Tronkbesoek verloop seepglad

 

Tronkbesoek verloop seepglad

Posted by VLV in News, Victoria-Wes 18 May 2014

Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Victoria-Wes

Studierigting: Kunste en Handvlyt

Beriggewer: Elize Perrin

Datum: 17 Mei 2014

 

Die dames van Victoria-Wes VLV was in die tronk… vir hul jaarlikse Kunste en Handvlyt vergadering.

 

Nadat me. Olivier geopen het, is die dames deur die gevangeniskoor verwelkom met pragtige sang. Daarna het twee gevangenes gedemonstreer hoe hulle kunswerke van sunlightseep en eierdose maak.  Die seep word gerasper en met eierdose, wat fyn geskeur is, gemeng.  Water word daaroor gegiet en die mengsel word oornag gelaat.  Teen die volgende oggend het dit gebind en ‘n “klei” gevorm.  Kunswerke word dan hiervan gemaak.  Dit kan ook geverf word.  Die dames het ‘n voorstel aanvaar om dit ‘n VLV-projek vir die jaar te maak deur eierdose en seep aan Korrektiewe Dienste te skenk. Hul sal versoek word om beeldjies en ander kunswerke vir die VLV se Kersmark te maak.  Artikels wat op die mark verkoop word, se fondse sal weer gebruik word om seep aan te koop.  Ander artikels wat deur die gevangenes gemaak is, is ook uitgestal.

Een van die gevangenes demonstreer hoe beeldjies uit klei van seep en eierdose gemaak word.

 

Me. Olivier het aan die dames gewys hoe maklik dit is om handgemaakte geskenkies te maak.  ‘n Versierde houer vir koekies/lekkers, ‘n versierde kosblik en ‘n “string” familiefoto’s, met botteldoppies as rame, is vertoon.

 

Daarna het me. Perrin gewys hoe koekborde van ou glase en borde gemaak kan word.  Sy noem dat dit soveel interessanter is as die bord/glas ‘n storie het om te vertel. Enkelborde (glas onder met bord bo) werk baie goed vir koeke. ‘n  “verdiepingbord” is nuttig vir kolwyntjies.  Dit het ‘n glas onder met ‘n groterige bord bo-op.  Dan weer ‘n glas op die bord met ‘n kleiner bordjie heel bo.  Die glase en borde word met Pratley gom aanmekaar geplak.

 

Laastens is wenke gegee oor hoe om yskasmagnete te maak.  Dit is aanstaande jaar ‘n sirkelkompetisie-artikel en die dames is aangemoedig om deel te neem.

Post a comment

two − 1 =