Porterville ontvang besoek van Ina Paarman

 

Porterville ontvang besoek van Ina Paarman

Posted by VLV in News, Porterville Tak 08 May 2014

Sirkel:  Weskus

Tak:  Porterville

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer:  Louwna Hoving, lhoving@telkomsa.net

Datum:  8 Mei 2014

Die Leefstylkomitee:  Lydia Liebenberg, Saamroeper, Ina Paarman, Spreker, Mary-Ann van Schalkwyk, Voorsitter en Wena van der Merwe.

 

 

‘n Klein bondeltjie dinamiek!  Sy stel haarself voor soos ‘n blommeverkoper in die Kaapse middestad haar gesien het:  Jy’s mos Ina Paarman, so groot soos ‘n huis, maar so klein soos ‘n muis!

Sy verduidelik aan die hand van ‘n Powerpoint-aanbieding hoe haar besigheid in 1982 begin het met die aanbieding van ʼn kookskool in haar motorhuis.  In 1987 het sy haar eerste kookboek, Kook met Ina Paarman, self uitgegee nadat haar proefskrif deur drukkers afgekeur is.  Dit het gou trefferstatus behaal en is vandag steeds in druk.  Haar seun, Graham Paarman, het saam met haar ʼn volwaardige besigheid begin en in 1990 is hulle eerste fabriek opgerig met die geld uit die verkope van haar kookboek.  Die besigheid het van ʼn klein begin met 4 personeellede  gegroei tot die bekende bedryf van vandag en het hulle 180 personeellede in diens.  Haar produkte word in ʼn ultramoderne fabriek onder streng higiëniese toestande vervaardig en verpak.   Haar gehalte produkte is vandag oral bekend en reklame daarvoor word op hul webtuiste en op sosiale netwerke gedoen. Sy skryf haar sukses toe aan goeie spanwerk van die personeel, gebruik van gehalte rou produkte, goeie kliëntesorg, aanpassing by veranderde en gesonde leefstyle en goeie besigheidsbestuur.  Sy gee ʼn oorsig van haar produkte en gee wenke vir die gebruik daarvan.

‘n Uitstalling van al die Ina Paarman-produkte op die mark

Al die verversings van die middag is met Ina Paarman se produkte gemaak.

 

VLV bied altyd iets leersaam:  ‘n Video word vertoon hoe maklik  die geel en wit van ʼn eier met behulp van ʼn leë plastiese bottel geskei kan word en die netjiese opvou van ‘n paslaken word gedemonstreer.

Mary-Ann van Schalkwyk demonstreer dat die video oor die skei van eiers nie ‘n foefie is nie.

Post a comment

thirteen + 11 =