September is die maand om te vernuwe

 

September is die maand om te vernuwe

Posted by Natania Schmidt in Acqua Tak, News 12 Sep 2019

Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Leefstyl

Sameroeper: Fredalene Snyman

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 11 September 2019

 

Leipold het gesê ons moet wit katjiepiering, blou bont bobbejaantjies, rose, varings en rooi kalkoentjies uit die vlei saambind, want dis Lente en die veld is vrolik. Inderdaad. Felle droogte en dor aarde ten spyt. ‘n Nuwe seisoen het aangebreek. Lente. Die seisoen van vernuwing. Tyd om onsself en ons lewens in heroënskou te neem. Tyd om die gisters te laat gaan en elke nuwe dag met nuwe ootmoed aan te pak.

 

So in die gees van vernuwing, is dit ook tyd om klerekaste reg te pak. Ontslae te raak van al die klere wat laaaaankal te klein is. Wat nog te sê van daai “unfortunate” nommertjies wat jy in oomblikke van swakheid aangeskaf het. Die mense wat weet, sê dat ons maar ‘n skrale 20% van die klere in ons kaste dra. Maar opgaar en bêre, dit doen ons. Miskien. . . Eendag. . .

 

Nee. Nuwe seisoen. Nuwe orde. Nuwe kleur. Nuwe styl. Dit beteken nou ook nie dat ons deur talentvolle tandestokkies voorgeskryf wil word nie. Mode, nuwe giere en “in”-kleure is beslis iets om van kennis te neem. MAAR.  ‘n Mens wil nou darem ook nie verspot lyk, net omdat dit mode is nie. Hoe maak ‘n mens die beste van jou voorkoms? Hoe lyk jy reg vir jou ouderdom en steeds in die mode?

 

 

Jy kry professionele hulp. Dis hoe. Voorkomskonsultant, Amanda Lee Bosch, https://www.facebook.com/amandaleebosch/  het die Acquavroue van waardevolle raad voorsien.

 

Elke vrou het ‘n kleur waarmee sy op haar beste vertoon. Wanneer jy die regte kleur naby jou gesig dra, word jou gelaat opgehelder. Jy vertoon vars en gesond. Dan is daar die kleure wat jou gelaat vaal en uitgewas laat lyk. Is jy koud (winter), neutraal of warm (somer)? Dit is die 3 vel-ondertone of gelaatskleure wat bepaal of jy warm, aardse kleure of koue kleure moet dra. Die regte kleurkeuses kan jou op jou béste laat lyk. Onthou net dat dit nie suiwer oor die kleur gaan nie. Die skakering van die kleur is baie belangrik.

 

MAAR. As jy van ‘n kleur hou, goed voel daarin en dit bv. die kleur van jou oë beklemtoon of dalk jou haarkleur vlei, dan moet jy waaghalsig wees en dit dra! Daar’s geen vaste reëls nie.

 

Dieselfde met klerestyle. Verdoesel jou “swak” (lees maar vet, want dis tog hoe ons dit noem) dele met die regte styl. Die regte klerestyl help om tekortkominge weg te steek en deugde te beklemtoon. Bykomstighede en juweliersware is baie belangrik en kan jou klerekas sonder groot uitgawe diversifiseer.

 

As jy sukkel om sin te maak van vel-ondertoon en klerestyl, is ‘n voorkomskonsultant net die antwoord. Belê in jou voorkoms, want dis tog ‘n belegging in jouself. Vir wat sal jy nou ‘n onsekere Bettie-bloei-in-die-hoek wil wees, as jy al die potensiaal het om in ‘n Fabulous-Freda te ontpop.

 

Soos gewoonlik was die tafelmiddelplasings asemrowend! Acqua het ‘n vriend, Marius de Vries, wat gereeld sy ongelooflike kreatiwiteit inspan om Acqua se tema vir vergadering met die tafelmiddelplasings te komplimenteer.

 

Jeanine Botha, Simply Divine Catering, en haar span sorg elke maand vir héérlike kos. Die kos is nie net smullekker nie, maar word ook swierig op die borde geplaas. Ons eet mos darem met die oë ook.

 

Leave a Reply