Ontdek jou stylpersoonlikheid

 

Ontdek jou stylpersoonlikheid

Posted by VLV in Kuruman Tak, News 10 May 2018

Sirkel: Kalahari

Tak: Kuruman

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Hettie du Plessis

Datum: 9 Mei 2018

 

VLV Kuruman se vergadering op Woensdag 9 Mei 2018 is aangebied deur die Leefstyl-groep. Verskeie sprekers het kleur aan die tema, Klerekasbeplanning, gegee.

 

Voorsitter van dié tak, Marianne Vorster het lede, en die gaste in besonder, welkom geheet en haar wens uitgespreek dat elkeen iets waardevol sal kan saamneem huis toe uit die vergadering.

 

Hettie du Plessis het die vergadering geopen met Bybelse betekenisse van die kleure wat jy dra. Jou klere herinner jou heeldag lank aan God se beloftes. Jy moet aantrek soos wat jy wíl voel, eerder as hoe jy voel, so as jy dalk bietjie depressief voel, moet jy juis geel dra. Sy het voorts ‘n gebed voorgelees vir Moedersdag.

 

Die Leefstyl-groep saam met een van die sprekers, vlnr: Hettie du Plessis, Alta Roets (Saamroeper), Sonja Thomas Hayes van Miladys Kuruman (spreker), Bessie Kriek, Christa Kuhn, Janet West en Janet Strydom.

 

Sonja Thomas Hayes van Miladys Kuruman was die hoofspreker met die tema, Klerekasbeplanning. Sy het begin deur te sê: “Die vere maak nie die voël nie, maar is baie belangrik.”

 

Daarmee word nie bedoel jou vere moet ontwerpersname dra en jou finansies in die rooi laat nie, dit is uiters belangrik dat die vere jou moet pas! Afgesien van naam en prys. ‘n Arend pas nie in budjie vere of ‘n aasvoël in pouvere nie.

 

Die media sit baie druk op vroue om volgens die nuutste modeneigings en -giere aan te trek. Ontwerpers, modedeskundiges en voorkomskonsultante lê egter baie klem daarop dat jy volgens jou liggaamsvorm en selfs gesigvorm aantrek, en kyk ook of jy ‘n somer of winter (ook bekend as warm of koel) gelaat het.

 

Sonja voel egter: by die deur uit met daardie beleid. Die realiteit is dat ons almal koeler word met ouderdom. Jy kon as ‘n jonger dame in warmer kleure goed lyk, maar sodra jy grys word verander jou algehele temperatuur en kan jy veel beter lyk in pastelkleure. Daar is baie maniere en planne wat gemaak kan word dat jy die verkeerde kleure rég kan dra. Jy kan ‘n uitrusting in al die verkeerde kleure dra, maar met die regte kleur serp, kan die uitrusting werk.

 

Sonja se beleid is: jy moet aantrek volgens jou stylpersoonlikheid! Jou klere moet jou voorstel nog voordat jy gepraat het. Jou uitrusting moet jou selfvertroue gee. Jy kan die duurste ontwerperspakkie aanhê, maar as dit nie jou stylpersoonlikheid verteenwoordig nie, sal dit nogsteeds vir jou voel jy dra ‘n sak! Jou uitrustings moet verteenwoordig presies wie jy is.

 

Die verskillende stylpersoonlikhede:

KLASSIEK: Verteenwoordig skoon lyne en is tydloos, bv snyerspakkies en gedetaileerde baadjies saam met jou uitrustings.

Beroepe: Korporatiewe wêreld.

VROULIK: Sag en romanties. Persoon is lief vir detail soos valle, kant, plooie. Beroep: Beraders, beplanners en onderwysers.

DRAMATIES: Iemand wat daarvan hou om ‘n indruk te maak en nie bang is vir kreatiewe style en patrone nie.

Beroepe: Kunstenaars, voorkomskonsultante en modeontwerpers.

NATUURLIK: Meeste vroue val in die kategorie. Dit is die persoonlikheid wat nie hou van fieterjasies nie, die “Plain Jane”

Beroepe: Veeartse, fisioterapeute en argitekte.

