Pinkie in die lug

 

Pinkie in die lug

Posted by Natania Schmidt in Acqua Tak, News 11 Jul 2019

Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Intertak

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 10 Julie 2019

 

Een van die mooiste maniere om vriendskap te vier, om ‘n vriendin te laat weet dat sy na waarde geag word, is om haar by ‘n spesiale teetafel te laat aansit. ‘n Tafel wat met jou mooigoed gedek is. Fyn eetgoedjies wat nie net smaaklik op die tong val nie, maar ‘n fees vir die oë is. So ‘n spesiale teetafel is ‘n viering. ‘n Viering van vriendskap.

 

 

Acqua, as gasvrou van Intertak 2019, kon besluit hoe en waarmee die vier takke (Acqua, Hercula, Kraggakamma en Rocklands) mekaar die stryd aansê. Synde nou nie kompetisiegedrewe of tradisioneel nie, het Acqua Intertak op eie voorwaarde gedoen. Elke tak moes tafel dek vir ‘n fyn Middagtee en‘n spyskaart, goed genoeg vir die 7de Hertogin van Bedford, bymekaarsit. Daar moes koek, blomme en doilies wees. ‘n Spesiale uitnodiging en resepte vir elke eetdingetjie op die spyskaart, was ook nodig.

 

 

Die manier waarop gasvryheid betoon word, spreek boekdele van die gasvrou se persoonlikheid. Daarom was algar genooi om hulle persoonlikhede en skredes te wend na die PE Gholfklub vir ‘n geesverruimende kuier. Lede van die ander takke het saam gekuier. Nie net om die beoordeling se uitslag te kry nie, maar omdat hulle weet dat enige Acqua-samekoms stylvol en spesiaal is. Gasvryheid was gewaarborg.

 

Rocklands

 

Hercula

 

Kraggakamma

 

Acqua

 

Die Britse tradisie van High Tea het in die middel 1700’s ontstaan as ‘n middagmaal wat so tussen 3 en 4 uur deur die werkersklas genuttig is. Dit was ‘n maal wat staande, of sittende op hoë stoele, geëet is. Vandaar die benaming van High Tea. Koek, botterbroodjies en selfs roosterbrood met kaas is saam met tee geniet. Die High Tea was glad nie ‘n spoggerige geleentheid nie. Dit was net ‘n tyd van die dag wanneer veral die werkersklas op hoë stoele gesit het om tee te drink en iets te eet.

 

Middagtee het wel, te danke aan die 7de Hertogin van Bedford, wie honger geraak het tussen middagete en aandete, wat eers teen vroegste 8 uur bedien is, ‘n tee-instelling geword. Dit het ‘n uithang geleentheid geword. Daar is selfs spesiale “tea gowns” gedra.  Veerligte botterbroodjies met “clotted” room en konfyt, koek, soetgebak en vingerbroodjies is bedien vir so ‘n middagtee.

 

Deesdae word die term High Tea (verkeerdelik?)gebruik vir enige spoggerige tee-geleentheid. Die Britte huldig steeds die “Afternoon Tea” as ‘n uithang geleentheid. Of dit nou tee in die oggend of middag is, hoë stoele of by ‘n lae tafel, die tee-geleentheid as Intertaktema was beslis rede vir uithang.

 

Einste Hertogin van Bedford sou haarself beslis baie bevoorreg gevoel het om by enigeen van die 4 teetafels aan te sit. Die uitnodigings was pragtig en met sorg gemaak. Die tafels was keurig gedek. Die spyskaarte goed beplan. Die doilies ragfyn. Die blomme vrolik. Die papawersaadkoeke mooi en lekker.

 

  Acqua

  Rocklands

  Kraggakamma

  Hercula

 

Die beoordelaars, Lara de Wet, Jeanine Botha, Petro van der Merwe, Tiyo Pretorius, Susan Viljoen en Marius de Vries, het ‘n moeilike taak gehad. ‘n Moeilike taak wat hulle met deeglikheid uitgevoer het. Gelukkig het ‘n geskenk uit Wilandi Esterhuysen, http://www.wilandistudio.com/shop-online/Lepelsteeltjie-Set-of-4-p59795669, se lepelsteeltjie-reeks opgemaak vir die kopkrap.

 

Die uitslag van beoordeling is tydens Acqua se vergadering aangekondig. Die tradisionele trofeë was nie te bespeur nie. Wenners in die verskillende kategorieë het elkeen ‘n spesiale geskenk van internasionaal bekende kleikunstenaar, Nicci Stewart, gekry.  https://www.facebook.com/niccistewartceramics/

 

Synde Intertak die kollig op onthaal en gasvryheid laat val het, was dit gepas dat gaste ‘n paar welkome wenke gegee is. Yvonne Smit, gasspreker en Acqualid, het ‘n paar oulike gedagtes oor onthaal, toegelig met ‘n PP-aanbieding, met almal gedeel.

 

‘n Groot deel van die genieting om vriende en familie te onthaal is die plesier van die voorbereiding daarvan. Om jou huis, en spesifiek die vertrek waar jy jou gaste gaan onthaal verwelkomend te laat lyk, is baie makliker as wat ‘n mens dink.

 

Daar is legio maniere waarop die gasvrou elemente in en selfs buite die huis kan vind om gaste visueel te bederf én te beïndruk. Blare, takkies, spieëls en selfs ou langspeelplate kan met groot impak ingespan word.

 

Almal het deesdae die allermooiste kombuise. Versaak ‘n slag jou eetkamer en onthaal in die kombuis. Die praal én funksionaliteit van die vertrek, die geure van die kos wat jy gaan voorsit en die meer ontspanne, informele, gemoedstemming wat in ‘n kombuis heers, waarborg ‘n onvergeetlike kuier.

 

Dit is ook wat Intertak 2019 (stadstakke) was. ‘n Onvergeetlike kuier.

Post a comment