Nuwe lewe vir jou huis

 

Nuwe lewe vir jou huis

Posted by VLV in Acqua Tak, News 12 Apr 2018

Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 11 April 2018

 

Jou huis is waar jou hart is. Dit is jou heiligdom, die agtergrond waarteen jou lewe afspeel en daarom is jou huisdekor van kardinale belang. Dit weerspieël tog jou persoonlikheid.

 

Net soos jou lyf partymaal tam raak, so kan jou huisdekor ook ietwat afgerem en tam raak. Met Herfs in die lug en die pragtige kleurespel in die Natuur, voel ‘n mens sommer lus om die tamheid af te skud en nuwe lewe en kleur in jou huis te blaas.

 

Tydens Acqua se laaste samekoms het die tuin aandag geniet. Aprilmaand se Leefstylvergadering het egter die aandag op die binnekant van die huis gefokus. Kundige hulp is gekry van gasspreker en binnenshuis-versierder, Terri-Lee Moorhouse. http://www.terris-interiors.com/

 

 

Sy is een van daai mense wat ‘n natuurlike aanvoeling het om ‘n vertrek funksioneel uit te lê, sodat dit visueel mooi kan lyk. Terri het haar ondervinding van die kreatiewe en tegniese elemente wat nodig is om ‘n vertrek “te laat werk” met die Acqua-lede gedeel. Die kleurskema, verf, gordyne, tekstiele, muurpapier, ligte en lampe, asook die teksture en ameublement werk alles saam om die voorkoms van die vertrek te vorm.

 

Kleur is die perfekte manier om ‘n ruimte te verander en te verlewendig. Kleur kan ingebring word met strooikussings, kunswerke, beligting en/of verf. Om ‘n vertrek of selfs net een aksentmuur te verf,  is die vinnigste manier om so ‘n vertrek ‘n hupstoot te gee. Dit is baie koste-effektief om nét een muur te verf en dit gee ‘n hele nuwe dimensie aan so ‘n vertrek. Dit is belangrik om die uitwerking van ‘n kleur op jou gemoed in gedagte te hou, wanneer jy ‘n kleur kies. Blou bring byvoorbeeld kalmte, terwyl rooi ‘n energieke kleur is, wat opwinding en drama tot ‘n ruimte sal bring. Maak seker die kleur werk nie net met die elemente in die vertrek nie, maar ook met die gevoel wat jy wil skep en baie belangrik, met jou persoonlikheid.

 

‘n Baie bekostigbare manier om ‘n vertrek op te kikker, is met die gebruik van verskillende grootte strooikussings. Dit is ‘n maklike manier om verskillende teksture en kleure in ‘n vertrek te bring.

 

Gee jou lampe ‘n nuwe baadjie met ‘n nuwe skerm in ‘n kleur wat jou dekor komplimenteer. Die tekstuur van die materiaal wat gebruik word, is aanvullend tot die gevoel wat geskep word.’n Kombinasie van vloer- en tafellampe in interessante  vorms kan die atmosfeer van ‘n ruimte aanhelp en dekor aanvul. Ligte, wat saam gegroepeer word, skep ‘n interessante fokuspunt.

 

Dit is’n goeie idee om ontslae te raak van alles wat oortollig is en jou ruimte se energie dreineer, voor jy nuwe lewe in jou dekor blaas. ‘n Mens is geneig om ‘n verskeidenheid van items bymekaar te maak en in  jou huis uit te sit, sonder dat dit nodig is of ‘n doel het. Sulke ongebruikte en dikwels ongeorganiseerde items lei tot die opbou van stagnante energie. Sulke dooie energie het ‘n negatiewe impak op jou bui en jou selfbeeld, volgens ‘n studie deur UCLA. As jy van al die ou, ongebruikte, items ontslae raak, het jy meer  en groter plek om te innoveer en jou ruimte te verlewendig.

 

 

Terri het ‘n verskeidenheid voorbeelde van blindings, tekstiele, strooikussings en dekoritems gebruik om haar PowerPoint-aanbieding toe te lig. Die voor- en na-foto’s van vertrekke wat sy ‘n nuwe voorkoms gegee het, was veral baie indrukwekkend.

 

Die Bestuur was verantwoordelik vir die tafeldekor. Kersstaanders, materiaalstukke en verfbrosjures het nie net by die aand se onderwerp aangesluit nie, maar ook gewys hoe treffend ‘n paar items gebruik kan word om atmosfeer te skep.

 

  

 

Post a comment

17 + one =