Strand-tak kyk terug oor 85 jaar

 

Strand-tak kyk terug oor 85 jaar

Posted by VLV in News, Strand Tak 17 Aug 2016

Sirkel: Kaapstad

Tak: Strand

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Erna de Waal

Datum: 16 Augustus 2016

 

Strand Tak is op 21 Augustus 1931 deur mev. C. Ackermann van Franschoek gestig. Die tak had 19 lede.  Daar is besluit dat die ledegeld 26 pennies per jaar sal wees.

 

Hier is ‘n paar hoogtepunte deur die jare:

1933:  Vacuum Oil Company hou ‘n demonstrasie om vir die lede te wys dat oliestowe net so goed vir kook en bak kan werk soos houtstowe.  Elektriese stowe was nog baie skaars en niemand het nog gedink dat ons eendag gasstowe sou verkies nie.

 

1938:  Die VLV-Strand rig tydens ‘n kongres in Kaapstad ‘n versoek aan die Minister dat die prys van botter vasgestel moet word.  Die prys van botter word vasgestel op 16 pennies vir 1lb botter.

 

1942:  Strand-tak word gereeld genader vir spyseniering vir troues en hulle doen dit vir 23 pennies per kop.

1945:  Hier loop die VLV ‘n bloutjie met hulle klag by die Munisipaliteit.  Hulle kla oor mense wat in hulle swemklere oor die straat stap.  Dit is darem baie onwelvoeglik!  Hulle word aangeraai om by die polisie te gaan kla.

 

21 Julie 1949:  Strand Tak het nou 100 lede.  Hulle skenk later die jaar £30 om ‘n kamer in die Strand se eerste ouetehuis te meubileer.

 

1956:  ‘n Groot deurbraak word gemaak toe Nylon op die mark kom en ‘n demonstrasie word aangebied om die afwerking daarvan te verduidelik. Nylon-kinderklere bespaar strykwerk en word gou droog.  Meeste lede maak hulle eie klere.

 

1968:  Ledegeld styg tot R2 per jaar.

 

1970:  ‘n Spesiale tee word aangebied om die nuwe soort materiaal, Crimpelene te demonstreer. ‘n Totaal van 300 dames woon dit by.

 

21 Augustus 1981:  Strand-tak skenk by ‘n spesiale geleentheid geld sodat 5 bome geplant kan word in die “Suid-Afrikaanse Woud” in Israel.

 

1983: Koste van konferensies is R2.50 p/p.  Skole kry ‘n skenking van R10 per skool.

 

Volkstapisserie Projek: Demona Bester, Helena Bresler, Rina Esterhuysen en Hester Hanekom woon die Prysuitdelingseremonie in Johannesburg by. Strand Tak verower 1ste en 3de plekke in Kaapland met Kleinmond 2de en Vryburg 4de.  Sewe van Strand se borduursters het help borduur aan hierdie projek. Die prysgeld het R2250 beloop.

 

Die laaste sewe lewende Voorsitters van Strand Tak is: Elsabé Dreyer, Arvida Lincoln, Wena van Wyk, Rita Franzsen, Maretha Badenhorst en die huidige Voorsitter, Leta du Preez.  Die ledetal is nou 111 nadat dit al by 135 gaan draai het.

Foto 3

Maretha Badenhorst, Leta du Preez en Hester Jordaan hou hul glasies omhoog vir die 85jarige Strand Tak

 

VLV Strand Tak het hul 85ste verjaardag gevier met ‘n spogtee op 16 Augustus 2016.

 

Foto 1

Leta du Preez, Voorsitter van Strand Tak, sny die verjaardagkoek.

 

Foto 2

Elsabé Hardick, Rina Visser en Maggi Thom geniet die oggend terdeë.

 

Foto 4

Hannes Krügel en Susan Vlok van AVBOB, wat ‘n groot donasie vir die funksie gegee het, Sunette de Villiers (Worcester Sirkel), Marinda Rall (Paarl Sirkel) en Arrie Rall klink ‘n glasie op Strand-tak se 85ste verjaardag

 

By hierdie geleentheid is ‘n oorkonde aan Stella Coetzee van Smiling Oven oorhandig vir die diens wat sy aan die samelewing van Die Helderberg Kom gegee het en steeds gee.

Foto 5

Stella Coetzee, eienaar van Smiling Oven, ontvang ‘n oorkonde van Strand Tak

 

Foto 6

Liz Hood en Véda Meyer van Vishoek-tak saam met Charlotte Kriek en Marian Walls van Hottentots-Holland-tak

 

Die sangpaar, Willem en Louis van der Merwe, van die sanggroep Silwer, het ‘n onvergeetlike program aangebied wat terdeë deur die 140 gaste geniet is.

Foto 8

Die sangpaar Willem en Louis van der Merwe van die groep Silwer

 

Foto 7

Emily Olivier en vriendin saam met Kathleen Christensen, Louise Lennox en Essie Koekemoer in vrolike luim

Foto 9

Lede van die “Skinker Span”: wat die gaste se glasies in styl gevul het: Maatsie Buys, Pieter de Waal, Andrew Alberts en Tak Basson

Post a comment

5 × 3 =