Museum Besoek

 

Museum Besoek

Posted by VLV in Caledon Tak 06 Aug 2015

Sirkel:  Overberg

Tak:  Caledon

Portefeulje:  Openbare Sake

Beriggewer:  Yvonne Pretorius

Datum:  6 Augustus 2015

 

 

Caledon VLV-tak, met Retha Skein as Voorsitter, het hul Openbare Sake-vergadering op 6 Augustus 2015 gehou in die boonste saal van die Vrymesselaarslosie te Konstitusiestraat 16, Caledon.   Die Vrymesselaarslosie, opgerig in 1917, is aanvanklik net gebruik as administratiewe sentrum en bergruimte vir die museum se versameling. Vandag is dit egter ‘n integrale deel van die Caledon Museum met interessante uitstallings.   Mnr. Leon Vorster is tans die museumbestuurder  en het op ‘n baie interessante wyse die geskiedenis en ander gebeure in die Museum aan die dames meegedeel.

 

 

vlv 003

 

 

Die Caledon Museum is op 5 Mei 1970 deur ‘n klompie vriende gestig en op 25 Julie 1972 tot ‘n Provinsie-ondersteunde Museum verklaar.   Die museum se deure open egter eers amptelik in 1973.    Die huismuseum, ook te Konstitusiestraat (11), Caledon, dateer uit ongeveer 1830 en is in ongeveer 1890 gerestoureer.

 

 

‘n Ou Ohlson’s– bierbottel van 1921/22 is deur die huidige museumbestuurder verlede jaar in ‘n “geheime gang” in die kelderverdieping (Kerker of Donkerkamer) van die Losie-museum ontdek, tesame met ‘n sementsak (vervaardig deur Kohler Packaging in Durban – tans deel van die NAM-pak groep met hulle hoofkantoor in Johannesburg). Die sementsak was nog deels gevul met sement wat vervaardig is deur Portland Sement in Riebeeck-Kasteel (tans PPC Sement in die “aangrensende” Riebeeck-Wes-omgewing). Die sak het ‘n embleem met ‘n bok-kop op gehad. Dit het onmiddellik vir PPC ‘n “raaisel” geskep, aangesien die meerderheid van hulle sakke met olifantkoppe gemerk was. Na ‘n bietjie navorsing deur PPC-Sement is ontdek dat sakke wel gedurende 1974/75 met bok-koppe gestempel was. Dit het dan ook onmiddellik die sak vir die museum gedateer. Dit is moontlik in die geheime gang “agtergelaat of versteek” tydens moontlike aanbouings- of opknappingswerk aan die Vrymesselaarslosie gedurende 1974/75.

 

 

Die Ohlson’s-bierbottel is ook moontlik “agtergelaat of versteek” deur ‘n werker wat daar ‘n “geheime” drankie geniet het tydens die finale inrigting van die Vrymesselaarslosie vanaf 1917 tot c.1921/22. Ons sal ongelukkig nooit die presiese rede weet nie en kan dus maar net verder hieroor “gis.”

 

 

Wat verder interessant is, is dat daar ook “kisplankies” van ‘n ou blomkissie – waarin die blomme vir die jaarlikse Veldblommeskoue vervoer is – na vore gekom het uit presies dieselfde tydperk as die Ohlson’s-bierbottel (1921/22).     Die Caledon Museum beeld die sosiale geskiedenis van Caledon uit – van sy ontstaan tot op hede.

 

 

Die museum het ook foto’s en inligting beskikbaar gestel vir ‘n “tydlyn” oor Caledon se geskiedenis wat by die Victoria Mall in Caledon aangebring is.

 

 

vlv 009

 

 

‘n Baie suksesvolle skool-uitstalling, waaraan vier van Caledon se plaaslike skole in die dorp deelgeneem het, is ook tydens die Desember-skoolvakansie van 2014/15 in die Losie-museum aangebied. Die museum beoog dan ook om hierdie tipe uitstalling in die toekoms te herhaal.

 

 

Die museum is tans deel van ‘n Kinderkuns-uitstalling in samewerking met De Geheime Botrivier Gallery, die Botrivier Hotel, Caledon Toerisme,  die Compacta- Gemeenskapskoerant en lede van die plaaslike tak van die Onderwysdepartement.

 

 

vlv 010

 

 

Verdere interessante aktiwiteite word egter ook vir die jaar beplan en sal van tyd tot tyd geadverteer word.

 

 

vlv 013

 

 

Daar word ook tans aandag geskenk aan die moontlike herlewing van die historiese wandeltogte deur Caledon se middedorp.

Post a comment

13 − 4 =