelde te merk. Die rede waarom daar van die middel af gewerk word, is sodat die borduurgare nie so vinnig “moeg” raak nie.

 

Om die borduurgare voor te berei, meet jy die ingerygde stukkie maal vier, plus ‘n bietjie vir liefde, en as jy ‘n steek werk wat jy weet meer gare gebruik, kan jy nog meer gebruik. As jy stringkatoen gebruik, hou die punte almal in een rigting. Dit help baie as jy dit op ‘n handdoek neersit, sodat dit nie rondskuif of af van die tafel af gly nie. Trek een-een string garing op ‘n slag uit, hou dit regop aan die punt (maak seker jy hou die regte punt bo), dat dit afwaarts hang en afwen, voordat jy dit op die handdoek neersit. Vat dan twee of drie van die stringe gare saam en sit hulle deur die naald. Kry die middel van die gare, sonder om te vergeet watter punt “voor” is. Die naald word dan van agter deur die middelste buis gesteek, ‘n derde van bo af, aan die linkerkant van die plooitjie deur. Trek die helfte van die gare deur na voor en los die ander helfte agter.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Sarie Leyden maak seker dat sy genoeg borduurgare vir die volgende ry afmeet.

 

 

 

 

 

 

 

 

Met die tweede les op Saterdag 20 Julie 2019, het die dames ‘n paar verskillende steke geleer. Wanneer jy borduur, moet jou naalde altyd horisontaal, presies in lyn met die rygsdrade wees. Let daarop dat jou naald altyd so lê, maak nie saak watter steek jy werk nie. Die steke word ook altyd van regs na links gewerk. Jou totale borduurwerk beweeg dus na die regterkant toe. As jy op die punt kom, draai jy die lappie om en werk dan weer van die middel af na die “nuwe” regtekant toe.

 

Net ‘n wenk – as jou gare begin koekerig lyk of opfrommel, wen dit eers af voordat jy verder gaan. Dit help dat die stekies mooi glad en in die regte rigting lê. Begin dan met jou stekies volgens jou steekdiagram. As jy jou gare deurtrek, trek dit na die soom (ondertoe) of na die neklyn (boontoe) van die rokkie. Moenie die gare weg van die lappie af trek nie. Dit belemmer jou steeklengte, rigting waarin die steek lê en spanning.

 

 

 

 

Fransie Scanlen besig om verskillende steke te oefen.

 

 

 

 

 

 

Vir die kompetisie moet hulle ten minste vier verskillende steke gebruik.

Die basiese steke is buitelyn-, kabel-, dubbelkabel-, en golfsteek. Dit is op stamsteek gebaseer. Deesdae word die meer elastiese steke soos heuningkoek, oppervlakheuningkoek, chevorn-, halfspasie-chevron, Vandykcksteek, golfdiamante, diamantsteek en oppervlakheuningkoekdiamante ook gebruik.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hettie Krüger, lid van die splinternuwe VLV-tak op Danielskuil, hard aan die konsentreer tydens die smokkursus op Kuruman.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

In die derde les op Saterdag 27 Julie 2019, het die dames geleer hoe om ‘n steekdiagram te lees en daarvolgens te borduur. Partymaal moet ‘n mens eers ‘n ry ondertoe op die steekdiagram werk, voordat jy ‘n ander een kan werk, maar oor die algemeen werk jy altyd van die boonste ry na die onderste ry. Anders raak dit deurmekaar en werk dit ook moeiliker.

 

Magriet van Zyl en Liza Burger bestudeer ‘n steekdiagram.

 

Indien die smokwerk vir ‘n kledingstuk gebruik word, moet die geblok word, sodat dit die regte breedte sal wees. Die rygdrade word verwyder. Magriet van Zyl sal later vanjaar nog ‘n les aanbied om hierdie stap te demonstreer. Die dames het dus nou geleentheid om hul smokwerk tot op daardie stadium te voltooi.

 

Post a comment