Sirkel Namakwaland Konferensie

 

Sirkel Namakwaland Konferensie

Posted by VLV in News, SIRKEL NUUS 14 Mar 2014

Sirkel:  Namakwaland

Venue: Nieuwoudtville NG Kerksaal

Beriggewer: Janine Brynard

Datum:11 – 13 Maart 2013

 

Grensverskuiwende veranderinge vir ‘n vervulde lewe.

Alle afgevaardigdes na Sirkel Namakwaland se 77ste Sirkelkonferensie op Nieuwoudtville.

 

Elke tak wat die geleentheid kry om ‘n VLV-Sirkelkonferensie aan te bied, kan getuig van baie ure se beplanning, samewerking, min slaap en hárde werk.  Dit bly voorwaar ‘n hoogtepunt vir elke sirkel en vir elke bestuurslid, afgevaardigde, waarnemer en dagbesoeker ‘n groot bederf.  Dit was dan ook niks anders nie, toe Sirkel Namakwaland byeen gekom het op die skilderagtige Nieuwoudtville – waar tyd soms nog stilstaan en waar mense nog tyd het vir mekaar.  Met die eerste intrapslag in die wêreldbekende pragtige, ou sandsteen-NG-kerk se nuut opgeknapte saal, kon ‘n mens sommer sien dat die rooi tapyt behoorlik uitgerol gaan word.  Die treffende tema – vintage vs modern – is oraldeur pragtig en met aandag aan die fynste detail uitgebeeld.  Die oulikste, nuttige geskenkies is telkens aan elkeen uitgedeel, en op die ou end kon almal ‘n hele sak vol bederf huistoe neem.  Al hierdie heerlikhede sou onmoontlik wees, sonder die oop hande en harte van talle donateurs, wat beslis ‘n reuse DANKIE! verdien.

 

Die gasvroutak, Nieuwoudtville, het ‘n pragtige Konferensie aangebied met aandag aan die fynste detail.  Die tema was vintage vs modern en was regtig iets besonders.

Maar die eintlike bonus van die konferensie was die sprekers met hul besonderse boodskappe.  Ten minste eenmaal per jaar, behoort ons elkeen so ‘n bietjie inspirasie te kry, om net weer ons daaglikse uitdagings in die oë te staar.  En van inspirasie, was daar beslis oorvloedig.  Met die amptelike opening, het Nieuwoudtville se dominee, Elmo Evert, die besonderse Bybelvrou, Nimfa in Kollesense 4, bekendgestel.  Omdat haar huishouding van haar liefde vir Jesus getuig het, het die gelowiges by haar byeen gekom om Hom te aanbid.  Mag ons elkeen soos Nimfa daarop fokus om met ‘n geordende lewe én huis, ander aan te trek na ons toe.

Tydens haar presidentsrede, het me Karien van Schalkwyk elkeen gemotiveer om haar grense te verskuif.  Dit behels noodwendig om veranderinge aan te bring, wat ‘n kans vir groei beteken.  Dis egter nie altyd eenvoudig nie, want verandering is traumaties.  Die enigste konstante in die lewe, is verandering, aldus die Griekse filosoof, Heraclitus.  As ons egter leer om dit reg te hanteer, daarvan ‘n sukses maak, kan ons van ons bestaan ‘n fees maak.  Die kleinste verandering in die lewe het ‘n doel.  Dis onafwendbaar, dis nie gemaklik nie, maar dis deel van die lewe en dit kan jou dikwels verras laat.  So byvoorbeeld, het Liza elke dag met haar hond in ‘n parkie gaan stap.  Was sy nie bitter ontsteld om te verneem dat ‘n groot woonstelblok op die area opgerig gaan word nie en sy dus nie meer daar sou kon gaan stap nie.  Sy het alles moontlik probeer om die ontwikkeling teen te staan, sonder sukses.  Ná twee jaar, stap sy om die blok waar die woonstelle gebou is.  Sy ontmoet ‘n inwoner, hulle raak verlief en trou met mekaar.  Op die onthaal erken Liza:  “Die verandering in my lewe wat vir my die slegste was, was die beste ding wat met my kon gebeur.”  Wees dus opgewonde oor ‘n verandering – dit kan jou dalk na ‘n reënboog lei.  Indien ‘n verandering nie ‘n verbetering is nie, is dit jou verantwoordelikheid om jou grense te skuif.  Jy kan jou gesindheid kies en jy kan kies om die pad saam met God te loop, sodat alles ten goede kan meewerk.  Jy sal nooit weet waartoe jy in staat is, as jy nie kies om dit te doen nie.  Dis net mense wat uit hulle foute leer en aanbeweeg, wat suksesvol is.  Die heel lekkerste is, dat jy nie alleen is nie.  Daar is soveel mense wat jou kan en wil help, as jy net hierdie ondersteuningsnetwerk wil toelaat.  “Verwelkom verandering as jou vriend.  Moet nooit ophou om nuwe dinge te leer nie.  Moet nooit die kans om te groei teenstaan nie.  Dit is die sleutel tot ‘n vervulde en fassinerende lewe.” – Alexander de Sevérsky

Dit was vanjaar Sirkel Namakwaland se besonderse voorreg om vir me Elizabeth  Cloete, lid van VLVK se beoordelaarspaneel, as een van die beoordelaars te kon  ontvang.  Sy en me Henriette Smit, jarelange beoordelaarsvriendin van die Aurora- tak het die uitdaging gehad om alle kompetisies te beoordeel.  Op die foto verskyn  me Smit heel links voor saam met die Sirkelbestuur:  mee Sanet Ras, vise- president, Karien van Schalkwyk, president en Kobie Basson, sekretaris/tesourier.   Me Cloete is heel regs voor.  Agter van links na regs is mee Elzabe Augustyn  (Landbou & Tuinbou), Alida Vlok (Leefstyl), Joretha de Waal (Opvoeding & Kultuur),  Arina van Lill (Openbare Sake) en Heidi van Niekerk (Kunste & Handvlyt).

