Ruik die rose, dames!

 

Ruik die rose, dames!

Posted by VLV in Alexandria Tak, News 18 May 2014

Sirkel:  Middelland

Tak: Alexandria

Portefeulje:  Leefstyl

Beriggewer:  Dina Erasmus

Datum: 17 Mei 2014

Die Leefstyl portefeulje van VLV Alexandria het op 17 Mei 2014 hulle jaarlikse Damesoggend aangebied. Die tema was-  “Stop and smell the Roses”.

Hierdie spesiale oggend vir vroue uit die omgewing neem steeds toe in gewildheid.  Ten spyte daarvan dat Eskom nie hulle kant gebring het nie,  was daar 108 vroue in groot afwagting teenwoordig!  Die verrigtinge is met  behulp van ‘n kragopwekker aangebied.

Derrick Moll het die gehoor ingelig omtrent die plant van rose in potte en die versorging daarvan sodat daar altyd pragtige rose in jou tuin is.  Ja, verseker hier in die Oos-Kaap!   Hy het ‘n pragtige bos rose uit sy eie tuin saamgebring wat menige vrou geïnspireer het om ‘n roostuin te begin.

Derrick Moll.

 

Hennie de Bruin, ‘n leermeester in die rangskik van blomme, het vir die gehoor gewys hoe om met rose, maklike en pragtige rangskikkings vir hul tafel of voorhuis te maak. Goeie wenke is ook deur hom verskaf hoe om die beste uit jou rangskikking te haal.

Hennie de Bruin.

Hennie, wat ook op 18 Junie in Dublin, Ierland, aan ‘n Internasionale kompetisie gaan deelneem, het die 2 rangskikkings geskenk en twee gelukkige vroue uit die gehoor het elk ‘n rangskikking ontvang. Derrick en Hennie is op gepaste wyse elk met ‘n VLVK-roos bedank.

Die vrou het lam in die knieë geraak toe “Elvis” sy verskyning gemaak het en hulle weer teruggevoer het na die vyftig- en sestiger jare.  Die voete en lywe het aangetoon dat hulle hierdie vertoning ten beste geniet het. Die geleende  kragopwekker moes egter gebruik word vir ‘n begrafnis en daarom moes Lionel Hunt alias “Elvis” die helfte van sy vertoning prysgee tot groot teleurstelling van die gehoor.

Lionel Hunt.

 

Neville Williamson het met sy kulkuns en sy prettige vertoning die gehoor aan sy voete gehad. Die skaterlag van die gehoor was ‘n goeie aanduiding van hoe hulle dit geniet het.  Na sy vertoning het die dames eers seker gemaak hulle het al hulle juwele en klere aan voordat hulle met tee en verversings getrakteer is!

Neville het die dames laat skaterlag.

 

Baie ontspanne en tevrede dames het hul dank uitgespreek oor die oggend en gemeld dat hulle uitsien na 2015 se aanbieding.

Post a comment

seven + 12 =