Pryse en Kentekens word uitgedeel

 

Pryse en Kentekens word uitgedeel

Posted by VLV in News, Strand Tak 25 Nov 2018

Sirkel:  Kaapstad

Tak:  Strand

Beriggewer:   Erna De Waal

Datum:  20 November 2018

 

Die geleentheid waarna almal met afwagting jaarliks uitsien: Die Prysuitdeling! Hierdie jaar is niemand teleurgestel nie – die saal was in Kersgewaad opgetooi en die Kersstemming was tasbaar. Dit is mos die tyd van die jaar wat gemoedere lig, ten spyte van teleurstelling en hartseer deur die jaar. Die deelnemers aan die onderskeie kompetisies was natuurlik innerlik baie opgewonde en baie nuuskierig oor wie die pryswenners gaan wees. Die nege trofeë was treffend uitgestal en het die wenners byvoorbaat trots laat voel.

 

Ds. Emile Louw het die verrigtinge begin deur uit Openbaring te lees en het dit in verband gebring met Kersfees. Daarná het die dames drie Kersliedere gesing onder begeleiding van mev. Erna de Waal. Hierdie Tak kan spog met ‘n voordragkunstenaar by uitnemendheid, nl. Mev. Erna Krüger. Sy het die kersstemming voortgesit met ‘n treffende voordrag van die bekende gedig van Elizabeth Eybers, Maria, voorafgegaan deur ‘n inleiding deur haarself geskryf.

 

Die Voorsitter, Mev. Leta du Preez, het die Bestuur, beoordelaars, administratiewe personeel en lede wat die nuusbriewe versprei het, bedank vir hul getroue en harde werk. Die 20 lede wat 100% bywoning gehad het is geloof vir hul toewyding en beloon met ‘n geskenkie. Drie besondere jaarkentekens is aan drie lede oorhandig, nl. Maretha Badenhorst – 60jr, Elsabé Dreyer – 55jr en Ria Hattingh ook 55jr.

 

Uiteindelik het die groot oomblik aangebreek vir die getroue deelnemers wat baie tyd en energie aan die onderskeie kompetisies deur die jaar spandeer het. Mev. Lea Ter Haar, voorheen Voorsitter van die plaaslike ACVV Tak en jarelange lid van Strand Tak, het voortgegaan om die trofeë en ander pryse te oorhandig.  Twee lede het besonder goed presteer. Hulle is Yvonne Swart wat drie trofeë ontvang het en Hannetjie du Plessis wat twee trofeë ontvang het.  Yvonne Swart is vir die tweede agtereenvolgende jaar as algehele wenner aangewys en Hannetjie du Plessis as naaswenner. Trofeë is ook verower deur Isabel du Plooy (Blommekuns) en Leta du Preez (Kunste).

 

‘n Wonderlike Kersgety en ‘n voorspoedige 2019 word almal toegewens.

 

Mev. Erna Krüger, voordragkunstenaar word bedank deur die Voorsitter van Strand Tak, Mev. Leta du Preez

 

Mev. Rita Franzsen, erelid wat steeds getrou die vergaderings bywoon ten spyte van haar 92 somers, ontvang ‘n kopie van die Tak se Jaarprogram 2019 van die Sekretaris, Gail Buys.

 

Beoordelaars, getrou op hul pos elke vergadering:

Agter v.l.n.r: Andrew Alberts (Woordkuns); Jossie van Schoor, Lina Malan (Blommekuns en Handvlyt); Elsabé Dreyer (Leefstyl).

Voor v.l.n.r: Marianna de Villiers (Landbou, Iets uit Niets); Ria Hattingh (Leefstyl), Amelia Louw (Blommekuns en Handvlyt).

 

Lea Ter Haar het  “Dankie-sê” geskenkies oorhandig aan Wilhelmien le Roux wat gereeld die klankstelsel versorg het, Erna Krüger en Jossie van Schoor wat ‘n pragtige, suksesvolle Valentynsdag opgetower het.

 

Lea Ter Haar het Kentekens oorhandig aan:  Annette Stander (35jr); Hester Louw (15jr); Jossie van Schoor (20jr); Erna Krüger (15jr); Francoisnette van Zyl (10jr) en Lovy Burger (30jr).

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Voor v.l.n.r: Ria Hattingh en Elsabé Dreyer het hul Kentekens ontvang van Lea Ter Haar (agter).

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die getroustes onder die getroues – lede wat spog met 100% bywoning.

 

Yvonne Swart met haar vier trofeë: Blommekuns, Handvlyt, Iets uit Niets, Landbou en Algehele Wenner.

 

 

 

 

 

 

Hannetjie du Plessis met haar drie trofeë: Kookkuns, Naaldwerk en Naaswenner.

 

Post a comment

16 − 7 =