Op reis deur Historiese Engeland

 

Op reis deur Historiese Engeland

Posted by VLV in News, Vredendal Tak 21 Nov 2018

Sirkel: Namakwaland

Tak: Vredendal

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Julene Stephan

Datum: 18 Oktober 2018

 

Vredendal se VLV lede het by hul onlangse vergadering die voorreg gehad om saam met Anneline Beelders deur die pragtige historiese Engeland te toer. So pas terug van haar toer, het sy haar ervarings en foto’s met die lede gedeel. Dit begin by Shakespeare se geboorteplek, Stratford -upon – Avon. Die historiese dorpie uit die 16de eeu is gerestoureer om presies te lyk soos toe William Shakespeare daar grootgeword het. Die skrywer wat die grootste bydrae tot die moderne Engelse taal gemaak het, is een van die grootste skrywers van alle tye.  Die rivier Teems, wat deur Londen vloei het sy  oorsprong daar.

 

Volgende was Bibury, ‘n klein dorpie in die Cotswolds, wat weens die uitstaande natuurskoon tot ‘n natuurreservaat verklaar is en met argitektuur en al bewaar word. Dis ‘n gunsteling onder Japanese toeriste en was Emperor Hirohito se verblyf tydens sy Europese toer. Die filmreeks, The Lord of the Rings is daar gemaak. Burton -on – the water, waar whisky en Gin gedistileer word uit gars, is ook in die Cotswolds geleë.

 

St Pauls Cathedral in Londen, ‘n Anglikaanse kerk volgens Romeinse styl gebou, herinner aan die St Peters Basilica in Rome. Adellike troues het die laaste paar dekades daar plaasgevind. Westminster Abbey met sy skerp torings en Gotiese boustyl is weer die plek waar die adellikes gekroon word. Lady Diana Spencer se roudiens is daar gehou.

 

Kensington paleis huisves die jong adellikes. Daar is groot damme met swane en eende.

 

Die tuine wat die paleis omring is ‘n lushof en word deur vele besoek.Voor die paleis is ‘n standbeeld van koningin Victoria as jong meisie. Daar is ook ‘n speelplek wat Diana vir haar kinders ingerig het. Wanneer prins William as regent oorneem, sal hy by Buckinham paleis intrek.

 

Kensington is een van die rykste woonbuurte in Londen. Dis hier waar jy die superryk inkopiesentrum, Harrods kry sowel as Porsche, Ferrari, mode en juwelierswinkels soos De Beers en Graff.

 

Die historiese Tower Bridge is in 1886 en 1894 gebou. Toeriste kan op die platform tussen die twee torings stap. Wanneer die brug opgetel word vir skepe om deur te beweeg, is daar soms ‘n verkeersknoop van 25 minute.

 

Piccadilly Circus in die West End van Londen is waar al die teateropvoerings plaasvind. Dis ook naby Regent Street, die hoofstraat van Londen waar eindelose inkopies van alles en nog wat gedoen kan word.

 

Big Ben is die groot klok binne die toring wat in 1895 gebou is en is die mees akkurate horlosie van sy soort in die wêreld. Tans ondergaan dit restourasie wat vier jaar sal neem voor die bekende klokke weer die tyd van die dag sal aankondig. Die toring is in 2012 met die Diamant Jubilee van koningin Elizabeth 11 na haar vernoem.

 

Oxford, ‘n panoramiese dorpie huisves die universiteit van Oxford, die oudste Engelssprekende universiteit, en een van die wêreld se top universiteite. Die argitektuur is tipies van die boustyl van vroeër en word bewaar en gerestoureer. Ander geboue daar is Radcliffe Camera, University College en die Natural History Museum.

 

Elmarie Fouche, Anneline Beelders en Sanet Ras

Leave a Reply