Victoria-Wes gaan terug in geskiedenis

 

Victoria-Wes gaan terug in geskiedenis

Posted by VLV in Victoria-Wes 18 Apr 2015

Sirkel:  Noord-Karoo

Tak:  Victoria-Wes

Portefeulje:  Landbou en Tuinbou

Datum:  18 April 2015

Beriggewer:  Elize Perrin

 

 

Die afgelope Saterdag, 18 April, het die jaarlikse Landbou en Tuinbou vergadering plaasgevind.  Aangesien die tak hierdie jaar hul vyf-en-tagtigste verjaarsdag vier, word daar tydens die vergaderings ook ‘n bietjie na die verlede en geskiedenis van sekere aspekte gekyk.

 

Mevrou Sinclair het die vergadering ingelei met ‘n oorsig oor die verloop van  Merino boerdery oor die jare.  ‘n Foto is onder andere vertoon van ‘n 1912-kampioenram. Dis duidelik dat die fokus gedurende daardie jare op wol was.  Vir jare is wol slegs oorsee verwerk.  Tans is Victoria-Wes die grootste wolprodusent in die Noord-Kaap.

 

SANYO DIGITAL CAMERA

die 1912 Merinokampioenram

 

Die nostalgiese reis is verder geneem deur mevrou Erna Jeppe wat meer oor haar ma, skoonma en haar eie hoenderboerdery vertel het.  In 1970 is  eiers aan die ouetehuis  gelewer teen vyf-en-twintig sent per ‘n dosyn.

 

Die deel oor tuinbou is deur mevrou Joan Human hanteer.  Sy het genoem dat tuingrond vroeër jare nie so brak was nie. Almal het destyds groentetuine gehad en graag saad onder mekaar uitgeruil.

 

Voordat die dames saam tee en verversings geniet het, is landbounuus aan hulle deurgegee.  Belangrike inligting wat van die sirkelpresident ontvang is, is ook onder die dames se aandag gebring.

 

Pakkies groentesaad is ook ingesamel wat aan werklose mans verskaf sal word om ‘n groentetuintjie vir hul gesinne aan te lê.  Gedurende teetyd kon die dames ook van die produkte op die marktafel koop.

 

SANYO DIGITAL CAMERA

Die dames pak hul produkte op die marktafel uit.

Post a comment

14 − fourteen =