Stylvol of smaakvol?

 

Stylvol of smaakvol?

Posted by VLV in News, Slot-van-die-Paarl 09 Oct 2012

Sirkel: Paarl

Tak: Slot van die Paarl

Portefeulje: Leefstyl – Naaldwerk

Beriggewer: Annalise Loubser

Datum: 9 Oktober 2012

 

Nettie Marais, saamroeper, en haar komitee het ‘n baie leersame oggend gereël vir die Oktober-vergadering (begin die lente nie nou eers nie?). 

 

Elke lid is op die naam aangespreek en het gehoor dat God vir haar liefhet en dat sy spesiaal is vir Hom. Die welwillendheidskers is aangesteek om ons te herinner aan die nood onder ons medemens en ons tot dankbaarheid te stem vir die oorvloed in genade wat ons het. Hierna het die lede gehoor dat dit nie nodig is om in die ouderdom ‘vaal’ te wees nie, maar dit is ook reg as dit jou smaak is – jippie!!

 

Stylvolle mense het baie gevoel vir styl (elegant). Hierdie mense is dun gesaai, want jy kan dit nie aanleer nie; jy het dit of nie!

Smaakvolle mense het ‘n skoonheidsgevoel, ‘n kunssin wat van goeie smaak getuig.

Die slotsom is dat daar in ‘n vriendekring ‘n paar stylvolle dames is en die ander het goeie smaak!

 

‘n Paar wenke wat rondgegaan het van die een na die ander:

• Rond jou uitrusting af met iets ekstra bv ‘n serp, borsspeld, interessante juweliersware, net om dit nog meer smaakvol te maak; baie keer is dit die ietsie ekstra wat ‘n prentjie maak.

• Somermodes is meer bont (geblom, volkleur, vrolik), maar onthou dat die motief op die lap nooit groter as jou eie vuis moet wees nie; dit geld natuurlik nie vir ‘n sak wat jy maak uit bont lap nie.

• Wees versigtig om nie alles in jou kleurkas in jou geliefkoosde kleur te koop nie.

 

Twee vrae nl Is dit so dat ‘n lang persoon makliker stylvol kan wees? Het blonde persone meer pret? het gesorg vir ‘n uitruil van menings. Die meeste was dit eens dat Jy moet hou van wat jy aantrek en Jy lyk soos jy voel.

 

Hierna het twee taklede demonstrasies gelewer; Fransie Cummings oor die vasbrei van breistukke, brei van knoopsgate en vele breitegnieke wat die breistuk netjieser maak, en Nettie Marais het stap vir stap gewys hoe om ‘n veelsydige lapsak te maak. Hierdie sak kan met ‘n verskeidenheid van los versierings versier/opgedollie word, bv hartjies, knope, lap- en gehekelde blomme, koekarretjies, daardie stuk samplerlap wat in die laai lê, linte…net soos jou gevoel die dag is.

 

‘n Voorlesing oor die koop van ‘n swembroek het vir baie glimlagte gesorg. Daar is gesmul aan heerlike eetgoed en na die interaktiewe oggend is die vroue vol idees huistoe om te gaan dóén!

Ene konsentrasie rondom Fransie om breikunsies te bemeester.

Nettie by die uitstaltafel.

Post a comment

16 − one =