VLV, blomme en voorskote

 

VLV, blomme en voorskote

Posted by VLV in News, Porterville Tak 13 Mar 2014

Sirkel:Weskus

Tak:Porterville

Portefeulje:Opvoeding en Kultuur

Beriggewer:Louwna Hoving, lhoving@telkomsa.net

Datum:13 Maart 2014

 

Wat verwag jy van die VLV?  Wat verwag die VLV van jou?  

Verskeie blomeienskappe, wat ook lede se VLV-gesindheid weerspieël, word uitgelig:

entoesiasme taan gou, moet versigtig benader word, gedy in kalklig, net gelukkig as dit goed gaan, kla oor alles, voel altyd te na gekom, lewer nie bydrae nie, maar het na die tyd oplossings en stook dikwels kwaad, is altyd eerlik, betrokke, straal gebondenheid uit, voer opdragte stiptelik uit, is lojaal, bekwaam, tevrede, nederig, prakties en ‘n takbate, talentvol en vra nie spesiale behandeling nie.  Watter VLV-blomversiering is jy?

‘n Powerpoint-aanbieding deur Louwna Hoving.

 

Ena Cruywagen huldig Esther Smuts wat vertrek het. Haar leierskap, organisasievermoë, skryftalent, liefde vir spyseniering, blommerangskikings, ook die Skou se veldblomme-uitstalling word met ‘n Powerpoint-aanbieding vertoon.

VLV-hoogtepunte:  aanbieding van eerste Vrouedag in Sirkel, help voltooi Sirkel Weskus-vaandel en Kongreswenner van wiegieliedjie. Die 80ste-verjaardagviering-tablo van die Tak, om verskillende fases van ‘n vrou met blomme en sang uit te beeld, was haar breinkind. ‘n Ruiker, CD met herinneringsfoto’s en ‘n spesiale boekie met groeteboodskappe van lede word oorhandig aan ‘n ware rolmodel en mentor vir jonger lede.

Ena Cruywagen, voormalige voorsitter huldig Esther Smuts.

Esther Smuts, Erelid, 64 jaar lid en verskeie jare Voorsitter, ontvang ‘n ruiker van Tinkie van Zyl (links), ook ‘n Erelid.

 

Omdat sy lief vir ‘n voorskoot was, lees en dramatiseer Johanna Rheeder en Louwna Hoving ‘n prettige beskrywing om die nuttige gebruike van die voorskoot te illustreer:

Johanna Rheeder en Louwna Hoving.

 

Voorskote is in die Naaldwerkklas gemaak en wit voorskote tydens Huishoudkunde-praktiese periodes gedra.   Vandag is dit nog net die jongmans wat so iets dra wanneer hulle braai.    Ouma was byna nooit sonder ‘n voorskoot nie. Daar was selfs oorsese patrone van die mooiste voorskote, in koeverte verpak,  in materiaalwinkels te koop!    Die voorskoot het Ouma se klere beskerm,  omdat dit makliker was om te was.   (Wasgoed was mos nog met die hand gewas.)   Voorskote het ook minder materiaal as rokke gevra in daardie armjare.    Daar was net ‘n paar rokke in haar kas en haar beste rok was nie van ‘n  “wasbare”  materiaal gemaak nie.

‘n Voorskoot was ‘n handige,  byderhand vatlap vir potte en panne.    Wanneer dit so warm  voor die koolstoof was kon mens ook so tussen in,  die sweet van jou voorkop daarmee afvee.

Wat was dan handiger as ‘n voorskoot om ‘n huilende kind se trane en neus mee af te vee?  (Of ‘n paar vuil ore mee by te kom!)   Dit was die veiligste plek vir ‘n skaam kind om onder  weg te kruip as vreemdes kom kuier.    

     

Wanneer die windjie skraal begin waai kon Ouma haar voorskoot oor haar arms gooi.  Die sakke was gewoonlik lekker ruim met genoeg plek vir die bos sleutels, ‘n groot sakdoek en ‘n snuifblik.

Dit was ook gebruik om eiers, donsige kuikentjies of half-uitgebroeide eiers huistoe te vat om in die louoond of buitekamer te bêre.  Die daaglikse groente is van die groentetuin af met die voorskoot huis toe gedra. 

Wanneer ete gereed was,  het Ouma op die stoep gaan staan en haar groot voorskoot geswaai om etenstyd aan te kondig.   Sy is sommer gou-gou deur die moeë werkers opgemerk.

As die stofstreep van onverwagte gaste, teen die rant sigbaar geword het,  was dit verrassend hoeveel stof blitsig van meubels gevee kon word met die einste voorskoot.

Ouma het haar gebakte pasteie met behulp van haar voorskoot op die vensterbank gesit om af te koel.   (Haar kleindogters sit hulle pasteie op die vensterbank om te ontdooi!)

Dit kan nog dekades duur voordat iemand iets naastenby so bruikbaar sal ontwerp om  “die voorskoot”  te vervang.  Dit kan ‘n regering teen die mure uitjaag om te probeer uitvind hoeveel kieme daar op ‘n voorskoot voorkom.   Ek het nooit iets opgetel of aangesteek vanaf ‘n voorskoot  –  BEHALWE   LIEFDE  nie!

(Vertaal en aangepas uit ‘n artikel op die internet.)

Post a comment

sixteen − 5 =