ELEGANT: Persoonlikheid is gesofistikeerd en statig. Fokus op kwaliteit.

Beroepe: Waardigheidsbekleers en direkteure.

SEXY: Dit is die vrou wat bykans enige uitruisting kan dra en daarmee wegkom.

Beroepe: Modelle, kunstenaars en akteurs.

KREATIEF: Onkonvensioneel en innoverend. Persoon sal goed bymekaar laat pas wat die konserwatiewe oog vreemd sal vind.

Beroepe: Modeontwerpers, stiliste en kunstenaars.

Elkeen van ons is ten minste ‘n kombinasie van twee van die stylpersoonlikhede. Sodra jy weet waar jy hier inpas, het jy die stryd halfpad gewen.

 

Die tweede faktor belangrik vir jou beplanning is liggaamvorm.

HORISONTALE LIGGAAMSBOU: Meer bekend as “appel en peer” vorm.

UURGLAS: Ideale liggaamsvorm. Borsmaat en heupmaat bykans dieselfde met ‘n middel wat kleiner is. Tel eweredig gewig op.

DRIEHOEK: 75% Vroue val in die katogorie. Jou heupe is groter as jou borste en jou middel word as jou beste bate beskou. Tel gewig op om die heupe en boude.

OMGEKEERDE DRIEHOEK: Jou heupe is nouer en het groter borste. So ‘n bou sal motiewe en detail onder dra, en jou bokant ‘n effekleur hou.

REGHOEK: Het baie dieselfde bors en heupmaat as die uurglas, maar die middellyf is nie soveel kleiner nie. Sit maklik gewig aan om die middel. Hierdie tipe bou kan maklik korter en vetter vertoon met die verkeerde uitrusting. Vormgewende uitrustings van vloeiende materiale en nie klouerig nie, werk die beste.

OVAAL: Oortollige gewig in die (lae) maagarea wat die gevoel van rondheid skep. Trek aandag af van maagarea. Moenie ‘n bloes binne ‘n broek insteek nie!

DIAMANT: Hierdie horisontale liggaamsvorm het oortollige gewig in die hoë maagarea. Vermy aandag om die middel. Broeke moenie plooitjies aan die voorkant hê nie. En sagte materiale werk die beste.

VERTIKALE LIGGAAMSVORM: Eienskappe soos bv, lang of kort bolyf of gebalanseerde lyf. Hier word gekyk na:

Beenstruktuur, lengte, gewig, borsmaat, skouerbreedte, neklengte, gesigvorm en ouderdom.

As ‘n vrou genoegsame kennis het oor al die bogenoemde onderwerpe en weet hoe om elkeen van haar fisiese eienskappe vir haar te laat werk, kan sy verseker elke dag met selfvertroue aandurf. Iemand wat fokus om elke dag die regte styl en kleur aan te trek, gaan geseënd wees met ‘n voorkoms van formaat!

 

n Uitstalling van Miladys. Elke dame het ook ‘n R50-afslagbewys van Miladys ontvang.

 

 

Arina Beukes tydens haar gesprek oor kleedstof.

 

Waarom sal ‘n mens kleedstof gaan koop as jy eerder die voltooide kledingstuk kan gaan koop? Redes daarvoor is dat dit goedkoper is (mits jy wel die produk dra), dit is ‘n unieke kledingstuk – die kans dat iemand anders presies dieselfde kleedstof gaan koop en presies dieselfde patroon gebruik as jy, is hoogs onwaarskynklik, dit is natuurlik ook ‘n oplossing vir persone wat nie kledingstukke in die winkels kan kry wat vir hulle pas nie. Dit is ook baie bevredigend om ‘n kledingstuk te kan dra wat jy self gemaak het.

Die keuse van die kleedstof hang af van dit wat jy wil maak. Die kleedstof wat jy kies en die produk wat jy maak gaan hand-aan-hand. Jou persoonlike smaak speel ook ‘n baie groot rol. Jy weet waarvan jy hou en jy weet wat jy daarmee wil maak. Dit is goed om met die patroon in die hand te gaan materiaal koop. Kies ‘n patroon wat by jou vaardigheid pas. Begin by ‘n eenvoudige patroon. Die patroon sê vir jou agterop hoeveel en water tipe kleedstof om te koop. Dit sê ook of jy ‘n ritsluiter of knope moet koop.

