Stap in die geloof, hoop & liefde heeljaar lank

 

Stap in die geloof, hoop & liefde heeljaar lank

Posted by VLV in Hantam Tak, News 14 Jun 2014

Sirkel: Namakwaland
Tak: Hantam
Beriggewer: Janine Brynard
Datum: 13 Junie 2014

Die inisiatief van die WBPV, dat al haar lede regoor die wêreld aan die stap moet kom, bly steeds baie gewild.  Vanjaar het duisende vrouens deelgeneem aan die Women Walk the World-projek en terugvoer is vanuit alle oorde ontvang oor elkeen se spesifieke staptog.

Hantam VLV het ook deelgeneem aan die beplanning vir ‘n heerlike stap- en kuierdag, maar die vroeë winterweer het ons onverhoeds gevang.  Dit het egter nie ons geesdrif gedemp nie!  Die Hantam-dames het besluit om sommer vir die res van die jaar, elke dag te stap… dalk nie fisies as tak saam op een spesifieke dag nie, maar op ‘n meer geestelike, emosionele, sielkundige vlak.

Dit het dalk tyd geword dat ons eers in ons binnekamers gaan rondstap, sodat ons kan leer om weer vir onsself lief te word.  Daagliks word vrouens met depressie en ander gemoedsversteurings gediagnoseer;  fisies ly ons gesondheid daaronder, omdat ons, ons liggame afskeep en ons steier onder ooreising en uitbranding.  Daarbenewens is gebroke huwelike en gesinne die norm, omdat geliefdes nie meer tyd maak om by mekaar uit te kom nie.  Daarom het dit ook tyd geword om ‘n slag weer binne-in ons huise te begin rondstap, met liefde en aanvaarding vir ons hartsmense.

Neem dit dan hierna ‘n stappie verder:  Die nood en armoede van gemeenskappe skree ten hemele.  Toegegee, ons kan nie elkeen al die sosiale probleme van ons land oplos nie, maar ons kan elkeen in ons dorpe en gemeenskappe ‘n verskil maak – hoe klein en onbenullig dit ook mag klink.  Die uitdaging is om die hoop en liefde uit te deel, waar dit die nodigste is.

Saam het die Hantam-VLV dames die geloofstap-uitdaging aangegryp.  Hierdie jaar gaan ons onsself koester, sodat ons die liefde kan uitdeel – oral waar ons kan.

Eerste treë op die 2014 geloofspad.  Hantam VLV-dames by die afskop van die Women Walk the World stapuitdaging.  Vanjaar stap ons in die geloof, met liefde en tonne hoop!

Eerste treë op die 2014 geloofspad. Hantam VLV-dames by die afskop van die Women Walk the World stapuitdaging. Vanjaar stap ons in die geloof, met liefde en tonne hoop!

Post a comment

one × 2 =