Rek jou rande

 

Rek jou rande

Posted by VLV in Murraysburg Tak, News 16 Sep 2015

Sirkel:  Noord-Karoo

Tak:  Murraysburg

Portefeulje:  Openbare sake

Verslaggewer:  Mette Kromhout

Datum:  16 September 2015

 

Die sameroeper van die portefeulje Openbare Sake,  Lina van den Berg,  het op 16 September ‘n baie leersame en interessante oggend rondom die tema REK JOU RANDE vir die vroue van die woonbeurt in die kerksaal aangebied.

 

DSC02499

 

Eerste aan die woord was mej. Brits van die Dept. van Maatskaplike Dienste,  wat met die hulp van Monique Dassie die belangrikheid van ‘n begroting aan die dames voorgehou het.  Hoe minder die maandelikse inkomste,  hoe noodsaakliker is dit om versigtig te begroot en om by die begroting te hou.  Al is die inkomste hóé klein moet ‘n vasgestelde bedraggie maandeliks gespaar word.

 

Almal in Murraysburg weet hoe heerlik Johanna van der Merwe kan kook.  Haar vyf resepte vir voedsame etes vir ‘n gesin met net een blikkie vis bevat geen duur bestanddele nie en is in ‘n japtrap voorberei.   Die vis kan ook met ‘n blikkie Bully Beef,  ‘n bietjie maalvleis of ‘n klein polonie vervang word.  Tydens die teedrinkery na die program het Johanna se sardynevetkoekies groot byval gevind.  Sy het ook verduidelik hoe een pak margarien met olie en kookwater tot dubbeld sy volume gerek kan word.  Boonop is dit dan ook maklik smeerbaar.

 

Buite die kerksaal het Linda van den Berg gedemonstreer hoe daar in ‘n afgeleefde buiteband suksesvol groente geplant kan word.  Dit is ideaal wanneer min spasie beskikbaar is en geen water word gemors nie.  Spinasie,  uie,  slaai,  stamboontjies en tamaties vaar baie goed in die buitebande.  Selfs aartappels kan so baie suksesvol verbou word,  veral wanneer meer as een band opmekaar geplaas word soos wat die aartappel opgeërd word.  ‘n Opgerolde hondekossak is ideaal vir die plant van aartappels indien daar dreineringsgate gemaak is   Alle teenwoordiges het nie net banksakkies vol wortel- en beetsaad ontvang nie,  maar kon van die baie spinasie- en uieplantjies saamneem.

 

Ten slotte het Maretta Theron en haar twee hulpe, Maria en Lollo, gewys hoe daar uit niets soos koffieblikke, bier- en koeldrankblikkies nuttige en mooi items gemaak kan word.

 

Die hoogtepunt van die oggend was die gelukkige trekking waartydens 10 dames klein boompies en kruideniersware kon wen.  Wilma Haarvoor was die gelukkige wenner van die band waarin Linda van den Berg die groente geplant het.

 

Tydens die teedrinkery was ‘n lus om die nuutgeleerde te implementeer duidelik merkbaar.

Post a comment

1 × 3 =