Versier koeke met die regte toebehore

 

Versier koeke met die regte toebehore

Posted by VLV in News, Porterville Tak 07 Jun 2018

Sirkel:  Weskus

Tak: Porterville

Portefeulje:  Leefstyl

Beriggewer:  Louwna Hoving

Datum:  7 Junie 2018

 

   

Koekbak en -Versiering

 

Luzaan Hough deel haar ervaring en wenke om koekbak en koekversiering te vergemaklik:

 

 

Oliebasis sponskoeke of wortelkoeke verseker stewige koeke.

Moussekoeke is altyd klam.

Botterversiersel word vir alle koeke gebruik, selfs onder plastiese versiersel.  Dit sit dan beter vas aan die koek.

Wit botterversiersel word altyd gebruik onder plastiese versiersel, omdat donker versiersel deur trek in die plastiese versiersel.

Fondant of plastiese versiersel word beskadig as dit nat word.

Plastiese versiersel is duur en word in 1 kg of 3 kg blokke verkoop.  Dit word baie vinnig hard en moet goed toege-maak word met Glad Wrap en dan in ‘n plastieksak gebêre word.  Dit is nie ‘n maklike versiersel om mee te werk nie, maar dit lyk baie mooi.

Royal Icing, gemaak van eierwit en versiersuiker, word baie vinnig hard en kan nie gebruik word vir piping nie.

Kleuring van versiersuiker moet ‘n dag voor die tyd gedoen word omdat dit donkerder word as dit staan

Modelering:  Eetbare gom word bygevoeg om modeleringversiering te doen.  Modelering vat baie lank, want dit moet stap vir stap gedoen word.  Die weer speel ‘n rol  in die winter en dis ‘n probleem om droog te word.  Die klaar gemoduleerde produkte is baie duur  – ‘n Mini Muis kos ongeveer R250!

Petal Glue is soos eierwit, maar kleurloos en word gebruik om verskillende dele netjies te las.

Tandestokkies en spaghetti is hulpmiddels om te verhoed dat dele breek.

Benodigdhede wat onontbeerlik is vir ‘n koekversierder:  harde koekborde (skywe), ‘n draaitafel, marmerkoekroller, klein rollertjie vir fyn werk, Glad Wrap om oor die uitrolplank te trek, mielieblom word gebruik om hande droog te hou, groot plastieksakke om oor uitgerolde versiersel te sit, koektroffel om versiersel gelyk te maak, speld om lugborrels uit te laat, houtpenne (dowel), ysbakkie om verskillende kleure eetbare verf in te gooi om gesiggies of kolletjies te verf, kwassies – elkeen net vir ‘n spesifieke taak, klein bolletjie- of vormpiemakers om blommetjies en blaartjies te vorm, hobbelspons om gevormde deeltjies op te bêre tot dit droog is, groot teël, maatband, sponsies vir afvee of om iets af te was, lint, lang spelde met pêreltjies of enige ander versierings wat die koek se voorkoms versag.

 

 Luzaan maak ‘n blommetjie met die bolletjie-apparaat

 

Wenke:  Wanneer ‘n koek nie gelyk gerys het nie, kan dit wees omdat die beslag te styf was, te veel geklits is of die temperatuur van die oond te warm was.  Sny dit dan gelyk en plaas die onderkant bo om te versier.  Werk op ‘n groot houtplank om uit te rol.  Maak die blad eers nat voordat dit met Glad Wrap oorgetrek word, dan skuif dit nie.  Alles word oornag in die yskas gebêre om stewig te word en te seël.  Om seker te maak dat lae nie skuif nie, moet ‘n hout-pen, gesny op die hoogte van die laag, in die middel van elke laag geplaas word en ‘n harde koekbord, die grootte van die laag, bo-op geplaas word.  Dit verseker dat die gewig van die koeklaag dit nie sal laat rondskuif nie.  Wanneer ‘n koek gesny is, moet dit altyd in die yskas gebêre word.

Koekversiering is ‘n duur en tydsame proses en kliënte het nie altyd begrip daarvoor nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Mary-Ann van Schalkwyk, demonstreer om sap deur middel van ‘n tandestokkie uit ‘n suurlemoen te kry en dan die suurlemoen te bêre vir hergebruik.

 

 

 

 

 

 

 

 

 Kwiltwerkuitstalling van lede

 

 Drie nuwe lede:  Marianne Hanekom, Hanlie Louw, Mary-Ann van Schalkwyk (Voorsitter), Annette Landman

 

  • Mary-Ann van Schalkwyk June 13, 2018 at 7:56 pm / Reply

    Excellent meeting. Luzaan presentation outstanding. Very informative and made me want to start baking and decorating a cake.

Post a comment

fourteen − ten =