Min mense onaangeraak deur kanker

 

Min mense onaangeraak deur kanker

Posted by VLV in News, Victoria-Wes 22 Jun 2014

Tak: Victoria-wes
Sirkel: Noord-Karoo
Studierigting: Gesondheid
Beriggewer: Elize Perrin
Datum: 21 Junie 2014

Ten spyte van die koue, het die VLV-dames ‘n gesellige KANSA-tee op 21 Junie in die kerksaal aangebied.

Met aankoms het elke gas ‘n heerlike sjokoladedrankie by die deur ontvang. By elke sitplek was ‘n resep vir room wat aangewend kan word vir wintershande. Dit is as volg: een potjie Vaseline; een klein houer babapoeier;  een potjie Camphor room; een botteltjie gliserien. Meng alles goed. ‘n Paar spuite lekkerruik room kan bygevoeg word, indien verkies.

Na die verwelkoming het  Eduard Daniels, ‘n ou bekende by die VLV, die verrigtinge met ‘n geestelike lied geopen. Me Meriel Hugo het ‘n kers  namens al die kankeroorwinnaars (Cancer survivors) opgesteek, terwyl Eduard Daniels Amazing Grace gesing het.

Meriel Hugo steek ‘n kers aan vir al die kankeroorwinnaars.

Meriel Hugo steek ‘n kers aan vir al die kankeroorwinnaars.

Die KANSA-verteenwoordiger van Beaufort-Wes, mnr. Marius de Vries, is hierna aan die woord gestel. Hy het daarop gewys dat meer mense aan kanker sterf as aan Vigs en ander verwante siektes. Kanker ken nie kleur nie en kom by alle bevolkingsgroepe voor. Mnr. De Vries het die gaste daarop gewys dat dit noodsaaklik is om gereeld vir ondersoeke te gaan. Indien kanker vroeg opgespoor word, kan dit genees word. Die robot eetplan word aanbeveel. Dit is rooi, groen en oranje/geel vrugte of groente. Dis belangrik dat die binnekant van die vrug/groente een van bogenoemde kleure is: nie noodwendig die buitekant nie. Rooi en groen appels maak dus nie regtig deel van die eetplan uit nie, aangesien die binnekant wit is.

Elke dame het ‘n boekmerkie ontvang met die verskillende kleure kankerstrikkies daarop. Elke strikkie verteenwoordig ‘n soort kanker. Mnr. De Vries het versoek  dat almal wat met kanker gediagnoseer is, moet opstaan. Daarna moes almal wat lewensmaats, ouers, grootouers of kinders deur kanker verloor het, ook opstaan. Slegs enkeles het bly sit: ‘n duidelike teken dat kanker ons almal raak.

Kaartjies vir ‘n gelukspakkie is verkoop @ R5 per kaartjie. Die pakkie is deur me. Sarina Bester gewen.  Alle fondse van die dag is aan KANSA geskenk.

Post a comment

three × two =