Vergadering is pure perd!

 

Vergadering is pure perd!

Posted by VLV in Hofmeyr Tak, News 11 Mar 2014

Sirkel: Cradock

Tak: Hofmeyr

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Teresa Opperman

Datum: 10 Maart 2013

 

Anne Nel, as sameroepster van Landbou & Tuinbou, het tydens haar vergadering een van ons jonger lede, Karenza Fourie, genooi om  ons van haar Renperdtelery te kom vertel.

Karenza het met ‘n goed geteelde renperdmerrie begin wat ook ‘n goeie prestasiegeskiedenis gehad het – en wat ook uit ‘n familie stam met ‘n goeie rengeskiedenis.  Merries word gedurende September ingeskryf by die teelhings se stalle, en sy word dan beoordeel, en ook die merrie se ouers word beoordeel.  Indien so ‘n merrie nie ‘n telling van 16 behaal nie, word die merrie nie gekeur vir teling by die top stoetteelhingste in Suid Afrika nie.

Baie hingste word ingevoer.  Merries word na hingste gestuur en sy stuur haar merries na hingste in Kaapstad (oor die 800 km ver), en daar word die merries dan eers deeglik ondersoek en getoets vir siektes en virusse.  Na dekking word die merrie eers weer teruggebring na Karenza se stalle nadat dit positief getoets het vir dragtigheid.  Betaling geskied op verskeie maniere,  soms as die merrie dragtig is, word betaling versoek, andersins word die vul na geboorte getoets vir registreerbaarheid en opregtheid, en word betaling dan vereis deur die eienaars van die hingste. 

Alle perde word met ‘n mikroskyfie gemerk nadat hul DNA ontleed is, sodat hierdie inligting te alle tye tydens wedrenne en vir telingdoeleindes beskikbaar is, en ook vir ‘n perd se paspoort, in gevalle waar ‘n perd uitgevoer word. 

 

Veeartse vanaf Onderstepoort is verantwoordelik vir hierdie toetsing.  Sy het talle vullens by verskeie renbane, waar hulle deur bestuurders hanteer word, en gereed gekry word vir perdewedrenne.  Sy bly die eienaar van die vullens, maar het hierdie jaar besluit om ‘n vul op ‘n veiling te verkoop.  Tydens so ‘n veiling word daar maklik 500 plus perde te koop aangebied, en pryse wissel van R40 000 tot R3.6 miljoen per perd.    Die vul wat nou te koop aangebied gaan word, is uit ‘n puik bloedlyn en sy hoop om ‘n goeie prys daarvoor te behaal.  Die merrie wat die ma van die vul is, het reeds weer ‘n vul en is ook weer dragtig,  dit neem dus ‘n geruime tyd voordat ‘n vul bemarkbaar is.    Perde is vir 11 maande dragtig. 

Perde word geïmmuniseer teen Afrika Perdesiekte & Perdesiekte en alle rekords moet bygehou word deur ‘n veearts.  Sy is ook die eienaar van Arabierperde, maar renperde is nie so gehard soos Arabierperde nie. 

Die uitvoer van renperde word bemoeilik deur Afrika Perdesiekte.  ‘n Ses maande kwarantyntydperk in Mauritius en ‘n verdere drie maande kwarantyn in die land waarheen uitgevoer word, is in alle gevalle van toepassing, en dit maak dit baie moeilik om ‘n renperd uit te voer.  Invoere geskied sonder enige omslagtigheid.

Die persone wat hulself beskikbaar stel om renperde op te lei by renbane moet ‘n “trainers licence” hê, en ontvang  betaling wanneer hierdie perde dan presteer.  Daar is 2 renbane in Kaapstad, 2 in Johannesburg en een in Port Elizabeth, en dit is die enigste bane in Suid Afrika waar ‘trainers’ beskikbaar is om renperde op te lei. 

Wanneer perde geregistreer word, is daar ook streng reëls van toepassing, want geen twee perde mag naastenby dieselfde name hê nie. Sy meld dat een van haar perde hierdie jaar aan die Rothman’s July perdewedren sal deelneem. Kyk uit vir Quattro!

Hofmeyer tak is aangewys as die Tak van die Jaar! Die trofee word aan Susan Vermaak (vorige Voorsitter) oorhandig deur Dada de Jager (nuwe Takvoorsitter 2014).

 

Die 8 trofees wat Hofmeyr tydens die Konferensie te Tarkastad verower het, word uitgedeel, en die markstalletjie by die plaaslike skou wat eersdaags op Hofmeyr plaasvind, word bespreek.

Post a comment

seven + 13 =