Oefening, koekversiering en kos!

 

Oefening, koekversiering en kos!

Posted by VLV in Kuruman Tak, News 31 Jul 2014

Tak: Kuruman

Sirkel: Kalahari

Studierigting: Leefstyl

Beriggewer: Petro Spangenberg

Datum: 30/07/14

 

Op 30 Julie het die Vroue-Landbouverenigingtak op Kuruman ‘n leefstylvergadering gehou onder leiding van saamroeper Lelani van Straten.

 

‘n Treffende opening deur Liza Burger het die groepsgevoel binne die tak versterk na die onlangse afsterwe van 2 lede se eggenote. Monty TerBlanche en Cois Lamprecht is albei onverwags oorlede en laat ‘n groot leemte in diegene naaste aan hulle se harte en in die gemeenskap.

 

Die kleuters van Kalahari Kabouters het vir twee items gesorg en elkeen breed geglimlag toe hulle ‘n verrassingspakkie ontvang het.

Kalahari kabouters na webwerf

Kleuters van Kalahari Kabouters op die foto is voor van links:Jena-rae Fanoe, Zanelle Landy, Gideon v Straten, Danielle v Tonder. Agter van links:Gustav Ekkerd, Dione v Straten, Janco Pieters, Zion Freedman.

 

 

Lizanie wall verklein

Lizanie Wall wat ballet doen, het die lede gewys hoe mens soepelheidsoefeninge kan doen terwyl jy staan en op die telefoon praat of sit, bv. in ‘n vergadering. Met behulp van ‘n stuk rekbare materiaalband kan weerstandsoefeninge gedoen word. Niemand het meer ‘n verskoning nie!

 

Die hoofitem was ‘n demonstrasie van koekversiering deur Retha-Jane Buys. Sy maak die mooiste artikels en vorms uit plastiese versiersel (fondant), wat in alle kleure beskikbaar is of gekleur kan word. Kinderverjaardagkoeke volgens ‘n tema is baie gewild en vir haar baie bevredigend, alhoewel dit uiters tydrowend is weens die skaal en detail daarvan.

 

Liza Burger is ‘n meester met kortpadkos en het gewys hoe om vining ‘n heerlike pizza met Tortillas in jou elektriese toedruk roostertoestel bv. George Foreman s’n te maak. Enige toeknip toebroodjiemaker sal ook gebruik kan word en mens gebruik alles in jou yskas bv. oorskietvleis, kaas, avokadopeer, tamaties ens. Tortillas is die antwoord vir onverwagse gaste!

 

Die vergadering is afgesluit deur ‘n roerende verslag wat Tersia Grobler gelewer het. Sy het vroeër vanjaar skenkings van Kurumanlede en die gemeenskap aan stakingslagoffers by Hartebeespoort gaan oorhandig. Volgens Tersia gaan van die myne gesluit word en baie mense sal ‘n ander heenkome moet vind. Verder beklemtoon sy dat mens altyd trots moet wees op dit wat jy gee, en die aanbieding moet van so ‘n aard wees dat dit die ontvanger sal ophef. Vuil en verslete klere moet liefs weggegooi word. Met ander woorde: gee soos wat jy self graag sal wil ontvang!

Post a comment

seventeen + twenty =