Uit Niekerkshoop. . .

 

Uit Niekerkshoop. . .

Posted by VLV in News, Niekerkshoop Tak 05 Oct 2010

Liezel Botha het nuus gestuur uit Niekerkshoop.

 

Gedurende die koue dae het die dames van Niekerkshoop se VLV sop en toebroodjies by die plaaslike skole (Primêre skool Môreson, en Kleuterskool) gaan bedien.

 

Die kindertjies het met kondensmelkblikkies, margarienhouertjies en bekers hul sop kom haal. Die vingertjies het gebrand maar daarvoor is die onderste dele van die truitjies ingespan. Toebroodjies het vinnig verdwyn tussen die grypende handjies.

 

Sommige van die leerders het die lede wat in Niekerkshoop woonagtig is, gevra wanneer hul weer sop en brood gaan verskaf. Die lede se hartsnare was so geroer dat daar tydens vergadering voorgestel is dat dit ‘n jaarlikse instelling word.

 

Me. Carin Coetzee het die vergadering daarna meegedeel dat molestering al hoe meer openbaar gemaak word.  Molestering vind 85 % binne die familiekring plaas en 15 % binne die vriendekring.  90 % van die molesteerders is aan die slagoffers bekend. 

 

Me Coetzee het dele uit biografieë en outobiografieë aangehaal van hoe die slagoffer die molestering ervaar.  Die meeste van die tyd voel die slagoffer dat dit sy/haar skuld is en dat hul gesoek het daarvoor. In Lev 18: 6 – 18 word daar ook melding gemaak van bloedskande. Die slagoffers word meestal ook molesteerders. Die gebeurtenisse het ‘n groot invloed op hul siel, denke en liggaam – ongeag die ouderdom.

 

Die lede het baie van die inligting verdwaas ontvang en met ‘n oper gemoed die strate van Niekerkshoop ingegaan.

 

Lente vergadering

 

Die lede het met ‘n lied in hul harte die vergadering bygewoon omdat die lente met volle bors begin het.  Oral is blommetjies en bytjies sigbaar en die dae is nie meer so grou.

 

Na ‘n lang bestuursvergadering en met hope idees wat die vergadering vul, is daar begin.  Mev. Gerber het interessante stukkie gelees oor ‘Vandag se gebed’.

 

Na al die sake van die VLVK afgehandel is, is daar besluit om ‘n bietjie litte los te maak met die speletjie ‘musical chairs’.  Mev. Hettie Carstens en ons jongste lid, PJ Smit (± 3jr) het hande geklap en gesing terwyl die ander lede in die rondte om jaag vir ‘n stoel ten einde ‘n plekkie te verseker.  Na ‘n paar rondtes het die jonges gewys wie’s baas.  Ronelda Smit (6 jr) was een van die semifinaliste.

 

Die kampioen het ‘n geskenkie gekry en die lag het almal laat ontspan.

 

Mev. Tiena Escott-Watson het vertel van die “drama” om ‘n visum te kry om oorsee te gaan werk.  Hoe om huis te koop, waar om wat uit te vind en wat om nie te dra of te sê nie.  Die inligting het almal laat wens om oorsee te kan gaan en al die ondervindinge te kan opdoen.

Post a comment

17 − fourteen =