 

As jy by die huis kom, maak seker jy lees eers die patroon, voordat jy begin knip. ‘n Goeie wenk is om ‘n bestaande kledingstuk van jouself op die patroon neer te lê om te sien watter grootte vir jou sal pas. Onthou ook van die naattoelating wat ekstra aan gesny moet word.

 

Wat die keuse van die kleedstof betref, is ligter, sagter stowwe gewoonlik vir kledingstukke soos bloese, rokke, ensovoorts en dikker stowwe is vir broeke en rompe. Maar dit hang ook af van die ontwerp – as dit ‘n sagvloeiende romp is, sal jy sagter kleedstof kies. Voel aan die kleedstof wanneer jy in die winkel is. Voel of dit kreukel, voel hoe dik dit is, besluit of dit vir winter of somer is. Dit is ook raadsaam om in klerewinkels te kyk watter kleedstowwe hulle gebruik vir die tipe kledingstuk wat jy wil maak. Kyk sommer ook watter tipe patroon is in die mode. Koop ‘n patroon wat jy meer as een maal sal gebruik, of wat jy met jou vriendinne kan uitruil.

 

Sy het voorts verskillende denim stowwe gewys en verduidelik watter tipe kledingstuk jy met elkeen sal kan maak. Dit is jóú kledingstuk, so die finale besluit lê by jou oor watter stof jy gaan gebruik. Dit is egter belangrik dat die item mooi pas en dat dit netjies afgewerk is.

 

Fransie Scanlen met ‘n brei-demonstrasie. Liza Burger hou die mikrofoon vir haar vas.

 

‘n Pragtige sangitem deur Marianne Vorster en Petro Spangenberg, begelei deur Ds Neeltjé van Staden.

 

 

Skrywer Amos van der Merwe by enkele van sy boeke.

 

Skrywer Amos van der Merwe het die dames toegespreek en veral gefokus op sy boek, Vital Remains: Winston Wicomb, the Heart Transplant Pioneer Apartheid Could Not Stop, wat handel oor Randall Wicomb se broer.

 

In die donker jare van apartheid het ‘n seun grootgeword in ‘n huishouding met ‘n verskriklike geheim: hoewel hulle van kleurling oorsprong was, het hulle daarin geslaag om as blankes geklassifiseer te word. Die jong Winston Wicomb was egter te donker om in te pas en moes weggesteek word wanneer iemand aan hul deur klop. Nadat hy deur die skool gesukkel het en selfs ‘n universiteitsgraad behaal het, bly hy egter steeds werkloos weens sy velkleur. Hy het motors in hul agterplaas gediens, maar nooit opgehou om te droom daarvan om die beperkinge van Apartheid te ontsnap nie.

 

 

 

Hy het heel toevallig by Prof Chris Barnard gestop waar hy langs die pad gestrand was. Hy het aangebied om te help, selfs al het hy geen ervaring met die nuwe Mercedes gehad nie.

 

Barnard, wat bekend was vir sy impulsiewe persoonliheid, het Winston ‘n werk in sy navorsingslaboratorium aangebied. Dit is hier dat Winston sy kennis en ervaring van meganiese sake toegepas het om uiteindelik die wêreld se eerste apparaat te vervaardig om ‘n lewende hart oor lang afstande te vervoer! Vital Remains vertel verhaal van ‘n onwaarskynlike held, ‘n groot risiko, prestasie … en liefde.

 

Amos spog egter met ‘n veel langer string publikasies. Skryfkuns was nog altyd daar, in die agtergrond om hom terug te dwing na die sleutelbord. Aanvanklik (soos met alle verslawings) het hy gedink hy kon dit beheer deur ‘n gereelde rubriek vir Runner’s World te skryf. Toe kom die reisartikels vir Leisure Wheels. Teen daardie tyd moes hy geweet het hy sal nie teen dié gewoonte kan skop nie!

