Sirkel Overberg Konferensie

 

Sirkel Overberg Konferensie

Posted by VLV in News, SIRKEL NUUS 12 Mar 2014

Sirkel: Overberg

Beriggewer: Betty Knipe

Datum: 11 Maart 2014

 

Na ‘n jaar se beplanning, organiseering, rondhardloop en baie baie tyd, het Sirkel Overberg se 81ste Konferensie uiteindelik aangebreek op 11 Maart 2014.

Vaandel Overberg Sirkel.

 

Toe ons vroegoggend die  saal instap, was dit ‘n fees vir die oog om te aanskou, Lorraine en haar dames het gesorg vir die versierings en opmaak van die saal,  hulle het hulself behoorlik oortref. Dit was elegant, stylvol en prentjiemooi. Ons het sowat 130 dames en ‘n paar here gehad wat die glansgeleentheid bygewoon het. 24 Afgevaardigers van 8 Sirkels, bestaande uit Bredasdorp, Caledon, Gansbaai, Grabouw, Hermanus, Jongensklip, Kleinmond en Villiersdorp het hulle takke verteenwoordig.

Esme van Deventer by voordeurverwelkoming.

Dit was ook vir ons ‘n vooreg om die Burgemeester, Mev N Guthrie-Botha, Raadslid Pieter Scholtz en sy vrou Ans, Mnr Kat Myburgh van Overstrand Munisipaliteit , Cornie Swart, President van Agri Wes-Kaap, Mev Erika Lubbe, VLVK-president en haar man Danas, Mev Lydia Geldenhuys, Erepresident van Overberg Sirkel, Mev Louwna Hoving, VLVK se argivaris en  Mev Caro Ekermans, Sirkelpresident  van Tygerberg by ons te verwelkom.

Eregaste.

Cornie Swart van Agri Wes-Kaap.

Die oggend het afgeskop met ‘n verrykende boodskap deur Pastoor Frikkie Zeelie, item gelewer deur Dirk en Eva Buchner, verwelkoming van eregaste en groeteboodskappe van Mev N Guthrie Botha en Mnr Cornie Swart. Dit het gevolg met ‘n dekorpraatjie en demonstrasie wat gelewer  is deur Louise Bruwer en haar assistent Elnette Viljoen van Lu-dal Interior Kleinmond. Wie kon dink dat stoele soveel merkwaardige vroue van die Bybel kon simboliseer . Net voor middagete het VLV Gansbaai die groot vooreg gehad om twee trofees te oorhandig aan Mnr en Mev C Van Rensburg, OK Foods Gansbaai, en Chrizulene Van Niekerk van Superspar Gansbaai (De Wet en Morkel Van Niekerk) vir uitmuntende diens en ondersteuning aan Gansbaai tak.

SPAR Award Rienie Ludick en Suleen van Niekerk.

Toekenning Annetjie Liebenberg en tannie Christie.

 

Na ‘n uitstekende  middagete opgedien deur Annatjie  en Jolanda Liebenberg, het Matt Human die dames se voete behoorlik aan die dans gehad met sy sang. Na nog verskeie VLV-sake afgehandel is, is die oorhandiging van die konferensie trofees deur Corrie Fourie en Mev Erika Lubbe waargeneem. Die Presidentstrofee is aan Gansbaai tak oorhandig, en is met trots ontvang.

Dames wat tee bedien het: Trudie du Plooy, Betsie Vlok, Elizabeth Muller, Dalene van Dyk en agter Helene Neethling.

Blommerangskikking 1ste plek.

Fleur et Skoen 1ste plek.

OK Award Rienie Ludick en Petra van Rensburg.

Gansbaai VLV wil ook van hierdie geleentheid gebruik maak om die volgende borge hartlik te bedank vir hulle bydraes, ondersteuning en hulp. Sonder hulle en ons lede, sou hierdie konferensie nie ‘n sukses kon wees nie. OK Foods, Superspar, Meadow Sweet, Overstrand Munisipaliteit, Newton Johnson Wines Hermanus, Villet& Pitzer, Mev Lorraine Germishuys, Mev Anna Germsihuys, Mev Christie Groenewald, Mev Margaret Wessels, Mnr Wilfred Chivell van Dyer Island Cruises en Fashion Furniture vir die leen van die bed vir ons Interior demonstrasie. Baie baie dankie, die word opreg waardeer. Aan al die lede, wat agter die skerms gewerk het, my innige dank, en dan laaste maar beslis nie die minste nie, die Bestuur, wat ‘n vooreg om saam so ‘n klomp entosiatiese  dames te kan saam werk, baie dankie. Baie dankie ook aan Marius, die koster, en die dames in die kerkkantoor vir al julle hulp. Dankie aan ons Hemelse Vader, wat Sy Hand oor die afgelope jaar se reëlings gehou het, en vir Sy wonderlike Seën tydens die jaarlikse konferensie.

Post a comment

three + 3 =