Verftegnieke om enige ruimte op te kikker

 

Verftegnieke om enige ruimte op te kikker

Posted by VLV in News, Porterville Tak 13 Apr 2018

Sirkel:  Weskus

Tak:  VLV Porterville

Portefeulje:  Kunste en Handvlyt

Beriggewer:  Louwna Hoving,

Datum:  12 April 2018

 

 

Winnie Saayman het ‘n boek, Verftegnieke geskryf wat handel oor Dekoratiewe afwerkings om enige ruimte op te kikker.

 

Kreatiwiteit is die ontwikkeling van die brein wat die minste aandag kry.  Kinders se kreatiwiteit word dikwels gedemp omdat ‘n rooi boom nie vir die ouer/onderwyser aanvaarbaar is nie. Om te verf, of jy kan of nie, laat jou toe om te waag.  Gebruik aksentmure of strepe op kaste.  Verf is ‘n goedkoop manier om ‘n groot verskil te maak.

 

Kleur skep ‘n sekere atmosfeer en word geassosieer met gevoel.  Groen en blou is kalmerend, die warm spektrumkleure is gesellig en vrolik, geel moet glad nie vir hiperaktiewe kinders gebruik word nie, rooi en geel stimuleer eetlus (kitskosplekke is ‘n voorbeeld hiervan!).

 

Keuse van kleur of tekstuur om verandering te maak aan ‘n vertrek:  Besluit vooraf wat jy wil bereik deur na die volgende te kyk:  moet die vertrek groter of kleiner lyk, koeler of warmer vertoon of ‘n dramatiese of rustige gevoel skep.  Donker kleure vertoon kleiner, ligter skakerings skep ‘n gevoel van ruimte.  Koel kleure moet in ‘n warm sonnige vertrek aangewend word. As jy rooi met vrymoedigheid dra, kan jy jou muur rooi verf.  Die meubels en vertrek moet mekaar vlei en ‘n eenheid vorm.

 

Praktiese wenke:  Waak daarteen om verf van ‘n kleurkaart te kies.  Om teleurstelling te voorkom moet ‘n monster verkieslik gekoop word en verf ‘n groot blok op die muur in die vertrek wat geverf moet word.  Bekyk dit op verskillende tye van die dag en kies dan.  Meubels moet voorberei word voordat dit geverf word met kalkverf.  Kalkverf is nie duursaam vir meubels wat gebruik word nie.  Verf beskadig nie hout nie – daar is maniere om dit af te haal.  Skep genot uit die meubelstuk en gee nuwe lewe daaraan.  Hou deure aan by ‘n kas met klavierskarniere en werk om dit.  Laaie en wieletjie skep ook probleme as dit geverf word.  Verf verkieslik net die deel wat gesien word.      Olieverf word net op kaste gebruik as jy nie weet wat daar op is nie.

 

Produkte en gereedskap:  Verf kom voor met ‘n water- of oliebasis.

* Waterbasisverf word vir meeste muurafwerkings gebruik – werk makliker en is omgewingsvriendelik.

* Newelglasuur (scumble glaze) – dit is ‘n deursigtige waterbasismedium om verftegnieke soos kleurwas- of sleeptegniek te verkry deur een deel water tot een deel verf tot een deel newelglasuur te meng.  Dit laat verf langer nat bly sodat ‘n muur rustig geverf kan word.

 

Enkele verftegnieke:  (Drie tegnieke word gedemonstreer)

* Afwittegniek (Lime wash):  Dit word slegs op ru-oppervlakke gedoen.

* Kalkverf (Chalk paint) bestaan uit gips, water en akrielverf vir die kleur.

* Houtgreintegniek:  Enige oppervlak kan gebruik word om dit met behulp van ‘n houtgreinapparaat (rocket tool) soos ‘n houtoppervlak te laat lyk. Berei die oppervlak met ‘n geskikte grondlaag (PVA) voor.  Indien dit voorheen geverf was moet dit eers goed afgewas word en met houtvuller gevul word.  Dit moet heeltemal droog wees.  Maak die newelglasuurmengsel aan (gelyke hoeveelhede newelglasuur, water en donker akrielverf). Wend aan met egalige kwashale in die rigting van die houtgrein en sleep die houtgreininstrument van bo na onder terwyl dit nog nat is.  Die instrument moet gereeld met ‘n lap skoongevee word.  Die metode is riskant om op vloere te doen.

 

Winnie Saayman vertoon die houtgreinapparaat wat gebruik word vir die tegniek.

 

 Demonstrasie van die Houtgreintegniek en die stensiltegniek.

 

* Stensiltegniek met tekstuurpasta – Eie stensils kan gemaak word deur x-straalplate met ‘n skerp messie of laser te sny.  Dié tegniek gee ‘n opgehewe voorkoms.  Die stensil moet met maskeerband of stensilgom vasgeheg word.  Die verf kan met ‘n stensilkwas, spons of roller aangewend word.  Wend versigtig aan dat verf nie onder die stensil inloop nie.  Werk oor klein oppervlaktes van bo af deur op die openinge van die stensil te druk en raak van oortollige verf ontslae deur kwas/spons/roller op koerantpapier te druk.  Verwyder dan die stensil versigtig en laat die verf heeltemal droog word voor dit verseël word.  Die tegniek kan baie suksesvol op skinkborde gebruik word.

 

Winnie met die voltooide stensildemonstrasie

 

* Droogverf:  Dis die maklikste manier om tekstuur en kleur aan enige oppervlak te gee, terwyl die oorspronklike kleur steeds behoue bly.  Dit kan op sement of ou verweerde houtoppervlakke gebruik word.  Verskillende kleure skep ‘n effek van verskillende lae of gebruik net een kleur.  Berei die oppervlak soos normaal voor.  Doop slegs die punt van ‘n droë kwas in akrielverf en verf die meeste daarvan op koerantpapier af.  Dit moet amper lyk asof daar geen verf op die kwas is nie – die kwashare moet nie deur die verf aanmekaar gehou word nie.  Verf in verskillende rigtings op die op-pervlak om ‘n onegalige voorkoms te skep.  Die proses kan herhaal word tot die verlangde voorkoms verkry word voor dit verseël word.

 

 Voorbeeld van droogverftegniek

 

VLV Porterville het tydens die onlangse Sirkelkonferensie sewe trofeë verower.  Die Tak verower die trofee vir die meeste punte in Kunste en Handvlyt, asook vir die meeste punte in Algehele totaal in die Sirkel en ‘n verdienstelikheidsertifikaat vir ledewerwing.  Dis die vierde jaar agtereenvolgens dat ‘n sertifikaat aan die Tak toegeken word.

 

Trofeewenners:  Anneke Smuts vir Beeldende Kuns, Louwna Hoving vir Woord-kuns, Mary-Ann van Schalkwyk (Voorsitter met Taktoekennings), Zabetha Albertyn vir Wisselafdeling, Preservering en Handwerk.

 

Die Tak het sedert November 2016 nog by elke vergadering nuwe lede bygekry.

 

 Nuwe lede:  Laura Kotze, Laurel en Sheila Heritage, Adele Coetzee

Post a comment

16 − 7 =