Ons eie Karoolam

 

Ons eie Karoolam

Posted by VLV in Kleinmond Tak, News 27 Sep 2017

Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Landbou&Tuinbou

Beriggewer: Hermien van Zyl

Datum: 26 September 2017

 

 

Die lede van die Landbou&Tuinbougroep. V.l.n.r. Joyce Botha, Anita Steenkamp, Nelie Ungerer, Hermien van Zyl, Marita Nolte, Marietjie Janse van Vuuren, Brenda Neethling, Elsabè Smit, Essie Groenewald, Alet Fourie en Ria Coetzee, met voor Hendrien Davie en dr. Sarah Erasmus (spreker).

 

Karoolam op die spyskaart!

 

Dr Sarah Erasmus, wat einde 2016 haar doktorsgraad verwerf het met ‘n proefskrif oor navorsing wat sy gedoen het oor die geografiese uniekheid van Karoolamsvleis, was die spreker by die Landbou&Tuinbou-maandvergadering op Kleinmond. Deur haar navorsing kan daar nou wetenskaplik bewys word dat Karoolam se chemiese struktuur en sensoriese eienskappe verskil van ander streke s’n en kan ongegronde aansprake uitgewys word.

 

Dr Sarah Erasmus besig met haar praatjie.

 

Sy het haar baie interessante praatjie toegelig met ‘n power point-aanbieding en flessies rondgestuur met twee voorbeelde (skaapbossie en silwerkaroobossie) van die spesifieke bossies wat die geur aan die vleis verskaf. Sy het beeldmateriaal gewys van skape uit die streke van Frankryk, Engeland, Denemarke en Swede met vleis wat reeds deur die Europese Unie geklassifiseer is en erken word as uniek aan daardie streke. Met die KAROO –meat of origin– -sertifiseringsmerk val Karoolam nou ook in hierdie kategorie van beskermde handelsmerke wat erkenning binne die Europese Unie verkry het. Verbruikers moet uitkyk daarvoor, want dit verhoed dat vleis wat nie kwalifiseer nie, as Karoolam verkoop word. Om te kwalifiseer vir hierdie sertifisering, moet ‘n persoon boer in ‘n streek wat as tipies Karoo beskou word, met die dominante voorkoms van tipiese Karoobossies waarop die skape vir ten minste ses maande moet wei. Ook die slagplase, vervoermaatskappye en kleinhandelaars in die verskaffingsketting moet aan streng reëls en regulasies voldoen. Een van hierdie geakkrediteerde verskaffers is Karusaf van Williston. Dr Erasmus het promosiemateriaal van hulle versprei en lede het gretig lootjies uitgeneem vir ‘n gelukstrekking van ‘n braaipakkie wat Karusaf geborg het. Elsabè Smit was die gelukkige wenner.

 

 

Dr Sarah Erasmus (middel) saam met Cecile Jonkheid (takvoorsitter, links) en Hermien van Zyl (saamroeper vir Landbou&Tuinbou).

 

 

Karoolam is nou erfeniskos en onthoukos soos Mev Balls-blatjang, Ouma-beskuit, biltong en Peppermint Crisp vir ons mense daar vèr.

In aansluiting by Erfenisdag/Braaidag het dr. Erasmus die VLV-lede aangemoedig om met nuwe oë na ons koserfenis te kyk en dit te bewaar. Sy het resepteblaaie wat deur Landbouweekblad se kosredakteur, Arina du Plessis saamgestel is, beskikbaar gestel en die VLV-lede gaan met nuwe geesdrif lamsblad, rolrib en skaapboud gaarmaak. Elke lid is huistoe met ‘n kaartjie van handgemaakte papier met ‘n skapie op, inligting oor suiwer wolprodukte wat by die NWKV Wolhuis op Caledon verkoop word, maar ook met ‘n bruin strikkie wat deur die lede van Landbou&Tuinbou vir elkeen aangesteek is om bewustheid te kweek vir die weerloosheid van boere teen plaasaanvalle en –moorde.

 

 

 

 

 

Skaapvleispasteitjies.

 

 

 

 

Nelie Ungerer skep crepe suzettes vir Marita Nolte. Voor is Dassiesfontein se kaiingbrood.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Om Boomplantmaand te vier, is ‘n Waterpeerboompie (Syzygium guineense), aan Christo Kok, voorsitter van die Fynbosontwikkelingsprojek, oorhandig om by die nuwe aftree-oord te plant.

 

Hendrien Davie oorhandig ‘n Waterpeerboompie aan Christo Kok.

 

 

 

 

Die pragtige uitstalling op die verhoog.

 

Die NWKV Wolhuis op Caledon het ‘n uitstalling gehou van beskikbare wolartikels. Op die foto is ook van die kaartjies wat aan die lede gegee is en die bruin strikkies wat aangesteek is vir bewusmaking van plaasmoorde.

 

Lentetyd is aronskelketyd in die Boland. Kompetisie-inskrywings.

 

 

 Tydens die bestuursverkiesing is Ria Coetzee as die nuwe tesourier verkies. Hier steek voorsitter Cecile Jonkheid vir haar haar balkie aan.

 

Post a comment

3 × 1 =