Veiligheid eerste!

 

Veiligheid eerste!

Posted by VLV in Douglas Tak, News 23 Jul 2014

Sirkel:Kimberley en distrik

Tak: Douglas

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Hanneke Botha

Datum: 22 Julie 2014

 

 Foto 1 - Ina maak kaassmeer

Demonstrasie: Ina van Rhyn wys vir die dames hoe maklik dit is om tuisgemaakte kaassmeer te maak wat selfs lekkerder as die gekoopte Melrose is. Sy neem gelyke hoeveelhede geprosesseerde kaas (“Bergkaas”) en botter en smelt dit saam oor ‘n lae hitte. Voeg genoeg melk by om dit ‘n maklik smeerbare tekstuur te gee. Gooi in ‘n bottel en verkoel. Geniet!

 

Foto 2 - Joe praat oor veiligheid

Joe Scholtz praat met die dames oor veiligheid. Joe is op Agri Noordkaap se hoofbestuur betrokke by die portefeulje Veiligheid, asook by verskeie ander organisasies.

 

Daar is nie ‘n groot genoeg polisiemag in Suid-Afrika om vir almal se veiligheid te sorg nie – in 1994 was daar bv. ‘n kommandomag, ‘n weermag en ‘n polisiemag. Nou, met ‘n populasie wat verdubbel het, is nog net die polisiemag oor. Ons moet dus self sorg vir ons eie veiligheid, en nie op die polisie staatmaak om dit vir ons te doen nie. Binne gemeenskappe word reserviste opgelei en geïmplementeer wat gebruik word om te help met beveiliging. Joe stel voor dat elke dorp ‘n veiligheidskomitee moet kry wat met die polisie skakel.

 

Joe stel voor dat wanneer ‘n lid van die publiek ‘n saak wil aanmeld by die polisie, die persoon nie moet bel nie, maar die saak fisies by die polisiekantoor aanmeld en ‘n MAS nommer kry.

 

Twee van die probleme waarmee ons in die Noord-Kaap sit, is ‘n tekort aan voertuie en mannekrag. ‘n Baie kommerwekkende tendens wat al hoe meer toeneem in ons provinsie, is die stig van veldbrande deur werkers wat ‘n grief het teen hul werkgewer.

 

Joe praat ook met die dames oor plaasmoorde en aanvalle. Hy was op die toneel van die Griekwastad moorde en maan die dames dat dit belangrik is om, wanneer so iets in jou omgewing gebeur, nie na die moordtoneel te gaan nie, maar om by jou huis te bly. Enige iemand wat die perseel waar ‘n moord gepleeg is betree, word outomaties ‘n verdagte en die onus berus dan by die persoon om hom of haarself onskuldig te bewys.

 

Joe vra die vraag oor hoe veilig jou huis is, want al het jy ‘n alarm, is geen stelsel/sisteem 100% veilig nie. Hy stel voor dat mens in die aand na die buitekant van jou huis stap en inkyk – onthou alles wat jy kan sien, kan ‘n rower ook sien. Wanneer jy aangeval word in jou huis, moenie die rower/s aanvat nie, want alle misdadigers is gewoonlik gewapen. Kruip liewers weg in ‘n kamer met die deur gesluit en ontbied hulp. Veiligheidsplanne moet ook gereeld geoefen word.

 

Na hierdie interessante praatjie geniet die dames en die gaste koffie en tee en ‘n eetdingetjie.

Post a comment

20 − nine =