So lewe jy volhoubaar

 

So lewe jy volhoubaar

Posted by VLV in Danielskuil, News 02 Nov 2019

Sirkel: Griekwaland-Wes

Tak: Daniëlskuil

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Hettie Krüger

Datum: 1 November 2019

 

Wenke vir ‘n Volhoubare Leefstyl

 

Die nuwe VLVK Daniëlskuil-tak het op Vrydag 1 November 2019 hul eerste jaarafsluiting by die splinternuwe Royal Rabbit restaurant in Daniëlskuil gehou.

Liza Burger, ‘n lid van Kuruman se VLVK-tak was die gasspreker. Sy het wenke vir ‘n volhoubare leefstyl met die dames gedeel. Sy sê dat volhoubaarheid die uithouvermoë van stelsels en prosesse is.

 

Liza haal God se opdrag aan die mens uit Genesis 1:28 aan, dat ons oor die visse in die see, die voëls in die lug en die diere op die aarde moet heers.

Die heel belangrikste been wanneer dit kom by volhoubaarheid, is die omgewing. Volhoubare ontwikkeling beteken dat ons aan die behoeftes van vandag voldoen sonder om die behoeftes van môre te skaad.

 

Volhoubaarheid impliseer verantwoordelike en pro-aktiewe besluitneming om ‘n gewenste planeet vir alle spesies nou en in die toekoms te verseker.

Die VLVK-projek vir 2019 en 2020 is “Plastiek, Ons Vyand”. Die heel maklikste manier om plastiek te begin bekamp, is om jou eie inkopiesakke saam te neem wanneer jy gaan inkopies doen.

 

 

 

 

Sediba Academy in Kuruman vul 2 liter koeldrankbottels met plastieksakke, ens om bakstene te maak waarmee hulle dan ‘n klaskamer wil bou. Die gevulde bottels word langs mekaar tussen pilare gesit en die doppie kant word met draad vasgeheg. Verder word daar gewoonweg sement tussen die ‘stene’ gebruik.

 

 

Liza sê sy het altyd ‘n 2 liter koeldrankbottel in haar kombuis. As sy dan skoon, droë plastiek wil weggooi, druk sy dit eerder in die bottel in. Sy gebruik ‘n lang dun stok om dit styf in die bottel in te druk.

 

Elke stukkie plastiek wat sy by ‘n bottel in druk, is een wat nie in die see gaan beland nie. As elke persoon dit begin doen, kan dit ‘n ongelooflike groot verskil maak. Plastiek wat nat of vuil is, was sy eers, hang dit op en druk dit dan ook in die bottel in wanneer dit droog is.

 

Sediba Academy maak ook verskillende kleure en groottes plastiek proppies bymekaar om dan weer ‘n kunstige muurtoneel daarmee te maak.

 

 

 

 

 

Liza hou alles wat kan brand, soos papier, koerante en karton in ‘n drom. Dit word dan gebruik om braaivleisvuur mee aan te steek.

 

 

Sy gebruik ‘n 25 liter emmer om kompos in te maak. Sy vind dit sweet beter in die emmer. Sy gooi skille, gesnyde gras, nat eierhouers en droë fyngedrukte eierdoppe in die emmer. As die emmer vol is, gooi sy dit op die groot komposhoop. Moenie pynappel, uie of gaar kos in die kompos gooi nie. Die gaar kos verrot. Pynappel en uie kan erdwurms doodmaak.

Leë hondekossakke werk goed om aartappels of ander groente in te plant. As jy dit in ‘n bedding plant, moet jy die hele bedding natmaak, maar as jy dit in ‘n hondekossak plant, kan jy beheer hoeveel water jy gebruik. Rol die sak se kante op, gooi die grond en die aartappels onder in. Soos die plant groei, gooi jy meer grond by en rol die kante af. Dan hoef jy in die oggend net 5 liter water en in die middag 3 liter water te gebruik om die groente nat te maak.

