‘n Besoek aan Compione d’Italia

 

‘n Besoek aan Compione d’Italia

Posted by VLV in Brackenfell Tak 02 Oct 2014

Sirkel:  Tygerberg

Tak:  Brackenfell

Beriggewer:  Lettie van Wyk

Datum:  2 Oktober 2014

 

 

brackenfell1

 

 

Brackenfell het op 2 Oktober met die Potpourri-vergadering heerlik gekuier in Campione d’Italia saam met Catrien de Bruin  van Stellenbosch.   Catrien en haar man Philip het vir 11 jaar van tyd tot tyd daar gewoon waar Philip gewerk het.   Campione d’Italia is ‘n Italiaanse dorpie in die suide van Switserland.   Op hierdie klein plattelandse dorpie met sy sterk  Christelike waardes het hulle wonderlike avonture beleef.

 

 

Dit is baie koud daar, maar die warmte van die mense se seëngroet, “Salve” wat oral gehoor word, verwarm die harte.

 

 

brackenfell2

 

 

Catrien en Philip het nooit by groot restaurante gaan eet nie, maar het verkies om liewer na die plaaslike inwoners se eetplekke te gaan, waar niemand ooit weggewys word nie.    Daar is altyd plek vir nog een aan die tafels, en hulle skuif op om vir jou plek te maak.   As jy jou bord kos ontvang, word dit altyd met ‘n seënwens gegee.    Hulle praat baie met handgebare en liggaamstaal.     Hulle maak kos met flair.     Daar word vir jou ‘n borslap gegee om voor jou bors te hang, want hulle wil nie hê jy moet op jou klere mors nie.   Hulle eet dat die sop spat.   Die pizzas is ook baie maal in die kleure van die landsvlag, wit, rooi en groen.    Selfs die blomme word in die kleure van die vlag geplant.

 

 

Die groot meer wat by die dorpie is, gee vir baie mense werk as vissers.   Een maal ‘n jaar word daar ‘n dankfees gehou en dan word daar ook ‘n groot blommekrans op die water gelê as aandenking aan diegene wat hulle lewens in die meer verloor het gedurende die jaar.

 

 

Almal, ongeag van watter werk jy doen, word gelyk behandel.   Die man wat die strate skoonmaak, kuier saam met sy gesinnetjie saam met die res van die gemeenskap, ryk of arm, in die eetplekke.  Daar is nie veel rommel om te verwyder nie, slegs blare om op te vee.   Hulle het baie respek vir senior burgers en ook vir diere.    Die polisieman stop die verkeer sodat die swaan-mamma met haar kleintjies oor die straat kan stap na die restaurant waar hulle gewoonlik hulle krummeltjies kry.   Senior burgers word ook oor die staat begelei.

 

 

Die kerke staan altyd oop, beskikbaar om in te gaan om te bid of ‘n kers op te steek.   Daar is ook altyd orrelspel in die kerke.   Daar word baie gratis musiekkonserte aangebied.     Met Paasfees en Hemelvaart word daar orals groot plakkate opgesit  “JESUS LEEF” en “JESUS HET WAARLIK OPGESTAAN”

 

 

Hulle trek baie modieus in ontwerpersklere aan.    Baie maal sien jy dat die mense aantrek om by hul hond se kleure te pas.   Hulle dra hul klere net een seisoen, daarna word dit netjies verpak en in dromme  wat langs die strate is, geplaas en word versprei vir liefdadigheid.   Catrien het in Suid Afrika by ‘n tweedehandse winkel van die tipiese klere gesien wat daar gedra word.    Daar is geen bedelaars in die dorp nie.

 

 

brackenfell3

 

 

Catrien en Philip het twee pragtige boeke saamgestel met die mooiste fotos, e-posse en korrespondensie wat tussen hulle en hul vriende en familie in Suid-Afrika gevoer is, wat ‘n totale oorsig gee van hulle lewe en verblyf in Campione ‘d Italia.

 

 

Wat ‘n genoeglike, leersame oggend het die dames nie beleef nie!

 

 

brackenfell

 

 

Na afloop van ons vergadering het ‘n paar van Brackenfell bestuurslede die Paarlskool gaan besoek en kombersies en speelgoed wat gemaak is, gaan aflewer.   Dit het kinderhartjies verbly en gaan lyfies lekker warm maak.

 

Post a comment

eleven − 8 =