Reinette stap die Camino Santiago in Spanje

 

Reinette stap die Camino Santiago in Spanje

Posted by Natania Schmidt in News, Vredendal Tak 21 Feb 2014

Sirkel: Namakwaland

Tak: Vredendal
Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Anneline Beelders
Datum: 20 Februarie 2014

 

Reinette Thiart, boervrou van die plaas Rusten in Liebendal, kunsskilder, wêreldreisiger, vertel van haar pelgrimstogte, of die Camino na Santiago Compostela in Spanje, wat sy al drie keer gestap het. Santiago verwys na die apostel Jakobus, en Compostela beteken sterreveld (volg die melkweg). Die Camino is 800km lank, en sy het dit die tweede keer oor 33 dae gestap teen 24km per dag. Die staptog is ‘n driedimensionele belewenis, fisies, emosioneel en spiritueel.

 

1

Reinette Thiart

 

Volgens oorlewering het Jakobus in Spanje gaan preek voordat hy in 44 na Christus in Jerusalem onthoof is. Sy liggaam is teruggeneem en in Spanje begrawe. Agt eeue later het ‘n kluisenaar, Pelagio, misterieuse ligte gesien, en op die graf afgekom. Die pelgrimstogte is begin deur koning Alfonso 2 wat van Oviedo gereis het om die graf te besoek. Tussen 1078 en 1211 is ‘n katedraal gebou op die plek van die graf. Hollanders en Duitsers noem dit die Jakobsweg. In 1122 is die eerste Heilige Jaar verklaar, met 25 Julie op ‘n Sondag. Van toe af is elke jaar wanneer 25 Julie op ‘n Sondag val ‘n Heilige Jaar. Talle dorpe en stede het in die Middeleeue ontstaan as  gevolg van die pelgrimstogte, onder andere Pamplona en Puerta la Reina, en pragtige katedrale en brûe is gebou deur vakmanne en kunstenaars van elders. Die pelgrimstogte het hul piek bereik in die 12de – 13 de eeu met tot 1000 pelgrims per dag wat Santiago bereik, dieselfde getal as in September 2013 .

 
Die pelgrimstogte het ‘n groot invloed gehad op die ekonomiese, religieuse, politieke en sosiale ontwikkeling van die Spaanse Koninkryk. Santiago het vir pelgrims so belangrik geword soos Rome en Jerusalem. In 1982 besoek Pous John Paul 2 Santiago, en in 1987 word die Camino verklaar as die Europese Kulturele Weg en ingesluit by UNESCO se lys van wêrelderfenisgebiede. 1989 word die eerste Heilige Jaar van demokratiese Spanje.

 
Pelgrimsverenigings van oral oor en plaaslike owerhede in Spanje doen moeite om die roete bekend te stel en huisvesting aan reisigers te verskaf. Kloosters en herberge bied munisipale of privaat huisvesting teen 5 Euro per dag, en hotelle teen 10 – 11 Euro per dag. ‘n Spaanse wet vereis dat restaurante ‘n driegang maal moet verskaf wat goedkoper is as individuele geregte op die spyskaart.  Dit wissel van 7 – 11 Euro. In Europa word gesê dat die Camino by jou voordeur begin, na aanleiding van die Middeleeue toe pelgrims te voet van en na hul verskeie dorpies gereis het. Daar word ook geglo dat al jou sondes vergewe is as jy die Camino voltooi het.

 

2

 

Reinette verskaf inligting oor die verskillende roetes na Santiago, hoe om voor te berei vir die roete, en wat jy alles nodig het. Jy kan kies of jy wil stap, fietsry, of te perd wil gaan. Om ‘n sertifikaat by die Katedraal van Santiago te verwerf, moet jy ten minste die laaste 100 km te voet, of die laaste 200 km per fiets afgelê het. Daar word gesertifiseer of jy die roete om spirituele, godsdienstige of kulturele redes voltooi het.
Met jou rugsak wat nie meer as 9 kg moet weeg, pelgrimsidentifikasie, hoed, sonskerm en ‘n stapstok is jy reg. Buen Camino!

 

3

Reinette Thiart en Sophie Malan

 

4

LNR  Elaine du Randt, Aletta Nel en Dirkie de Jongh

 

Leave a Reply