VLV bemagtig Murraysburg se matrikulante

 

VLV bemagtig Murraysburg se matrikulante

Posted by VLV in Murraysburg Tak 23 May 2015

Sirkel:  Noord-Karoo

Tak:  Murraysburg

Portefeulje:  Bemagtigingsoggend vir matrikulante

Beriggewer:  Mette Kromhout

Datum:  23 Mei 2015

Vir die vierde agtereenvolgende jaar kon die plaaslike VLV-tak vir die matrikulante ‘n bemagtigingsoggend aanbied.

 

Moses Jacobus,  ‘n opkomende jong sanger en rolmodel,  het as motiveringspreker opgetree.  Aangesien hy die jongmense se twyfel en kwellinge oor hulle toekoms verstaan,  kon Jacobus met baie insig hulle stres, uitsigloosheid en vrese aanspreek.  Hulle het letterlik aan sy lippe gehang.

 

Om hulle waardering vir die lied wat Jacobus spesiaal ter ondersteuning van die matrikulante geskryf het,  te toon,  het hulle spontaan saambeweeg, gesing en hande geklap.  Vir ‘n paar uur is hulle meegevoer na ‘n Utopia en het ‘n beter toekoms moontlik gelyk.

 

DSC03431

Matrikulante wat die oggend bygewoon het met mev. Renée Swanepoel, Moses Jacobus en mev. Theresa Troskie links voor.

 

In haar praatjie oor die mens se lewensreis het Renée Swanepoel, VLV-voorsitter, praktiese raad en oplossings vir die vurke en hobbels in die lewenspad aangebied.  Die VLV-dames wil graag hulp en bystand soos benodig aan die jongmense bied.  Mev. Hannelize van Heerden,  opvoeder by die Hoërskool,  is die kontakpersoon.

 

Elke leerder het ‘n gedrukte boekie met voorbeelde van ‘n CV,  dekbriewe en ‘n volledige werkaansoek van Theresa Troskie ontvang.   Dit is met die leerders behandel en is hulle bemagtig om hulle aansoeke vir studie- en werksgeleenthede keurig en korrek in te dien.   Troskie het moontlike studievelde vir 2016 aan die leerders uitgewys.  Sy het gefokus op studiegeleenthede in ons omgewing en studierigtings waarvoor volledige beurse of indiensopleiding beskikbaar is.   Die matrikulante kan met vrymoedigheid enige VLV-lid nader indien hulle verdere hulp en raad benodig.

 

DSC03430

Mev. Michelle Cloete met die matriekdogters wat sy grimeer het.

Altyd ‘n hoogtepunt is Michelle Cloete se grimeringswenke.  Selfs die seuns het dit interessant gevind aangesien hulle klasmaats  voor hulle oë in pragtige swane  verander het, danksy Michelle Cloete se kundige grimering.

 

Na ‘n prettige en insiggewende oggend het al 88 matrikulante nog ‘n pragboek van Metz-uitgewers ontvang asook ‘n aantreklik versierde pakkie met ‘n heerlike wegneemete.

 

Groot dank aan Metz-uitgewers, Kaapstad,  PSG, Graaff-Reinet en die hoofborg, Mareli Visser van Kaapstad.  Danksy hulle borgskappe is die matrikulante beter toegerus vir die pad vorentoe.

Post a comment

two × 2 =