VLV bemagtig matrieks

 

VLV bemagtig matrieks

Posted by VLV in Murraysburg Tak, News 11 May 2014

Sirkel Noord-Karoo

Tak:  Murraysburg

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Mette Kromhout

Datum: 10 Mei 2014

Murraysburg tak, onder leiding van die voorsitter, Theresa Troskie, en die bestuur, het in Mei moeite gedoen om die matrieks so ´n bietjie te bederf en te bemagtig.

Van die 96 matrieks het 70 die oggend in die kerksaal bygewoon.  Hulle het moeite met hulle voorkoms gedoen en die besef van hoe belangrik hierdie laaste paar maande is, het geleidelik tot die meeste deurgedring.

 

Hulle het onder andere die kontakbesonderhede van vyf tersiêre opleidingsinstansies in die omgewing sowel as wenke vir die opstel van ´n toepaslike CV ontvang. Die wenke oor hoe om jouself tydens ´n onderhoud bekend te stel, was baie waardevol soos ook die voorbeelde van ´n aansoekbrief, dekbrief, getuigskrif en afskrif van hul eie ID-dokument.

 

 

Die doel van die oggend was om die leerders te motiveer om groter te droom en om hulle te motiveer om hulself verder te bekwaam sodat hulle aan hulle dikwels haglike omstandighede kan ontsnap en ´n beter lewe op hulle kan wag.  Die dames het beklemtoon dat hulle baie graag diegene wat ´n wyer visie het, sal wil help om maniere te vind om hulle drome te verwesenlik.

 

Danksy die borge Marelie Visser, van die plaas Kraaifontein in die distrik, Metz-uitgewers en die ATKV het elke matrikulant ´n rugsakkie, lêer, pen, skryfblok, Taalgenoot, die boek Spoorvat van Riana Scheepers en Leti Kleyn, asook boeke oor kommunikasie en menseverhoudinge en hoe om geld uit handwerk te verdien, ontvang.

Michelle Cloete se kundigheid en grimeermiddels het verskeie dogters ten aanskoue van almal laat gedaantewisselings ondergaan en is die innerlike ook nie vergeet nie.  In ´n treffend versierde sakkie was daar vir elke matrikulant heerlike wegneemversnaperinge.

 

Die VLV hoop dat hierdie bederfoggend elke matrikulant sal verseker dat daar voorbiddend aan hulle gedink word en dat hulle hierdie laaste moeilike maande nie alleen hoef te stap nie.  Alle sukses word hulle toegewens!

Post a comment

four + two =