Presidentsrede VLVK- Kongres 2017

 

Presidentsrede VLVK- Kongres 2017

Posted by VLV in Announcements, Uit Die President Se Pen 14 Sep 2017

 

 

Mev Karien van Schalkwyk

VLVK-president

 

Die sangeres, Riana Nel, sing:

“………….Want dit is tyd om te lewe.  Vandag is môre se gister.”

 

MÔRE BEGIN VANDAG / TOMORROW BEGINS TODAY

 

  • Hoekom is dit belangrik om VANDAG te lewe en
  • hoe moet ons na MôRE kyk?

 

1. MOET JY NET VIR VANDAG LEWE? WAT VAN MÔRE?

Toe daar vir die welbekende wetenskaplike, Albert Einstein, gevra is wat hy van die toekoms dink, het hy gesê:

“Ek dink nooit aan die toekoms nie. Dit kom gou genoeg.”

Is dit ook jou houding? –  “Waarom jou oor die toekoms bekommer?”

Of dalk het jy mense al hoor sê: “Gaan net voort met jou lewe.” “Lewe vir vandag.” “Vergeet van môre.”

Hierdie algemene beskouing is natuurlik nie nuut nie.

 

  • “Eet, drink, geniet jou lewe. Die res maak nie saak nie.” Dit was die leuse van die eertydse Epikureërs.
  • Party van die apostel Paulus se tydgenote het ’n soortgelyke beskouing gehad. “Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf”.
  • Hoe voel jy elke oggend oor die dag wat voorlê?
  • Vir die meeste mense is dit óf niks, óf spanning, óf harde werk, óf sommer net ‘n totale leegheid.
  • So asof ons soms sommer net opgee om te leef.

 

Dit klink swaarmoedig en stroef, maar dis ongelukkig die realiteit.

Het ons die kuns verloor om vandag te leef?  Én om uit te sien na môre én om dit wat tot ‘n goeie “vandag” gelei het, te koester?

 

2. WANNEER IS  “EENDAG”?  DALK MôRE?

Ons leef almal vir môre, of iewers in die toekoms, want ons maak in alles voorsiening vir môre.

Die makelaars vertel jou om soveel moontlik vandag opsy te sit vir môre.

So werk ons vandag baie hard om môre beter daaraan toe te wees.

Ons sê vandag vir ons kinders nee, omdat ons hard moet werk vir môre.

Ek dink deel van die probleem is die feit dat môre ‘n misterie is.

Met alle respek, die Here maak nie onbeperk dae vir ons nie.

As Hy jou kom haal, is jou dae hier op aarde verby.

Hoeveel dae kan ons sê is gewaarborg? Oor hoeveel dae in die toekoms het ons beheer? Is jou saak met jou Skepper reg? Het jy al vandag jou Skepper geloof en geprys? Ek en jy weet nie of ons môre /vanaand nog hier gaan wees nie.

Ons jaag na die rykdom van môre en mis die geleenthede van vandag.

En dan haak ons natuurlik net so erg by GISTER vas.

Hoe dikwels praat ons nie van die GOEIE OU DAE nie?

Ons is vasgevang tussen die bekende van gister en die misterieuse van môre, en weet nie wat om met vandag te doen nie.

Vandag is die dag waaroor jy so lank terug bekommerd was. Nee wat, kom ons tel ons seëninge en leef dankbaar en voluit vandag, want môre begin vandag!

 

3.  HOE MOET ONS VANDAG LEEF?

 

  • Tel jou seëninge
  • Waardeer jou gesondheid
  • Wees dankbaar vir kos, klere en ‘n dak oor jou kop
  • Doen vandag iets sinvol en skep goeie herinneringe.
  • Gaan kyk vandag na daardie rugby- of netbalwedstryd van jou kinders/kleinkinders, want môre is dit dalk te laat.
  • Maak ‘n afspraak om vir daardie vriendin / iemand in die tehuis vir bejaardes te gaan kuier – iets wat jy lankal wou en moes doen.
  • Bel vandag jou ma, pa, kind, broer, suster vir wie jy so lank opsy skuif.
  • Glimlag vir ‘n slag.

