Nuwe museum vir Willowmore en trofee

 

Nuwe museum vir Willowmore en trofee

Posted by VLV in News, Willowmore Tak 27 Aug 2014

 

Sirkel:   Middelland

Tak:  Willowmore

Portefeulje:  Openbare Sake

Beriggewer:   Jackie Barnardt

Datum:   27 Augustus 2014

 

‘n Aantal jare gelede het wyle mnr Sonny Goullee ‘n omvattende versameling aan die Baviaans Munisipaliteit geskenk.  Hy het as ‘n landmeter in Kenia gewerk.  Sonny het ook heelwat Laat-Steentydperk artefakte versamel in Slangkoppies, duskant  Willowmore.  Die Baviaansberge en valleie  was vrugbare ontdekkingsterreine, ook vir fossiele .

 

In die versameling is daar mooi voorbeelde van Trilobiet en ander skulpdiere van die Bokkeveld Groep ongeveer 390 miljoen jaar oud.  Versteende hout, halfedelstene, minerale, skedels, skulpe, bottels, plaas implemente, gereedskap en kameras is net ‘n paar van die noemenswaardige versameling.  Een van die uitstaande stukke in die versameling is ‘n lykswa wat deur die roubeklaers graf toe getrek is.  Nog ‘n unieke stuk is ‘n San-grafsteen met rotskuns versier.

 

willowmore1

mev Hermi Baartman

 

Die Baviaans Toerisme kantoor het die oubiblioteek-vertrek opgeknap, vertoonkaste aangeskaf en mev Hermi Baartman wat oor omvattende museum kennis beskik, genader om hierdie interessante versameling in konteks te plaas.  Die museum sal bekend staan as die Sonny Goullee Museum.

 

Zegna trofee vir beste baal kleinbokkiehare

 

willowmore

Irene Colborne met van die gesogte materiaal, serpe en die trofee

 

Hierdie toekenning is al 7 keer verower deur Billy Colborne van die distrik Willowmore.  Die prys sluit in ‘n reis na Italië en ‘n besoek aan die Casa Zegna, die tuiste van die handelsmerk wat so baie status dra.  Irene, Billy se vrou, het vanjaar weer hierdie voorreg gehad.

 

Geleë in die Italiaanse Alpe lê die klein dorpie,  Trivero,  met Tuscon Villas. Hier het Ermenegildo Zegna klein begin en gou was hy bekend vir sy fyn kwaliteit wol -manspakke en teen die einde van 1930’s het hy 1000 mense in diens gehad.  Vandag is hul ‘n veelsydige maatskappy wat net die beste kwaliteit wol, kleinbokkiehaar, sy, Kasjmier en Vicuna aankoop.

 

Fynheid van die bokhaar (24 – 26 mikron) en wol speel ‘n groot rol en elke jaar borg Zegna ‘n Internasionale toekenning.  Hul koop slegs top kwaliteit in die wêreld aan.  Hierdie produkte word ekstensief gebruik vir die elastisiteit en glans wat gepas is vir die vervaardiging van “permanent press” klere.  Die eerste Zegna winkel is in 1980 in Parys geopen en vandag is daar meer as 300 winkels wêreldwyd.  Hul vervaardig manspakke, dasse, hemde, sportdrag en bykomstighede. Die fabriek vervaardig jaarliks meer as 2 miljoen meter materiaal. ‘n Pak wissel tussen 4000 en 5000 Euro en ‘n hemp kos 800  Euro.  Zegna vervaardig ook pakke vir modehuise soos Gucci en Fendi en ook vir konings, presidente en miljoenêrs.

 

Jy kan jou eie produk met styl en kleur vandag oor die internet bestel.

 

 

Post a comment

fifteen − ten =