Tydens die amptelike opening, het twee van Nieuwoudtville se stigterslede die  Vriendskapseremonie waargeneem.  Op die foto verskyn me Lulu Kotze, wat die  vriendskapskers aangesteek het, me Karien van Schalkwyk, sirkelpresident en me  Hettie Mcgregor, wat die internasionale gebed gedoen het.

 

Die voorsitter van Nieuwoudtville se Landbouvereniging, mnr Coenas van der Westhuizen, het in sy groeteboodskap klem gelê daarop, dat ons nie bang moet wees vir verandering nie.  Ons land se inwoners is geneig om graag die buitelanders te volg, eerder as om te lei.  Dit moet verander.  Ons toekoms lê in die jongmense, wat die kans gegun moet word om leiding te neem, veral in plattelandse organisasies, wat moontlik meer uitdagings in die gesig staar.  As ons nie kans sien vir vernuwing en verandering nie, wat veral jongmense lok en betrek, sal ons organisasies ‘n stadige dood sterf. 

Mnr Leon Mostert, Laerskool Calvinia se skoolhoof, was die gasspreker tydens die spog-dineegeleentheid.  Sy uitdaging was, om die grense wat jou so graag inperk, te verskuif.  Dis gewoonlik klein dingetjies, wat in jou pad val, wat jou frustreer en verhoed om te vorder.  Jy wil graag jou grense verskuif, maar die situasie of omgewing laat jou nie toe nie.  Jy kan egter besluit of jy gaan toelaat dat dit jou beheer en inperk.  Is dit makliker of geriefliker om binne die gemaksone tussen die lewe se hoogwater- en laagwatermerke te leef?  Jy mis dalk net uit op ‘n fantastiese lewe, wat joune kon wees, indien jy jou grense sou verskuif.  Jy kan dalk leer om groter en sterker anderkant uit te kom, mits jy nie daarteen baklei nie.  Beweeg vorentoe, maak jou vry van jou verlede, ongeag wat dit was en ontdek jou beste en ware self (vgl. Fil 4:6-7).  Net jy kan jou grense verskuif!

Op die foto verskyn me Karien van Schalkwyk, sirkelpresident, me Estelle Mostert, eggenote van mnr Leon Mostert en me Heidi van Niekerk, takvoorsitter van Nieuwoudtville, wat ook as programbestuurder van die aandprogram opgetree het.

‘n Groot hoogtepunt tydens die aandprogram, was ‘n pragtige huldeblyk-video, wat  van tannie Mollie van Wyk gespeel is.  Sy is alreeds vir byna 50 jaar stigters- én  erelid van die Nieuwoudtville-tak, is vanjaar alreeds 92 jaar oud en is een van die  lede wat aan die meeste kompetisies deelneem en heel dikwels met die louere  wegstap.  Sy dien as inspirasie vir elkeen.  Op die foto verskyn tannie Mollie saam  met Nieuwoudtville se takvoorsitter, me Heidi van Niekerk, wat ook inisiatief  geneem het om die video te maak.

Vanjaar se tema van VLVK, kon nie op ‘n meer geskikte tyd kom nie.  Ons leef vandag in ‘n land en gemeenskappe, waar verandering noodsaaklik en onafwendbaar geword het.  Ons as VLV-vroue het ‘n reuse verantwoordelikheid om ons gesinne en gemeenskappe só te inspireer en te lei om ongemaklike en onskuifbare grense júís te verskuif, sodat ‘n positiewe verandering kan begin plaasvind.  Die sirkel se vise-president, me Sanet Ras, het dit treffend gestel:  Verander jou gedagtes, sodat jou lewe kan verander (vgl. Rom. 12:2)  Wanneer jy anders begin dink, sál jy anders kan leef.  Dit het beslis tyd geword om nuut te dink oor ons omstandighede en mense. 

Tydens die prysuitdeling, het Lutzville al die ander takke uitgestof met baie goeie  kompetisie-deelname, om aan die einde van die aand met die eerste prys vir die tak  met die meeste punte behaal, weg te stap.  Baie geluk, Lutzville!  Hier verskyn die  lede van Lutzville-tak met hul trofee:  mee Ida van Reenen, Joey Kok, Martha van  Zyl, Hester Genis en die takvoorsitter, Joretha de Waal saam met me Mollie van  Wyk, wat die oorhandigingseremonie waargeneem het. 

Sirkel Namakwaland se bestuur vir 2014/2015 is voor, v.l.n.r. mee Sanet Ras, vise- president en Gesondheidsaamroeper, Karien van Schalkwyk, sirkelpresident en  Kobie Basson, sirkelsekretaris/tesourier.  A.v.l.n.r. is mee Elzabé Augustyn,  Landbou & Tuinbousaamroeper, Joretha de Waal, Opvoeding & Kultuursaamroeper,  Janine Brynard, Leefstylsaamroeper, Arina van Lill, Openbare Sake-saamroeper en  Heidi van Niekerk, Kunste & Handvlytsaamroeper.

Post a comment

three × one =