 

“Never leave that till tomorrow which you can do today “. [Benjamin Franklin]

 

4. HOE BEPLAN ONS VIR MÔRE?

Die  onseker omstandighede waarin baie aardbewoners hul bevind, maak dat hulle lewe vandag net ’n meedoënlose, bitter stryd om oorlewing is. Waarom moet hulle aan die toekoms dink, ’n “môre” wat ontsettend bleek en hopeloos lyk?

O nee!  Die liewe Vader het vir ons ‘n gesonde verstand gegee om te gebruik en met ons hand in Syne, mag ons vandag beplan vir môre.

MAAR oppas! Vir alleen beplan!

Die Skotse digter Robert Burns het ons benarde toestand vergelyk met dié van ’n veldmuis wie se sorgvuldig geboude nessie, Burns per ongeluk met die lem van sy ploeg vernietig het. Die muis het gevlug vir sy lewe nadat sy wêreld onderstebo gekeer is. ‘Ja’, het die digter gedink, ‘hoe dikwels staan ons nie hulpeloos voor gebeure waaroor ons geen beheer het nie;  selfs ons beste planne val dikwels deur die mat.’

Vra dan: óns planne, maar was dit ook Sy planne?

 

5.  BEKOMMER ONS ONS OOR MôRE?

Bekommer jy jou oor môre?  Natuurlik, dis menslik!   Maar om jou oormatig te kwel, sal jou nooit help om jou probleme op te los nie.

 

  • Die Britse staatsman Winston Churchill het dit besef. Hy het oor party van die kwellinge wat hy destyds tydens die Tweede Wêreldoorlog gehad het, geskryf: “Wanneer ek terugdink aan al daardie bekommernisse, onthou ek die verhaal van die ou man wat op sy sterfbed gesê het dat hy baie bekommernisse in sy lewe gehad het, waarvan die meeste nooit plaasgevind het nie.”

 

6.  MôRE BEGIN VANDAG

“Vind jou vreugde!” is ‘n les wat ons van kinders kan leer. Kinders doen waarvan hulle hou en doen dit voluit. Hulle dag is gevul met ‘n week se planne, hulle lewe hul lewe asof daar geen môre is nie.

Dit het my laat wonder.. met hoeveel oorgawe leef ons ons lewens elke dag? Ons probeer ‘n week se werk in ‘n dag laai. Ons laat al die ‘ASSE’ in ons lewens ons vreugde steel en die res waarvan ons hou, word gebêre vir EENDAG.

Dit is altyd “AS dit nie was vir dit of dat nie..”, “AS dit tog maar net..”, “..toemaar eendag AS my skip inkom..”.

Moenie uitstel as vreugde ter sprake is nie.  Vergeet van ‘EENDAG’ en ‘AS’! Leef vandag, wees teenwoordig in elke oomblik, wees dankbaar vir al die mooi in jou lewe, kies om anders te dink en te praat en deel vreugde uit waar jy gaan.Vind jou vreugde in Hom, vind jou kern, vind dit wat vir jou werklik belangrik is en jou werklik gelukkig maak en bou jou lewe rondom dit.

Wees soos ‘n groot Libanon-sederhoutboom, vir elke 10 voet wat uitstaan bo die grond, is daar 30 voet wat vasgeanker is in die Rots. Al kom waai die winde van die lewe jou sederhout se blare deurmekaar, staan jou kern, jou vreugde, onbeweegbaar vas!

Dit is tyd dat ons die “asse” by die venster uitgooi en vandag begin om die “eendag/ die môre” waaroor elkeen van ons droom,  te LÉÉF!

“Yesterday is history, tomorrow is a mystery, but today is a blessing.”

 

[Erkenning]

Stephan Joubert DIE MOED OM VIR VANDAG TE LEEF

U.S. Coast Guard Digital

Afrikaanse Voorkeure – 2017 Watch Tower Bible and Tract

Goedvoel:  LEEF met Hart & Siel

Post a comment

1 × 4 =