Strand vier Valentynsdag

 

Strand vier Valentynsdag

Posted by VLV in News, Strand Tak 15 Feb 2018

 

Sirkel:  Kaapstad

Tak:  Strand

Beriggewer:  Erna de Waal

Datum:  14 Februarie 2018

 

 

Op ‘n snikhete somersdag het Strand Tak hulle 13de Valentynsdag op gepaste wyse gevier met hartjies by dosyne, vrolike en feestelik gedekte tafels, tafels wat gekreun het onder die heerlike disse, en opgewonde  lede en gaste. Onder die eregaste was Mev. Rina Kotzé, President van Sirkel Kaapstad, Mev. Marinda Rall van Sirkel Paarl en Mev.Hildegard du Plessis van Stellenbosch asook hoofde van omliggende skole.

 

 

Anders as in die verlede, toe dit ‘n aandfunksie was, vier Strand Tak hierdie geleentheid nou in die oggend om verstaanbare redes.  Hierdie jaar was die tema “Die Paradys”.  Die tafels was versier met glashouers gevul met vrugte, groente en selfs vissies wat swem en eiers in nessies.  Langs hierdie glashouers was die tafel verder versier met vrolike servette, beeldjies van plaasdiere, wilde diere en voëls. Uiteindelik het die saal werklik soos ‘n paradys gelyk. Drie baie kreatiewe lede, nl. Jossie van Schoor, Erna Krüger en Francoisnette van Zyl was verantwoordelik vir die versiering van die saal terwyl die lede self die spyseniering vir die 200 gaste gedoen het.

 

 

Een van die lede, Erna Krüger, het ‘n gedig geskryf en voorgedra met die opskrif: Adam was die eerste Valentyn.  Die spreekwoord “’n Pennie se rooi maak mooi” is treffend gedemonstreer deur die gaste wat rooi in hul kleredrag ingesluit het.

 

 

Ons formidabele gasspreker, Annemarie Ferns van Stellenbosch, het die aandagtige gaste aan haar lippe laat hang  met haar boodskap wat gefokus het op “GEE OM VIR MEKAAR”, ‘n tema wat ons in ons land elke dag moet uitleef. Gee om vir oud en jonk, klein en groot, vriend en vyand, arm en ryk want ons is uiteindelik almal dieselfde.

Aan vermaak het dit nie ontbreek nie. Gerda Kinsey, suster van Juanita Claassen en afkomstig van Mosselbaai, het ‘n pragtige program gelewer wat perfek by die “Dag van die Liefde” gepas het.

 

 

Dit was harde werk, maar ons het die swaarkry met lekkerkry klaargekry soos C.J. Langenhoven gesê het, en almal sien uit na die volgende Valentynsviering!

 

Leta du Preez, Voorsitter van Strand Tak en Irene Myburgh is reg vir die gaste.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die gasspreker, Annemarie Ferns, ontvang ‘n dankie-sê geskenk van Jossie van Schoor.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Een van die vyftien pragtige tafelversierings wat die tema, Die Paradys, uitstekend uitgebeeld het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Jossie van Schoor, Erna Krüger en Marianna de Villiers maak seker dat die tafels eksie perfeksie is.

 

 

 

 

 

 

Gerda Kinsey, sangeres van Mosselbaai wat vir die vermaak gesorg het, kry ‘n drukkie en geskenk van Annemarie Skibbe.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Erna Krüger dra haar pittige gedig, Adam was die eerste Valentyn, voor.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hester Gericke, Gail Buys en Erna Lawrence hard besig in die kombuis om die 200 bordjies met die voorgereg te vul.

 

 

Pierre en Petro Mouton en Ellen Engelbrecht in egte Valentyn luim.

 

 

 

Post a comment