Vlv ingelig oor Brandbestuur

 

 Vlv ingelig oor Brandbestuur

Posted by VLV in Kleinmond Tak 28 Apr 2015

Sirkel:  Overberg

Tak:  Kleinmond

Portefeulje:  Openbare Sake

Beriggewer:  Hermien Van Zyl

Datum: 28 April 2015

 

Edith Henn, Cape Nature se Gemeenskapsbewaringsbestuurder vir die kusgemeenskappe vanaf Kogelberg by Kleinmond tot by Infanta, het die Kleinmond-tak kom toespreek oor brandbestuur.

 

Vuur was nog altyd o.a. ‘n bron van hitte, lig, sekuriteit, ‘n hulpmiddel met kosmaak en in die natuur stimuleer dit veldgroei, veral in fynbosareas. Maar dit moet reg bestuur word.

 

Brandbestuur berus op drie pilare:

  • Brandvoorkoming, wat insluit publieke bewusmaking
  • Brandbeskerming, waar eiendom en lewens beskerm word
  • Brandbestryding, waar vure fisies doodgeslaan word.

 

Die vuur-driehoek, wat bestaan uit suurstof, brandstof en hitte, moet verbreek word om ‘n brand suksesvol te bestry. Eerstens moet die suurstof weggeneem word deur die vlamme met ‘n kombers, nat sakke, takke of skuim te probeer blus. Of, indien dit ‘n persoon is wie se klere brand, moet die Stop-Drop-Roll-metode toegepas word, waar die persoon onmiddellik op die grond val en rol om die vlamme te blus. Volgende moet alle brandstof wat die vuur verder kan aanhelp, verwyder word. In die huis is dit bv. ontvlambare gordyne en buite is dit droë plantmateriaal wat deur voorbrande en brandbane verwyder kan word. Laastens is dit die afkoeling van die hitte/temperatuur en daar word water uit tuinslange en helikopters gebruik.

 

Me Henn het kontaknommers verskaf van die Overbergse Distriksmunisipaliteit (Reinhardt Geldenhuys by 028 425 1157) en die Kogelberg Biosfeer-reservaat (Mark Johns by 028 271 5138) indien iemand ‘n brand wil rapporteer. Sy het ook gesê watter inligting waardevol sal wees:

  • Let op wat die weerstoestande is, windrigting veral
  • Identifiseer hoeveel brandmateriaal daar is soos afgesaagde bome, droë fynbos, plantasies
  • Bekyk die topografie van die gebied – bergagtig, afgronde, toegangspaaie
  • Beskikbaarheid van waterbronne soos nabygeleë damme en riviere
  • Monitor voortdurend die gedrag van die vuur, hoe vinnig dit versprei
  • Is daar eiendom wat ontruim moet word of lewende hawe wat verskuif moet word

 

Aangesien staptogte in die omliggende berge ‘n gewilde tydverdryf is, het me Henn ook wenke gegee vir oorlewing indien mense vasgekeer word deur ‘n brand.

  • Moenie paniekerig raak nie, oorweeg jou opsies.
  • Kommunikeer met die persoon wat leiding neem.
  • Moenie blindelings begin hardloop nie – indien jy moet hardloop, dan berg-af.
  • Skuil in ‘n dam, rivier, rotsagtige gebied of ‘n area wat reeds gebrand het.
  • Maak ‘n voorbrand rondom jou as jy vasgekeer is.

 

 

2015 april 28th 035

Edith Henn saam met Marita Grobler (regs), taksaamroeper vir Openbare Sake.

 

 

2015 april 28th 002

Eleanor Lea, 15-jarige kleindogter van die takvoorsitter, Ninnie du Toit, was die gaskunstenaar. Sy is ‘n solis in die Jeugkoor van die Universiteit van Pretoria.

 

 

2015 april 28th 059

Maria Whitehead het sprankel aan die verrigtinge verleen met haar demonstrasie hoe mens met serpe jou uitrusting kan verander.

 

 

2015 april 28th 047

Een van die middag se kompetisies was ‘n versierde inkopiesak. Hier is ‘n voorbeeld.

 

Post a comment

seven + twelve =