Uitstappie na Volstruisplaas

 

Uitstappie na Volstruisplaas

Posted by VLV in Brackenfell Tak, News 20 Oct 2017

Sirkel:   Tygerberg

Tak:   Brackenfell

Portefeulje:   Landbou en Tuinbou

Beriggewer:   Lettie Van Wyk

Datum:   19 Oktober 2017

 

Brackenfell se uitstappie na die CAPE TOWN OSTRICH RANCH buite Kaapstad was vir die 8 dames wat dit meegemaak het, ‘n baie leersame en interessante oggend, wat met baie lag en prettigheid gepaard gegaan het.

 

Daar is soveel feite wat ons nie geweet het nie: ‘n Volstruis het 65 bene in sy lyf en geen tande nie.   Die knie sit halfpad bo die enkel en daar is 2 tone aan die voet terwyl die emo en die kiwi albei 3 tone het.  ‘n Volstruis kan net vorentoe skop, maar wees maar versigtig vir daardie skop!   Die leer op ‘n volstruis se lyf is baie sag en die aanvraag daarna is groot.   Die leer afkomstig van die bene is sterk en donkerder van kleur.   Daar is 3 natuurlike skakerings kleur, terwyl volstruisleer ook gekleur word.   Die volstruiseier is baie sterk en ‘n groot sterk man kan daarop staan sonder dat dit breek.  Daar pas 24 hoendereiers in een volstruiseier.  ‘n Volstruiseier neem 42 dae om uit te broei.   Na 3 weke het die embrio reeds vere.  Die volstruis se sterk borsbeen kraak die eier om die kuiken te laat uitkom.  ‘n Volstruishart is tweemaal die grootte van ‘n mensehart.

 

Die Koi-San het alles aan die volstruis gebruik.   Hulle het ook geweet dat as ‘n volstruiseier geskud word en dis vas, is die eier vars, maar o wee! as dit los klink, is dit nie goed nie.   Die Koi-San het volstruiseiers gebruik as kommunikasie deur tekeninge daarop uit te kerf.   Die Koi-San vermom hulleself met vere en ‘n lang stok om tot naby die volstruis te kom, as hulle jag maak op die volstruis.

 

Volstruise eet klippe om hul spysvertering aan te help.   Hierdie klippe lyk later soos spoelklippies soos dit fyngemaal word.   Daar is eenmaal tot 51 diamante in ‘n volstruis gevind, wat natuurlik weer daartoe lei dat volstruise gedood word vir ‘n moontlike diamantfonds.

 

As die mannetjies vryerig raak, kry hulle rooi hakskene en dans om die wyfie.  Een mannetjie het 2 – 4 wyfies.

 

Ons het ook die kleinste volwasse volstruis in die wêreld gesien wat op die plaas bly.   Sy naam is Tom Thumb en hy is al 19 jaar oud.  Normaalweg word ‘n volstruis 17 – 18 jaar oud.

 

Dit kon nie anders nie, en ‘n paar waaghalsiges het op ‘n volstruis gaan sit om afgeneem te word, onder luide gelag van die res.

 

Na ‘n heerlike middagete, natuurlik van volstruisvleis, het ons huiswaarts gekeer, moeg maar gelukkig.  Baie dankie aan Thea Weyers, wat weereens ‘n lekker uitstappie gereël het.

 

Sheila staan op eiers

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Baie geinteresseerd in wat ons gids, Rodrique, te sê het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bettie sit knus op die volstruis

 

 

 

 

 

Kleinste volstruis

 

Ons groepie minus Thea, wat die foto geneem het

 

Ons Voorsitter en ons gids

Post a comment