Potpourri vergadering

 

Potpourri vergadering

Posted by VLV in Brackenfell Tak, News 02 Nov 2012

Sirkel: Tygerberg

Tak: Brackenfell

Beriggewer: Lettie Van Wyk

Datum: 1 November 2012

 

Die sameroepsters van die drie studierigtings, GESONDHEID,  LEEFSTYL  en  KUNSTE EN HANDVLYT , het elk ‘n beurt gekry om vir ons ‘n paar handige wenke te gee.   

 

Lydia Brink (Gesondheid) het soos gewoonlik baie moeite gedoen om  ons in te lig oor belangrike sake.  Haar uitgangspunt was onomwonde:   JY IS WAT JY EET. Eet elke dag volop groente en vrugte, ten minste vyf porsies. As dit by voorkoming van kanker kom, is vrugte en groente die belangrikste deel van die plant-gebaseerde  dieet. Sny vet van vleis af voordat dit gaargemaak word. Eet baie hoender en vis en gebruik afgeroomde melk. Drink baie water. Elkeen behoort elke dag 2 – 3 liter vloeistof in te neem, waarvan die helfte water moet wees. Bevrore en ingemaakte groente verloor geen voedingswaarde nie, terwyl vars groente baie voedingswaarde op die winkelrak verloor. Haar resep om ONTWATERING teë te werk:   1 liter afgekoelde kookwater;   8 teelepels suiker en ‘n halwe teelepel sout.   Meng al die bestanddele goed saam en drink klein slukkies deur die dag en veral na episodes van diarree.

 

Susan de Villiers (Leefstyl)  sê vir ons:  “Geluk is ‘n keuse”. Maak tyd om dinge te doen waarvan jy hou.  Bederf jouself nou en dan. Bestee tyd aan vriende en versterk jou geloof, dis dinge wat mense gelukkig maak. Wees jouself. Moenie jouself gedurig met ander vergelyk nie. Moenie ander se goed begeer nie, wees tevrede en dankbaar vir wat jy het. Wees meer aktief en kry oefening. Orden jou leefruimte en hou jou werkplek netjies. Dit skep gunstige werksomstandighede en laat jou goed voel. Moenie broei oor slegte dinge wat in die verlede gebeur het nie, maak vrede met die verlede. Wat is die verskil tussen kruie en speserye? KRUIE is geurige plante wat vars of gedroog gebruik word.  SPESERYE is gedroogde sade, bas of wortels, heel of fyn gemaak.

 

Riana Ellis (Kunste en Handvlyt) gee haar wenke:   1. Sit nuwe kerse vir 3 ure in die vrieskas, dan brand hulle langer.   2.  Hou die binneste kartondeel van ‘n handdoekrol en bêre jou kersliggies daarin.   3.  Om kerswas uit ‘n tafeldoek te haal, sit die tafeldoek in die vrieskas vir ‘n halfuur, daarna skilfer die was maklik af.  Stryk dan tussen bruinpapier om die vetkol te verwyder.   4.  Draai ‘n groot haak in een van jou kombuiskaste en hang piesangs daaraan op.  Dit bly langer vars en raak nie so gou sleg nie.   5.  Hou alle oorskiet splintersepies, smelt dit bymekaar en maak ‘n nuwe koekie seep.   Ideaal om by ‘n tuinkraan byderhand te hê om jou hande te was.   6.  Om jou lampskerms mooi skoon te maak, gebruik ‘n verfkwas, dit haal die stof orals uit.

 

Die lede het ook hul troufoto’s en -albums uitgestal en dit was groot pret om te raai aan wie die mooi jong gesiggies behoort!   Daar is selfs ‘n trourok of twee ten toon gestel.

Die 3 sameroepsters, Lydia Brink, Susan de Villiers en Riana Ellis, met Fanny le Roux (voorsitter) en Thea Wheater (sekretaris) in die agtergrond.

Die troufoto-uitstalling met die trourokke.

Post a comment

2 × 1 =