Verskeidenheid op Vredendal

 

Verskeidenheid op Vredendal

Posted by VLV in News, Vredendal Tak 19 Oct 2018

Sirkel: Namakwaland

Tak: Vredendal

Beriggewer: Julene Stephan

Datum: 16 Augustus 2018

 

Vredendal se onlangse VLV vergadering was ‘n potpourri vergadering aangebied deur die bestuur. Dis ingelui deur Sanet Ras se vraag, waarvoor sal jy onthou wil word? Na aanleiding van Jesus wat die voete van sy dissipels was, word die voorbeeld gestel om behoeftes raak te sien, om bereid te wees om te help, te gee en te dien. Dit vra nederigheid en die vermoë om ook jou eie probleme in ‘n ander lig te sien.

 

Nonnie van Wyk het ‘n breedvoerige demonstrasie gegee oor die maak van Rooibos likeur, ‘n Sirkel kompetisie. Die belangrikste vereistes is kwaliteit bestanddele en genoeg  tyd vir beide die tee en likeur om goed te trek. Die lede het geleentheid gekry om te proe, wat bevestig het Nonnie ken haar storie.

 

Dalene Hein het daarna uitgewy oor Rooibos se voortreflikhede, wat eerste deur dokter Lafras Nortier van Clanwilliam raakgesien is. Saam met Olof Bergh het hul ‘n industrie in die Cederberge, Rooibos se natuurlike habitat, aan die gang gekry. Die Rooibostee Raad is in 1954 op Clanwilliam gestig, en in 1973 gesertifiseer. Daar is meer as 200 spesies van die tipe fynbos, inheems van die Cederberge en die produkte word tans wêreldwyd versprei. Behalwe dat Rooibos kafeïnvry is, het dit ook anti-spasmodiese, anti-allergiese en anti-karsinogeniese eienskappe, het ‘n kalmerende uitwerking en vul minerale aan. Die tee is ‘n natuurlike vleissagmaakmiddel en kan vloeistof in resepte vervang vir beter geur en kleur.

 

Sanet Ras het Elsa Joubert se boek, Spertyd, wat tans oor RSG voorgelees word, aan die lede bekendgestel. Sy het dit op 95 geskryf, en dis ‘n fyn waarneming van oudword en wat daarmee saamgaan.

 

Elmarie Fouché het die nuwe modeneigings aangekondig met veral denim op die voorgrond. Soos gewoonlik kuier die lede agterna heerlik saam.

 

Dalene Hein, Elmarie Fouche, Sanet Ras en Nonnie van Wyk.

Post a comment

5 + 1 =