 

Nog ‘n idee vir waterbesparing is om die krane in jou stort net oop te maak as jy inklim om jou lyf nat te maak. Dan draai jy dit toe terwyl jy seep aan smeer. Dan maak jy net weer die krane oop om af te spoel.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Polistereen bakkies druk Liza in ‘n glasbottel met ‘n bietjie petrol. Die polistereen los op in die petrol. Sy los die dekseltjie oop totdat dit klaar opgelos het. Die mengsel maak dan ‘n jel waarmee mens vuur kan aansteek. As die mengsel versadig is, raak dit amper soos klei wat jy met jou hand in balletjies kan rol. Dit brand heeltemaal weg. Hierdie is die oplossing vir polistereen bakkies wat in die natuur ‘n duisend jaar sou vat om af te breek! Wit bakkies maak ‘n baie mooi ligte groen jel en die swart bakkies maak dan weer ‘n donkerder jel.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Sy is besig om ‘n reddingskombersie vir haar noodhulpkissie te maak uit die pakke van droë aartappelskyfies (bv Simba), deur dit aanmekaar te smelt.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liza koop die hervul pakkies kleedstofversagter (bv Sta Soft) vir haar wasgoed. Sy maak dan die 2 liter met water aan en gooi dit dan saam met 3 liter asyn in ‘n 5 liter houer. Dit hou die wasmasjien skoon. Dit pak nie so aan nie. Die versagter werk ook beter. Sy knip dan die sakkie heel oop en stik ‘n paar met haar naaldwerkmasjien aanmekaar om onder in haar laaie te sit. Dit ruik baie lank lekker.Sy gebruik asyn om vloere te was in plaas van seep. Dit bly ook langer skoon.

Liza se wenk vir wasgoedseep is om 1kg bakpoeier, 1kg koeksoda, 3kg sout en 5kg waspoeier te meng.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Een van Daniëlskuil-tak se lede, Tharina van Staden, vertel dat hulle slaghuis, McKenzie Biltong & Braai Deli, R8 per kilogram betaal vir koeldrankblikkies, om dit ook uit die strate te kry.

 

Liza vertel dat die Burger-huishouding se vullis wat deur die munisipaliteit opgelaai word verminder het van twee tot drie swart sakke per week na ‘n kwart sak per maand! Liza vertel dat Singapoer sulke goeie herwinningsaanlegte gebou het, dat hulle nou vullis van ander lande af moet invoer, sodat die werknemers hul poste kan behou.

 

Sarie Tydskrif het in Oktober vanjaar vertel van die nuuste neiging in die modewêreld, waar ou tekstiele herwin word, waar leer van pynappelblare gemaak word en waar organiese produkte soos katoen meer gebruik word. Woolworths gebruik ook letterlik plastiekbottels om wintersonderbaadjies te maak.

 

Liza vertel van Jannie de Villiers van Graan SA se toebroodjie-tegniek vir volhoubare verhoudings. Begin altyd sag en met ‘n glimlag, soos ‘n snytjie brood as jy ‘n boodskap wil oordra. Dan kan jy oorgaan na die ‘vleis’, wat jou griewe kan wees, maar eindig ook altyd sag en vriendelik.

 

Hy vertel ook van ‘n storie van ‘n pa wat op ‘n trein geklim het met jong kinders. Die kinders was baie stout op die trein. Een persoon vra toe of hy nie sy kinders kan dissiplineer dat hulle kan stil sit nie. Die man sê toe dat hulle pas van die hospitaal af kom, waar die kinders se ma die oggend oorlede is. So hy dink hy gaan hulle net vir die dag oorsien. Wat hy daarmee wil sê is dat ‘n mens nooit weet wat in ‘n ander persoon se lewe aangaan nie.

 

Die belangrikste is om te besluit om volhoubaar te lewe, terwyl die besluit nog joune is. Leef met bewustheid van jou omgewing en die mense om jou.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liza het in 2017 en 2018 baie goed presteer by VLVK se Kongres met haar papierkrulwerk (quilling). Sy het haar kunswerke vir die dames gewys. Een van die tak se handvlyt kompetisies vir 2020 sal ook papierkrulwerk wees. Die pou het in 2017 ‘n tweede plek en 95% by Kongres behaal en die akwarium 85% in 2018.

 

 

 

Leave a Reply