VLV help Aberdeen herleef

 

VLV help Aberdeen herleef

Posted by VLV in Aberdeen Tak, News 03 Dec 2018

 

Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 2 Desember 2018

 

Die Aberdeen Herleef Projek is die breinkind van ‘n plaaslike boer en besigheidsman, Roelof van der Merwe.  Met hierdie projek word beoog om Aberdeen oor tyd te ontwikkel om meer toeriste te trek en die dorp te laat herleef.  Verskeie aspekte sal aangespreek word en die plaaslike gemeenskap en skole word ook betrek.

 

Die projek is afgeskop deur die verf van ‘n groot muurskildery in die middel van die dorp.  Aberdeen se kunstige argitekstudent, Anjé Cronje (2018 wenner van The Market Theatre in Johannesburg se Beste Opkomende Kunstenaar toekenning) en 5 van haar argitektuur studentemaats het vir 10 dae in die hitte dag en nag gewerk om die skildery te doen.  Dit het reeds nuwe energie in die dorp gebring en verskeie toeriste het reeds kom kyk nadat die nuus op soiale media versprei het.

 

Daar is ook 6 plaaslike skoolkinders van die 3 laerskole by die projek betrek.  Hulle het onder leiding van Cornelia Cronje groot asblikke geverf wat in die dorp geplaas is.  Hulle is ook geleer om mosaïek artikels te maak van rommel, asook hoe om draadkarre te maak.  Die kinders is deurentyd ingelig oor besoedeling en die noodsaaklikheid om die dorp op te ruim en skoon te hou.  Hulle is ook gewys hoe om ecobricks te maak – dit is skoon plastiek wat styf in ‘n 2L platiekbottel gedruk word en dan as bousteen gebruik kan word.

 

Tydens die week is daar ook ‘n bemarkingsvideo vir sosiale media gemaak oor Aberdeen, die projek en plaaslike besighede.

 

Aberdeen VLV is een van die trotse borge vir hierdie projek en het gesorg vir die studente se kos tydens hulle verblyf.

 

Muurskildery word geverf

 

Vullisdrom word geverf

 

Finale produk – muurskildery

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Finale produk – vullisdrom

 

 

Post a comment