 

Hy het op ‘n relatief vroeë ouderdom uit sy uroloog-praktyk afgetree om sy verslawing te voed. Facing Chirurgy With Christ, wat deur Tate in die VSA gepubliseer is, het uit sy pen gevloei. In die boek het hy die angs van pasiënte met lewensbedreigende siektes aangespreek. Hoekom? Gedurende sy tyd as kanker chirurg het hy gevind dat dokters nie aan pasiënte vertel wat hulle nodig het om te hoor nie. As iemand jou vertel dat jy gaan sterf, benodig jy ten minste iets om vas te hou. Dit is nutteloos om in mediese jargon verlore te raak; jy benodig ‘n realistiese en simpatieke benadering wat jy kan verstaan. Die terugvoer oor Facing Chirurgie het hom oortuig om aan te hou om te skryf.

 

Die geleentheid het ontstaan ​​om die persoontlikheid van een van ons ekstremistiese politici te ondersoek en daarmee saam ook die uitdaging om te sien of ‘n gematigde denker (soos Amos) die radikale verstand van Eugene Terre’Blanche kon verstaan! Die resultaat was ‘n memo / biografie wat kort voor sy moord afgehandel is. Hierdie boek verskyn in Afrikaans en is later in Engels vertaal.

 

So, hier is Amos: verlore in die wêreld van woorde en stories. Sy stokperdjie het ‘n passie geword. Met nog twee manuskripte by die uitgewers, het hy besluit om die horison wat deur Amazon en Kindle gestel is, te verken. Met die kundige hulp wat e-Books for Africa bied – Imagine: Africa! is nou beskikbaar. Die teks is deeglik geredigeer om maklike leeswerk te verseker.

 

In April 2013 het EFA 65 Shades of Guilt gepubliseer, ‘n bewegende verhaal van ‘n ouer man en ‘n jong vrou. Alhoewel dit soos ‘n erotiese avontuur lyk, sny die lem veel dieper as dit. En dan, kom in Augustus: Shimmer. Wat is die siel? Waar gaan dit na die dood? Kan dit moord voorkom?

 

Amos woon aan die suidkus van Suid-Afrika waar sy skryfkamer oor die eindelose Indiese Oseaan uitkyk. Vir geselskap het hy ‘n familie meerkatte wat sy oorskietkos herwin, en ‘n fisant met ‘n houding. Hulle leef soos hulle moet: vry om te dwaal in die natuurreservaat waar hy woon. Op ‘n manier is Amos net soos hulle: sy wêreld ken geen grense nie. Wil jy meer weet? Gaan na: http://rolbos.wordpress.com

 

Hettie du Plessis ontvang ‘n kontantprys van Bessie Kriek vir die projek, Gladgebek.

 

‘n Projek wat voorgestel is deur een van Kuruman se lede, Bessie Kriek, is nie net as Sirkel-projek aanvaar nie, maar het ook nasionaal opslae gemaak. Gladgebek was Sirkel Kalahari se projek vir 2017 en die oogmerk was om nuwe opwindende Afrikaanse woorde en gesegdes bymekaar te maak. Die projek is dan ook deur Professor Gerhard van Huyssteen as sub-projek van sy eie Varsgebek aanvaar.

 

VLV Kuruman is aangewys as die tak met die beste bydrae en het ‘n R1000 kontantprys ontvang. Bessie het tydens 9 Mei se vergadering ‘n verdere toekenning gemaak vir die Beste Bydrae deur ‘n individu. Sy het ‘n kontantprys van R500 aan Hettie du Plessis oorhandig. Hettie het meer as 400 woorde ingeskryf vir die Gladgebek-projek.

Sy verwelkom steeds bydraes – Lesers is welkom om unieke Afrikaanse woorde te stuur na diekrieks@gmail.com

 

 

Die blommerangskiktema vir dié vergadering was “Rof en Grof”. Theresa Potgieter en Marinda Stander het met hierdie indrukwekkende skeppings vorendag gekom.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Openbare Sake-groep het vir elkeen ‘n Moedersdagkaartjie met ‘n koffie gegee.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Post a comment

17 − four =