Positief, dog versigtig optimisties oor SKA

 

Positief, dog versigtig optimisties oor SKA

Posted by VLV in Hantam Tak, News 03 Sep 2010

Datum:  3 September 2010
Portefeulje:  Openbare Sake
Saamroeper:  René Visagie

 

SKA Suid-Afrika ding tans mee met Australië om die ‘wêreldbeker van sterrekunde’.  Indien die Internasionale SKA Wetenskap- en Ingenieurskomitee die bod aan S.A. toestaan, sal dit soveel voordele vir die land inhou, waaronder werksgeleenthede en beleggings in infrastruktuur-, konstruksie- en wetenskapsektore.   Aangesien huidige kommunikasiestelsels inmeng met radiofrekwensies waarin die teleskope moet opvang, word alternatiewe kommunikasie-sisteme ontwikkel, en ons sal die voordeel hê van die nuutste tegnologie.  

 

Die doel van SKA is om met meer as 3000 radioteleskope, wat 100 keer meer sensitief sal wees as enige bestaande radioteleskoop, só fyn waar te neem in die buitenste ruimte en om só ver terug te kyk in tyd tot by die ontstaan van die heelal, deur die sensitiewe radiogolwe op te vang wat deur die hemelliggame uitgestuur word. 

 

Met uitreikprogramme, wat studiebeurse vir leerders en studente in die Noord-Kaap insluit, poog SKA om wiskunde en wetenskap op ‘n opvoedkundige vlak te bevorder, om ingenieurs vir die toekoms op te lei, maar veral om inligting oor die projek te verskaf. 

 

Alhoewel veral boere bekommerd was oor die impak wat SKA op hul boerdery-bedrywighede kon hê, voel almal deesdae versigtig optimisties oor die ekonomiese voordele vir ons land.  Dit is ook gerusstellend dat SKA voortdurend poog om alle belanghebbendes tegemoet te kom, sodat niemand hoef in te boet op hul lewenskwaliteit nie.  Dit sou ‘n reuse verlies wees as negatiewe publisiteit  Suid-Afrika se kanse in die wiele ry om ooit die projek te kry.

 

JCB

 

 

‘n Afvaardiging van SKA Suid-Afrika het tydens die Openbare Sake vergadering inligting gegee oor die projek. 

 

Van links staan Karin van der Merwe: Hantamtak se voorsitter;
Pieter Snyman: Die Stakeholder Manager van SKA, wat gemoeid is met uitreikingsprogramme en inligtingsessies;
Cecilia van der Merwe:  ‘n SKA-Ingenieur wat ‘n alternatiewe kommunikasie-stelsel moet ontwikkel;
Marcelene van Rooyen:  Calvinia Landbou Unie se verteenwoordiger by SKA;
Brand du Toit:  ‘n Boer van Carnarvon wat in die kern-gebied van SKA bly, afgevaardigde na die Internasionale SKA-konferensie in Nederland in 2010.

Post a comment

twenty − 4 =