“ My nooi is in ‘n nartjie, my ouma in kaneel…………..”

 

“ My nooi is in ‘n nartjie, my ouma in kaneel…………..”

Posted by VLV in News, Villiersdorp Tak 13 May 2014

Sirkel: Overberg

Tak: Villiersdorp

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer:Hermien Van Zyl

Datum: 13 Mei 2014

 

Onwillekeurig het hierdie reël uit die bekende “Sproeireën “ van D.J. Opperman by ‘n mens opgekom tydens die Leefstylvergadering van die VLV-tak Villiersdorp op 13 Mei – en jy was lus en voeg by “My pa is in braaivleisspesery”.

 

Pieter van Zyl, besturende direkteur/eienaar van Walker Bay Speserye, het die wonder van speserye aan die lede en gaste bekend gestel met ‘n omvattende uitstalling van ‘n groot verskeidenheid suiwer speserye vir fynproewer-Kokkedore (Walker Bay was die speseryeborg vir die eerste reeks van hierdie gewilde kookprogram op Kyk-net) en speserymengsels en braaisoute vir potjiekosmakers en braaiers. Elke vrou is ook verras met ‘n geskenkpakkie kerrie en resepte vir ‘n Indiese maaltyd vir ses persone. Dis egter slegs ‘n voorbeeld uit die gesogte reeks kerries waarvoor Walker Bay bekend is.

Piet van Zyl saam met Johanni Barnard, Villiersdorp se taksameroeper vir Leefstyl by die vertoonrakke met speserye.

 

Hierdie oud-skolier van die De Villiers Graaff-skole op Villiersdorp het die VLV-lede van sy tuisdorp kom toespreek oor die nuwe vereistes wat die Verbruikerswet stel t.o.v. inligting wat op voedseletikette aangebring moet word. Hy het die dames aangemoedig om noukeurig te kyk na wat vervaardigers op speseryhouers se etikette verklaar, soos die gewig wat in gram moet wees, nie in milliliter nie, want al het die houer ‘n sekere inhoudsmaat, sal ‘n braaisout wat daarin geplaas word, tog meer weeg as bv. gemengde kruie. Toegevoegde MSG(monosodium glutamate), wat ‘n geurversterker (flavour enhancer) is, moet ook verklaar word, want dit word chemies bygevoeg en daar is verdoemende bewyse dat dit onder andere kankerwekkend is en hiperaktiwiteit by kinders verhoog. Daar is egter ook vele ander newe-effekte. Chemiese kleur- en/of preserveermiddels wat bygevoeg word, moet aangedui word asook verdunningsmiddels soos mieliemeel of semels. Ook of dit radurised is al dan nie, m.a.w. of onsuiwerhede deur bestraling verwyder is, is nog iets waarna ‘n kritiese verbruiker moet oplet.

 

Van Zyl kon met trots aan die toehoorders bevestig dat Walker Bay Speserye aan al hierdie vereistes voldoen – selfs die lae koste reekse soos die gewilde tubs boet niks in aan smaak  nie, omdat dit gewoonlik ‘n goedkoper verpakking met die toegelate byvoeging van verdunningsmiddels is, terwyl ‘n speserymeultjie met suiwer heel peperkorrels, vanweë die meganisme, duurder sal wees. Dis slegs as jy te min egte speserye by die braaisout of  speseryemengsel voeg, dat jy die geur chemies moet versterk deur MSG – ‘n praktyk waarteen Walker Bay vanweë die maatskappy se sosiale verantwoordelikheid, sterk standpunt inneem. Daarbenewens beteken non-radurised, dat spesery-aankope gedoen word by verskaffers wat van stoomsterilisasie gebruik maak om onsuiwerhede te verwyder, nie bestraling nie.

 

Walker Bay bied ‘n produk wat aan al die kieskeurige, ingeligte verbruiker se vereistes voldoen en die gemoderniseerde fabriek in Kuilsrivier spog bykomend ook met die gesogte HACCP-akkreditasie vir voedselveiligheid.

By dieselfde geleentheid het die tak ‘n 60-jaar lidmaatskapknopie aan mev Elza Smuts oorhandig. Sirkelpresident Hermien van Zyl het gesê sy beskou dit as ‘n eer om die knopie vir tannie Elza aan te steek, aangesien hulle verbintenis al oor meer as 50 jaar strek. Sy was ‘n graad 11-leerder en saam met haar klasmaats besig met die reëlings vir die matriekafskeid toe tannie Elza as pasgetroude jong vrou op Villiersdorp beland en dadelik haar kuns- en dramatalent ingespan het om die leerders te help met hulle voorbereidings. Toe was sy al ‘n gesoute SAVLU-lid en het ook haar gewig by die VLV ingegooi, waar sy tot onlangs nog op die bestuur gedien het as sameroeper vir Kunste & Handvlyt.

Post a comment

fourteen − four =