Ons is wat ons eet

 

Ons is wat ons eet

Posted by Natania Schmidt in Acqua Tak, News 07 May 2019

Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Studierigting: Landbou & Tuinbou

Saamroeper: Gail Snyman

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 7 Mei 2019

 

Op die vooraand van die Nasionale Verkiesing het Acqua se 4de takvergadering van die jaar plaasgevind. Toe die jaarprogram vasgestel is, was stemdag glad nie in berekening gebring nie. Die datum van die samekoms is toe maar vervroeg. Die Acqua-vroue wou nie net verantwoordelike burgerskap by die stemlokale gaan uitoefen nie, hulle wou ook meer hoor van verantwoordelike verbruikerskap.

 

Dr. Margot de Kooker is ‘n algemene praktisyn, maar ook, en dis in dié hoedanigheid wat sy gesels het, ‘n kosspeurder. Sy begin by die mitochondria. Daardie deel van ons liggaamselle wat verantwoordelik is vir die opwekking van energie. Die mitochondria  is die selle se bron van krag. Die mito’s is verantwoordelik om die voedingstowwe wat ons inneem om te skakel in energie. Ons inname van voedingstowwe het ‘n direkte impak op hoe die liggaam in die algemeen en die mitochondria in die besonder, energie opwek.

 

Dr. Margot de Kooker

 

Baie groente van alle kleure, ‘n klein bietjie stysel, ‘n matige hoeveelheid proteïene en ‘n bietjie goeie vet is nodig om die liggaam se mitochondria nie net te stimuleer nie, maar ook te vermeerder en optimaal te laat werk.

 

Die mitochondria in die liggaam is die skakels tussen die kos wat jy inneem, die energie wat jy het en die feit dat jy leef.

 

Ons is inderdaad wat ons eet!

 

Volgende aan die beurt was Alhyrian Laue. Hy is die stigter van TRY Ecosystems, ‘n ontwerp- en konsultasiepraktyk. Hy het ten doel om die fokus van die menslike habitat na ‘n regeneratiewe, meer veerkragtige ekonomie, te skuif. Alhyrian huldig die mening dat die manier waarop ons, ons energie, kos, water, skuiling en klere bekom, toenemend besig is om die biosfeer nadelig te beïnvloed. Ons leefstyl fasiliteer die ekonomie. Die ekonomie benadeel die omgewing en die klimaat.

 

Alhyrian Laue

 

Sy werk behels onder andere grondrehabilitasie. Daar is ‘n fyn interaksie en verhouding tussen omgewingsfaktore en die grond waarin voedsel vir mens en dier gekweek of verbou word. Die gehalte van grond is van kardinale belang in mens en dier se voeding. Verbetering van beide se habitat, asook die verbetering van ekosisteme vir (toekomstige) landbouverbruik, is noodsaaklik vir oorlewing.

 

Wie het nou al ooit gedagte gegee aan die grond waarin die patat, wortel of blaarslaai gekweek is, eer dit in jou inkopiewaentjie beland. Na dese sal daar met baie groter omsigtigheid kosaankope gedoen word.

 

 

Dr. Margot is baie betrokke by die etikettering van produkte, sodat die verbruiker ingeligte voedselkeuses kan maak. Keuses wat nie net goed is vir die mitochondria nie, maar noodsaaklik vir ‘n gesonde biosfeer met gesonde lewensprosesse. Daar is ‘n onbetwisbare verband tussen die kos wat jy eet en jou gesondheid.

 

Sy bied ‘n kruidenierstoer, in samewerking met ‘n nasionale winkelgroep, aan. “Shop with Doc”. Dit word op die oomblik slegs plaaslik aangebied, maar daar’s beslis ‘n plan te make, as die verband tussen kos, die mitochondria in jou liggaam en lewe vir jou belangrik is.

 

Al die kospraatjies het reg laat geskied aan die voortreflike ete wat Jeanine Botha, PEGC se sjef, en haar kombuisspan, voorgesit het. Botterskorsiesop met ‘n lemoenskimp en ciabatta is gevolg deur ‘n hoender-florentine kasserol, bedien met slaai. Lekker. Gelukkig ondersteun sy organiese mikroboerderye en pas sy ook verantwoordelike verbruikerskap toe.

 

In die gees van lekker eet is daar terugvoer gegee oor een van Acqua se fondsinsamelingspogings, die jaarlikse jaffelbak. Jaffels in Acqua se hande het in die 10 jaar wat dit gedoen word, epiese proporsies aangeneem. Acqua-lede ken van saamstaan, hard werk, baie gesels, kliphard lag en góéd geld maak! Geld wat nodig is vir die Goedheid & Guns projekte onder die tak se vlerk.

 

MAAR. Daar mag nooit vergeet word dat die opheffing en ontwikkeling van die vrou, as belangrike rolspeler in die huis en gemeenskap, die primêre doel van die Vereniging is nie. VLVK is nié ‘n liefdadigheidsorganisasie nie. Lidmaatskap is wel ‘n platform om kollektief ‘n verskil te maak in die gemeenskap. En dit doen die lede. Dit maak nie saak hoe klein ‘n tak ook al is nie, daar word met groot ywer ‘n voetspoor in die onderskeie gemeenskappe van Kaapland gelos.

 

Acqua help nie net behoeftige oumense met kos, toiletpapier en begrafnispolisse nie. Die tak is ook behulpsaam met kruideniersware vir voedingskemas by twee Laerskole. Daar word hulp bewillig aan‘n tehuis vir bejaardes, waar die bejaardes nie op hulle eie kan woon nie, bydraes ten behoewe van veeartsrekeninge, asook kos vir honger en verwaarloosde diere, is maar ‘n paar van die maniere waarop daar ‘n voetspoor in die PE Metro se gemeenskap gelos word.

 

Koeksisters en koffie het die aand afgesluit.

 

Die middelplasings was, om die minste te sê, indrukwekkend. Dit het miskien nie die aard van die vergadering of die raamwerk van die studierigting versinnebeeld nie, maar . . . Al ooit gehoor van driedimensionele kartonkuns? Acqua se vriend van KANSAfaam, Marius de Vries, het ingestem dat van sy kunswerke as middelplasings gebruik word. Die detail is absoluut verstommend. Daar is (onder andere)twee kleinkinders in Nieu-Seeland op wie ‘n gróót verrassing wag!

 

Post a comment