NOK hou Sirkeldag op Lady Grey

 

NOK hou Sirkeldag op Lady Grey

Posted by VLV in News, SIRKEL NUUS 20 May 2014

Sirkel: Noord-Oos Kaap

Berrigewer: Marieka Bekker

Portefeulje: Sirkeldag

Datum: 20 Mei 2014

 

Die Blue Pepper restaurant in Lady Grey was nou net die regte plek vir die 45 VLV NOK-dames om ‘n Saterdag saam te kon kuier, gesels, lag en natuurlik heerlik te kon eet. Die verskillende takke se lief en leed is gedeel en diegene wat in Mei verjaar, is lustig toegesing. Drie van Sirkel Cradock se lede het ook saam kom kuier, o.a. Rika Pienaar (Sirkelpresident van Cradock). Henna Botha van Lady Grey het haar 30 jaar kenteken ontvang. Baie geluk aan haar!

Sirkelpresident Antoinette van Pletzen (links) het Henna Botha se kenteken aangesteek.

Aanvanklik het Sirkelpresident Antoinette van Pletzen ‘n  aantal administratiewe sake behandel. Daar is o.a. besluit op ‘n skommeling onder die Sirkelbestuurslede se portefeuljes en Ina Bekker van Ugie is nou Gesondheid-saamroeper, Retha Peens van Queenstown is Hulp-saamroeper vir Kunste en Handvlyt, en Marieka Bekker is saamroeper vir Openbare Sake. Toe was dit tyd vir die dag se hoofdis: Christell Venter, Lenie Fourie en Irma Davel het wenke verskaf vir volgende jaar se kompetisie-artikels op konferensie- sowel as kongresvlak.

Middagete is deur die lede van Lady Grey voorgesit. Elke dame is soos ‘n ware koninklike by haar sitplek bedien met ‘n seekossop as voorgereg, ‘n hoofgereg van hoender en groente, en ‘n gevulde skuimpie as nagereg. Te lekker!

 

Die middag het Rika Pienaar die dames meer inligting verskaf oor die 2015 Kongres wat te Cradock gehou gaan word. Sirkel Cradock en Sirkel NOK is die gasvroue wat verantwoordelik is vir die aanbieding van die kongres, en ongelooflik baie reëlings en die fynste besonderhede is nodig om so ‘n grootskaalse VLV-samekoms glad te laat verloop!

Elke dame is opnuut gevul met idees en kreatiwiteit, asook sommer lus vir die jaar se VLV-bedrywighede wat voorlê.

Post a comment

17 − 6 =