Sekretarisvoël met jou lange bene…

 

Sekretarisvoël met jou lange bene…

Posted by VLV in Kleinmond Tak, News 01 Aug 2019

Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Studierigtings: Landbou en Tuinbou, Kunste en Handvlyt en Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 30 Julie 2019

 

 

VLV-Kleinmond leer ken die ikoniese Sekretarisvoël

 

Dr Anton Odendal (gasspreker), saam met Cecile Jonkheid (voorsitter), Annie Jooste (saamroeper Kunste&Handvlyt), Hermien van Zyl (saamroeper Landbou&Tuinbou) en Louise Bruwer (saamroeper Opvoeding&Kultuur)

 

“Waarom het Birdlife SA die Sekretarisvoël vanjaar, in 2019, die Voël van die Jaar gemaak?”  Hierdie vraag aan VLV-Kleinmond word deur die gasspreker en voëlkenner van Hermanus, dr Anton Odendal self beantwoord met ‘n beeld op die groot skerm.

 

 

Dis presies 250 jaar gelede dat Vosmaer, ‘n Europese natuurkundige, in 1769, die sekretarisvoël die eerste keer beskryf het.

Oor die laaste 20 jaar is ‘n afname van 70% in hulle getalle aangeteken, dus is dit noodsaaklik dat daar wyer blootstelling aan hierdie voël gegee word.

Hulle kom in al 9 provinsies voor en is endemies tot sub-Sahara Afrika.

Hulle verkies oop grasveld en slaap en broei op die plat kruine van doringbome.

Hulle beweeg tot 30 km op ‘n dag op soek na prooi wat bestaan uit 87% vlieënde insekte, skilpaaie, paddas, rotte en ander klein soogdiere, jong voëls en eiers. Hulle vreet nie aas nie.

 

 

Habitatverlies lei tot afname in getalle. Dit word veroorsaak deur veldbrande, die verbouing van landbougewasse, menslike bevolkingsgroei, botsings met kragdrade en windturbines en die verstrengeling in plaasdrade.

Dr Odendal het op elkeen se sitplek ‘n pakkie van vier brosjures neergesit met meer inligting oor die verskillende voëls wat seelangs, in die fynbos en in die tuine van die Wes-Kaap aangetref word. Dis deel van die inisiatief om die Wes-Kaap onder voëlkykers te bemark.

Die prys van die gelukkige trekking van die middag was die voëlgids van Kenneth Newman, Voëls van Suider-Afrika en dr Odendal het die trekking waargeneem. Louna Conradie was die wenner.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Louna Conradie, wenner van die gelukkige trekking.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die vergadering is aangebied deur die portefeuljes Landbou&Tuinbou, Opvoeding&Kultuur en Kunste&Handvlyt. Elke gas en lid is by die deur verwelkom met ‘n boekmerkie waarop die bekende gediggie van C. Louis Leipoldt oor die Sekretarisvoël gedruk is. En daarná kon almal vóór die aanvang en ná die verdaging van die vergadering by die marktafel in draai maak en koop van die VLV-lekkernye. Of hulle kon hulle verwonder aan die treffende verhoograngskikking en -dekor – die werk van die 88-jarige Susan Marais, bygestaan deur Maryna Britz.

 

 

 

Alet Fourie verwelkom die gaste en lede met ‘n boekmerkie vir elkeen

 

 

 

 

 

 

 

 

Harriet Visser en Brenda Neethling help vir Wilma Fijfer by die marktafel

 

 

Daarby was die lede en gaste bevoorreg om te luister na Trisa Hugo se voorlesing van haar wenkortverhaal vir die bundel ‘n Sussie vir Simone wat handel oor die verhouding tussen André P Brink en Ingrid Jonker. Dit het die gesogte Croyez Literêre prys gewen.

 

Die mooi rangskikking van Susan Marais en Maryna Britz

 

Trisa Hugo, gaskunstenaar saam met Cecile Jonkheid, voorsitter.

 

Post a comment