OM NEE TE SÊ VERG MOED EN KRAG

 

OM NEE TE SÊ VERG MOED EN KRAG

Posted by VLV in Hantam Tak, News 27 Aug 2009

HANTAM VLV OPENBARE SAKE VERGADERING

 Janine Brynard doen verslag:

  

Die dames van Hantam VLV het op 31 Julie, besoek afgelê by die Calvinia SAPD. Insp. Jolene du Plessis is die Aangewese Vuurwapenbeampte, wat die hele distrik se vuurwapen aangeleenthede hanteer.  Op 27 Junie vanjaar, het die S.A. Jagtersvereniging ‘n dringende hofaansoek ingedien om die Oorgangsbepaling in die Wet tot niet verklaar te kry.  Hierdie bepaling vereis dat bestaande lisensiehouers hul lisensies moet hernu, en vir ‘n  bevoegdheidsertifikaat moet aansoek doen.  Die tyd wat vir hierdie aansoeke gegee is, het einde Maart 2009 geëindig.  Alhoewel alles op die ys geplaas word totdat die hof uitspraak gelewer het, word alle aansoeke wat ontvang is, steeds geprosesseer en lisensies uitgereik.  Niemand kan met sekerheid sê wat sal gebeur as die uitspraak in guns van die Jagtersvereniging val nie, maar alle eienaars van vuurwapens, wat nié aansoek gedoen het vir hernuwing van lisensies nie, sal hul wapens moet inhandig vir vernietiging, indien die uitspraak in die Polisie se guns val.

 

Insp. Jan du Toit is ‘n Dwelmhondgeleier, wat saam met sy hond, Neil, die probleem van dwelmmisbruik op Calvinia probeer beheer.  Jan verduidelik vir ons wat Neil se opleidingsproses behels het, waarna die lewendige, swart Labrador ons verstom met ‘n paar van sy truuks as hy die dwelms uitsnuffel.  In Calvinia moet hierdie spannetjie veral bontstaan om al die Dagga, Tik en Mandrax uit te roei, terwyl die dwelmsmouse ‘n florerende besigheid bedryf.   Die belangrikste boodskap wat die SAPD aan veral die jongmense daarbuite wil oordra, is dat hoe meer hulle van dwelms weet en watter uitwerking dit op hul liggaam en verstand het, hoe beter sal hulle hulself daarteen kan beskerm.  Dwelms sál jou vernietig, en om NEE te sê daarvoor, vat moed en krag.

 

Dis op súlke uitstappies dat ‘n mens opnuut besef watter groot en belangrike rol die Polisie speel in ons gemeenskap.  Ons salueer al die mans en vrouens van die SAPD, en ons respekteer en waardeer jul onbaatsugtige diens.

Insp. Jan du Toit en Neil

Post a comment

2 × 5 =