Uitstappie Na Stellenbosch

 

Uitstappie Na Stellenbosch

Posted by VLV in Hermanus Tak, News 15 Apr 2015

Sirkel:  Overberg

Tak:  Hermanus

Beriggewer:  Cora Clark

Datum :  15 April 2015

 

 

2015-04-15 11.20.04 (Custom)

 

 

Die doel van die uitstappie was om die geskeduleerde vergadering van 15 April 2015 te vervang en wat ‘n heerlike dag was dit nie! Die groep vrolike dames is entoesiasties oppad na die pragtig Jubileumhuis in Stellenbosch. Lida Laing het haar goed van haar taak gekwyt as toergids en het die dames omtrent bederf met ‘n vrugtesappie en lekker suiglekkers op die pad. Sy het pad beduie en roetes beplan, parkering en middagete gereël. Gelukkig was Elna Botha by om hierdie heerlike geleentheid vir die dames op Facebook vas te kon vaslê.

 

 

Die Jubileumhuis in Dorpstraat Stellenbosch is die enigste tekstielmuseum in Suid-Afrika.  Die vriendelike VLVK sekretaresse, Marianne Jordan het die dames hartlik ontvang en hulle ‘n bietjie van die geskiedenis van die gebou vertel.  Die gebou is deur die VLVK aangekoop in 1920’s en moes dit volgens die Historiese Vereniging se streng riglyne restoureer.  Dit huisves die wonderlikste uitstalling van handwerk en skilderye van VLV lede en is oop vir die publiek. Talle gaste, waarvan baie ook van oorsee, raak in ekstase oor die wonderlike kwaliteit van werk wat uitgestal word.

 

 

2015-04-15 11.02.45 (Custom)

 

 

Die Emily Hobhouse kantversameling, wat op bruikleen van die Oorlogsmuseum van die Boere Republieke in Bloemfontein verkry is, is een van die hoogtepunte.  Die Hetsie Van Wyk Versameling het die ongelooflikste borduurwerk  onder ander die fynste Indiese Kettingsteek borduurwerk, Kerspit werk en Tapisseriesteek geborduurde handsakkies. Daar was die mooiste laslapwerk en skilderye van lede asook ‘n hele kamer met fotos van die oud-presidente.  Die VLVK het elke jaar ‘n borduurkompetisie en die 6 beste inskrywings word vir ‘n jaar hier uitgestal.  Dit was so ‘n voorreg om so-iets te kon aanskou.

 

 

2015-04-15 11.42.26 (Custom)

 

 

‘n Vinnige drafstappie in ‘n ligte reënbui het die dames laat smag na ‘n lekker koffietjie by Oom Samie se winkel wat ‘n stukkie Suid Afrikaanse geskiedenis op sigself is. Bokkoms wat in stringe hang, heerlike speserye en gebakte skaapkop en afval op die spyskaart tussen ‘n magdom van antikwiteite.

 

 

Soos net Lida Laing dit kon doen, is die dames soos wafferse hooggeplaasdes weer per bus reg voor die Botaniese Tuin afgelaai dadelik na ‘n pragtig gedekte tafel in die Katjiepiering Restaurant gelei en met ‘n heerlike vrugtesap gelaaf waarna  almal Quiches met slaai kon geniet. So fyn bedien soos net ‘n VLV voorvrou dit self sou doen.

 

 

2015-04-15 13.19.09 (Custom)

 

 

Daarna het die dames ‘n tydjie in die  pragtige tuin spandeer wat lawend vir die siel was.  Die yslikste groot, amper meter in deursnee, blare van die waterlelies was amper onwerklik en die vlieëvanger plante was te koop in klein potjies by die Biowinkel wat ‘n verskeidenheid van sade, plante, teesoorte en plantkosmetieks verkoop. Die tropiese lushof met yslike broodbome en boomvarings het sag en knus gevoel teen die fynbos en aalwyne wat eie Hermanus is.

 

 

Volgende was ‘n besoek aan Woolworths Foods by Waterstone Village.  By die blommetoonbank kan mens jou ruiker bestel en dit word opgemaak terwyl jy inkopies doen. Heerlike vleis van die omgewing is te koop, teen ‘n baie redelike prys wat na jou smaak opgesny word, en heerlike mossels wat vir jou skoongemaak en mooi verpak word is van die aankope wat gedoen is.  Vars slaaikoppie in eie grond in sy sakkie is te koop en sal maklik twee weke hou op ‘n koel plek. Verskeie wyne van die direkte omgewing het ook voorste uitstalplek geniet. Heerlike koffie en tee is in hulle gewilde Restaurant geniet en almal het langtand nadergestaan vir die terugkeer.

Post a comment

nineteen + one =