Om te gee of nie te gee nie

 

Om te gee of nie te gee nie

Posted by VLV in Acqua Tak, News 13 Jul 2017

Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 12 Julie 2017

 

Gee jy of gee jy nie? Kyk jy weg en voel skuldig of vergewis jy jou van die waarheid? Dis presies wat Acqua gedoen het. Die waarheid ingewin oor die haweloses en dwelmverslaafdes wat Port Elizabeth se robotte gebruik om geld te kry vir hulle verslawing.

 

Gary Lookwhy is ‘n gerehabiliteerde dwelmslaaf wat vir amper 15 jaar internasionaal met dwelms gesmokkel het. Hy het tot ander insigte gekom toe hy op die trappe van ‘n plaaslike kerk gewag het om ‘n dwelmtransaksie te volvoer. Die pastoor, aan wie hy onbekend was, het hom by die naam genooi om die kerk in te gaan. Daar het Gary se lewe ‘n ommeswaai  gehad en vandag is hy ‘n volwaardige pastoor wat die Woord van God op straat aan die randeiers bedien.

 

Hy het vir lank op straat gebly en het eerstehandse kennis van die uitdagings en desperaatheid van so ‘n bestaan. Die verrineweerde gesigte by PE se robotte is by die naam aan hom bekend. Hy weet waaraan hulle verslaaf is en hy ken hulle stryd om “skoon” te kom, werk te kry en die lewe op straat vaarwel te roep.

 

Ongelukkig het PE geen instelling, sentrum, huis of inrigting waarheen die mense hulle kan wend om hulp te kry om hul verslawing die hoof te bied nie. Daar is oornagskuilings en plekke waar die mense gehelp word om ‘n ambag te leer, werk te kry, maar geen plek wat hulle help om uit te droog nie. Gelukkig is daar wel mediese praktisyns wie hulle van hulp is, maar die swaarste onus rus op die individu, die verslaafde, se skouers. Daar is tog ook ‘n hele paar suksesverhale. Veral jong mans wat daarin geslaag het om hulle verslawing te bowe te kom en wie nou ook op straat werk om andere van hulp te wees.

 

Die vraag bly egter. Gee jy of kyk jy weg? Help jy of is die drumpel van die afgrond net ‘n paar silwer stukke weg? Die vraag om te gee of nie te gee nie is ‘n morele kwessie sonder klinkklare antwoord. En net die individu kan daaroor besluit. Gary is van mening dat jy tog iets moet gee, as jou hart jou daartoe lei. Sy mening is dat die verslaafde die dood in die gesig staar as hy of sy nie die volgende “hit” kry nie. En dit wen vir Gary en sy span nog ‘n dag en nog ‘n geleentheid om die verslaafde te help en die Lig te laat sien.

 

Die publiek moet egter geen illusies koester oor die rede waarvoor die geld gebedel word nie. In 99% van gevalle sál die geld gebruik word om die volgende “fix” te bekom. Klere, skoene en kos word weer geruil of verkoop vir geld, want die drang na dwelms is soos ‘n wurm in die maag wat nooit ophou knaag nie. Van die robotstaners erken dat hulle vêr meer as ‘n R1000 ‘n dag kry. ‘n Verslaafde sal nooit die robot verlaat as hy of sy nie die minimum van R350, wat nodig is vir hul dwelmgewoonte, gekry het nie.

 

Dwelmmisbruik kom nie net voor by die haweloses en robotstaners nie. Dit kom voor in doodgewone woonbuurte, onder alle vlakke van die samelewing, in ons skole en universiteite, onder gewone tieners wat net pret wil hê en volwassenes wat van beter behoort te weet. Gary raai die dames aan om bedag te wees op radikale veranderinge in hulle kinders. ‘n Kind wat eens netjies was en nou geen persoonlike higiëne handhaaf nie, velirritasies het en leuns vertel, buierig is en die ouer nie in die oë kan kyk nie of ‘n kind wat alle belangstelling in sy gesin, bekende vriendekring en normale aktiwiteite en stokperdjies  verloor het, is ‘n kind wat bes moontlik dwelms gebruik. Senuagtigheid, slapeloosheid, angs en hiperaktiwiteit is ook ‘n paar van die simptome wat dui op die gebruik van hoogs gevaarlike stimulante. So ‘n kind het dringend ingryping en hulp nodig, want breinskade is ‘n gegewe na selfs een keer se dwelmgebruik.

 

Gary Lookwhy het die teenwoordiges baie inligting en baie stof tot nadenke gegee. Maar na al die inligting wat hy gedeel het, is dit nog steeds ‘n morele dilemma en elkeen se persoonlike keuse om te gee of nie te gee nie. Is die vuil geraamte wat by die robot staan dalk deel van die 1% wat jou donasie rég gaan aanwend? Is die mens regtig honger, koud of desperaat? Of is hy of sy ‘n oortuigende leuenaar wat wag vir genoeg geld om onder die bos te gaan inkruip met die dwelm van sy of haar keuse?

 

Kwakkie lyk die prentjie van opvoeding en kultuur. Hier pronk sy saam met Gary Lookwhy.

Post a comment

one × two =