Uitstappie na die brandweer

 

Uitstappie na die brandweer

Posted by VLV in Brackenfell Tak 16 Sep 2015

Sirkel:   Tygerberg

Tak:   Brackenfell

Portefeulje:   Openbare Sake

Beriggewer:   Lettie Van Wyk

Datum:   16 September 2015

 

 

Op Woensdagoggend, 16 September, het die Brackenfell lede bymekaargekom vir ‘n besoek aan die plaaslike brandweerstasie.   Die bedoeling was om die brandweermanne en -vroue te gaan bederf met lekker eetgoedjies saam met hulle tee.   Daar aangekom is die lede egter verras met ‘n wonderlike demonstrasie en vertelling van die tipiese dag in die lewe van ‘n brandweerman.

 

 

Brackenfell-20150916-00237 (Custom)

 

 

Eers kon die lede sien hoe deeglik toegerus ‘n brandweervoertuig is, gereed vir enige gebeurlikheid.   Die skofte is 24 uur lank, met ander woorde, hulle slaap op die perseel en berei hulle eie etes voor.    Poetse op mekaar bly natuurlik ook nie uit nie!

 

 

Brackenfell-20150916-00236 (Custom)

 

 

Die brandweer kan gekontak word in enige noodsituasie, nie net vir ‘n brand nie.  Elkeen van hulle is deeglik opgelei vir hul taak.    Soms help hulle ook om ‘n kat uit ‘n boom te haal.   Dit was insiggewend om die toerusting te sien wat so netjies verpak word in die voertuig, gereed om enige noodsituasie te hanteer.   Hierdie toerusting moet natuurlik daagliks nagegaan word en mediese voorraad wat vervaldatum bereik het, moet vervang word.   Hulle kan beseerdes in ‘n motorongeluk op die toneel behandel en stabiliseer.   Die lede het ook die toerusting gesien wat gebruik word om ‘n persoon uit ‘n voertuig te haal of ‘n motor oop te sny, indien nodig.

 

 

Brackenfell-20150916-00232 (Custom)

 

 

Daarna het die groot rooi brandweerwa aan die beurt gekom.  Daar is aan die lede gewys hoe vinnig die beskermende klere aangetrek kan word wat hulle moet dra sou hulle in ‘n brandende gebou moet ingaan.    Die brandslange is afgerol en oopgemaak en met verwondering het die lede gesien hoe sterk so ‘n straal water kan spuit!   ‘n Paar waaghalsiges het self die brandslang probeer hanteer, tot groot vermaak van die toeskouers.

 

 

Brackenfell-20150916-00240 (Custom)

 

 

Die lang leer wat tot drie verdiepings hoog opgehys kan word, moet deur vier hanteer word, en daar is gedemonstreer hoe dit gedoen word.   Glad nie ‘n eenvoudige taak nie!

 

 

Uiteindelik was dit tyd om tee te maak en die eetgoedjies voor te sit.   Die lede het lekker gekuier saam met die brandweermanne en -vroue terwyl daar gesmul is aan die verversings.

 

 

Dit was voorwaar ‘n genoeglike oggend wat die lede met groot respek vir die brandweermanne en -vroue gelaat het.

Post a comment

fourteen − 1 =